Share

Skaakmat vir SA Goud Ing.

Die situasie is frustrerend, om dit sag uit te druk. Die goudprys het deur die vlak van $1 500 per ons gebreek, maar die pryse van goudaandele daal oral. Veral SA goudaandele onderpresteer knaend.

 “SA goudaandele het rekordlae waardasies relatief tot die goudprys. Daar is ’n beduidende politieke diskonto, maar dit weerspieël ook die swak (of geen) winsgewendheid van die SA batebasis oor die afgelope tien jaar,” sê Leon Esterhuizen, ’n ontleder van RBC Capital Markets (RBCCM).

Dit is weinig troos dat SA goudprodusente hulle vir ’n verandering in goeie geselskap bevind.

Neem byvoorbeeld die Kanadese swaargewig Kinross Gold. Sy aandeelprys het met 25% gedaal sedert hy die junior goudmynmaatskappy Redback Mining in 2010 vir K$7,4 miljard gekoop het.

Selfs die aandele van die magtige Barrick – die grootste goudprodusent ter wêreld – het met 12% verswak nadat hy op 25 April planne aangekondig het om die kopermynmaatskappy Equinox vir K$7,3 miljard te koop.

Die goudghoeroe Martin Murenbeeld van Dundee Wealth Economics verklaar dit soos volg: “Die bestuur slaag nie altyd daarin om hoër goudpryse in ’n groter wins vir die aandeelhouer om te skakel nie. Goudmynbou is energie-intensief: wanneer energiepryse minstens net so vinnig soos goudpryse en die koste van ander materiaal styg, sal die ‘marges’ wat ’n belegger verwag wanneer goudpryse styg, nie die ‘marges’ wees wat goudmynmaatskappye sal behaal nie. Dit skep die moontlikheid van teleurstelling vir beleggers.”

Mark Bristow, uitgesproke uitvoerende hoof van Randgold Resources, stel dit heelwat sterker. Hy reken beleggers maak beswaar teen die groot premies wat vir middelmatige bates betaal word.

Hy sê groepe moet onbenutte kontant aan aandeelhouers uitbetaal eerder as om transaksies te sluit wat nie waarde vir die onderneming skep nie.

“Die Equinox-transaksie is verwarrend. Barrick het in 2010 besluit om uit Afrika pad te gee deur al sy Tanzaniese bates in die afsonderlik genoteerde African Barrick te plaas. Maar nou koop hy ’n kopermaatskappy in Zambië,” sê Bristow.

Radikale korporatiewe aksie is nie ’n wondermiddel nie, maar dis wat Esterhuizen AngloGold Ashanti aanraai om te doen om sy beleggingsgradering te verhoog.

In ’n belangrike navorsingsverslag wat op 20 April gepubliseer is, meld hy dat AngloGold óf Gold Fields óf Harmony moet oorneem en dan sy bedrywighede in afsonderlike SA en buitelandse instrumente verdeel.

Dit sal onvermydelik lei tot ’n groot-skaalse herstrukturering van wat van SA se goudmynbedryf oorbly. Die bedryf het die afgelope jare baie moeilike omstandighede beleef en tot die vierde plek onder die goudproduserende lande teruggesak. Dis natuurlik niks nuuts nie. Dis die veelbesproke “einde-van-die-pad”-scenario vir die SA goudsektor.

Steve Shepherd en Allan Cooke, ontleders van JP Morgan Cazenove, het in Junie 2008 ’n verslag oor dié onderwerp gepubliseer met die titel “Buy one, get one almost free – SA assets attracting rock bottom valuations – something’s got to change”.

Hulle het in Maart 2010 na dié onderwerp teruggekeer met ’n verslag wat spesifiek op Gold Fields gemik is, “Oil & water – time to repackage”. Daarin beveel hulle aan dat Gold Fields sy SA en buitelandse bedrywighede verdeel.

Ná die publikasie van dié verslag het Nick Holland, Gold Fields se uitvoerende hoof, bevestig dat sy groep “samesprekings en gesprekke op hoë vlak” met AngloGold gevoer het oor ’n moontlike samevoeging van hul SA bedrywighede. Holland het toe beklemtoon dat dié samesprekings geen substantiewe of formele gevolge gehad het nie.

Sven Lunsche, Gold Fields se hoof van beleggersverhoudings, sê in reaksie op ’n versoek om ’n mening te lug oor die jongste RBCCM-verslag die groep “weier om op sulke markbespiegeling kommentaar te lewer”.

Dis duidelik dat ontleders en mynbase diep verdeeld is oor of sulke radikale optrede ooit sal plaasvind. Hulle noem onder meer die probleem van “ego’s” wat betrokke is.

“Die logiesste kombinasie is AngloGold en Gold Fields, maar albei se myne maak ’n wins en ek verwag nie dit sal gebeur nie,” sê David Davis, ’n ontleder van SBG Securities.

’n Toonaangewende goudontleder wat nie sy naam genoem wil hê nie, sê: “Jy kan dit regverdig en dit moet vroeër eerder as later gebeur, want hoe langer AngloGold dit uitstel, hoe duurder sal Harmony se aandele word wanneer beleggers die waarde van Wafi-Golpu begryp.”

Bernard Swanepoel, uitvoerende hoof van Village Main Reef, reken daar is regverdiging vir konsolidasie in die bedryf maar hy is baie pessimisties oor die waar-skynlikheid dat dit regtig sal gebeur. “Dis baie sinvol, maar ek sal nie een rand daarop waag dat dit sal gebeur nie. Ek het mos geprobeer, nie waar nie?”

Dis ’n verwysing na die mislukte vyandige aanbod vir Gold Fields wat Swanepoel in 2004 gedoen het toe hy nog hoof van Harmony was.

Maar Swanepoel reken ook die fundamentele saketoestande waarmee SA myne te kampe het, het sedertdien baie verander. Dit maak dit baie moeiliker om selfs ’n “vriendskaplike” samesmelting deur te voer. “Die goeie ou dae is verby,” sê hy. “Daar is nou verskeie belangrike onbekende faktore wat in aanmerking geneem moet word, insluitend die oordrag van mynregte en al die omgewingskundige en mensverwante laste. Die omgewingskundige en mensverwante laste maak die waardasie van mynboubates baie moeilik. So ’n transaksie kan onnosel wees as jou berekening van dié faktore verkeerd is. Dit sal vir ’n ‘bodemvreter’ ’n uitdaging wees om mynboubates oor te neem tensy daar duidelikheid oor dié laste is.”

“Bodemvreters” is die term wat gebruik word vir kleiner goudmaatskappye wat myne van laer gehalte wil verkry wat die groot produsente nie meer wil hê nie.

Harmony was op sy dag die groot bodemvreter, en die belangrikste onlangse voorbeeld is Simmer and Jack Mines (Simmers).

Dié tyd verlede jaar het sowel Holland as Mark Cutifani, AngloGold se uitvoerende hoof, te kenne gegee dat hul oorheersende strategieë is om die probleem met hul mynbougroepe reg te stel. Albei het die afgelope jaar baie vermag.

Hulle is egter waarskynlik bekommerd omdat aandeelpryse so min gereageer het op die stygende goudprys en hul beter fundamentele faktore.

Dit plaas hulle in ’n swakker posisie as hul hoër gegradeerde buitelandse mededingers wat die insameling van geld en die sluiting van transaksies met aandele betref.

Cutifani bestempel Esterhuizen se verslag as “markbespiegeling” waaroor hy hom nie wil uitlaat nie. Maar hy voeg by: “Die onderwerp word dikwels deur aandeelhouers van alle groottes geopper, en dit kry gewoonlik meer aandag met elke spekulatiewe verslag.”

Esterhuizen sê “konsolidasie of herreëling in die bedryf is na ons mening nou ’n voldonge feit. Al drie die grotes belowe goeie groei in die nabye toekoms – ons reken daar is geen beter tyd om op te tree as nou nie.”

Sy opsomming van die situasie waarvoor die SA goudmyne te staan kom: “Die land word nou wêreldwyd as ’n nievriendelike mynboubestemming beskou.”

Van die redes is “onnodige kompli-kasies met swart bemagtiging, ernstige onsekerheid oor die beskikbaarheid van elektrisiteit; voortdurende sprake van nasionalisering; voortgesette arbeidsgeskille; en die uitstaande kwessies oor mynregte”.

Cutifani sonder die debat oor nasionalisering uit as ’n “persepsieprobleem vir beleggers”. Hy sê “ondanks die sterk teenkanting van ons regering teen nasionalisering op die hoogste vlak kry dié kwessie baie lugtyd, en die spoedige beslegting daarvan is uiters wenslik om die sektor se gradering te verbeter”.

Esterhuizen wys daarop dat al die groot SA goudmyngroepe die SA diskonto wil uitskakel deur hul buitelandse produksiebasisse aggressief uit te brei. Maar die krimpende SA blootstelling is steeds daar en belemmer deurgaans pogings om hoër waardasieveelvoude te behaal.

Hy reken AngloGold is in die beste posisie om die situasie te verander.

“Volgens ons syfers maak ’n samesmelting met Harmony ietwat meer sin, maar ’n kombinasie met Gold Fields is byna ewe aantreklik. Samesmelting met Gold Fields kan ’n groeivoertuig in SA en internasionaal skep, want albei is swaargewigte wat grootte betref.

“Die samevoeging van AngloGold se kontantgenererende SA bates met Gold Fields se SA bates sal na ons mening ook positief wees. Dit sal die vereiste kapitaal verskaf om die ontwikkeling van die voortgesette uitbreiding by South Deep af te handel en dalk selfs die topproduksiebestek tot meer as ’n miljoen onse per jaar te verhoog.

“Die geprojekteerde groei van ’n saamgevoegde AngloGold en Harmony is effens beter as dié van AngloGold en Gold Fields. Hoewel só ’n samevoeging natuurlik met ietwat groter risiko gepaardgaan – gesien Harmony se swak vertoning oor die afgelope tien jaar – weerspieël dit nog nie ten volle wat Wafi-Golpu besig is om te word nie.”

Die groot Australiese goudgroep Newcrest – wat Harmony se 50/50-vennoot in ’n onderneming in die Wafi-Golpu-goud/koperprojek in Papoea-Nieu-Guinee is – het onlangs ’n teiken van 40 miljoen onse goud en 15 miljoen ton koper gestel vir die grootte van die afsetting wat altesame 130 miljoen “goudekwivalente” onse behels.

Esterhuizen dink ook sulke korporatiewe aksie kan beduidende deurdragevolge in SA hê.

“Die gekombineerde SA groep kan sy beleggingsgradering verder verbeter deur van sy meer marginale bates aan die bodemvreters te verkoop,” sê hy.

As moontlike kandidate hiervoor identifiseer hy Gold Fields se Beatrix-myn en selfs Kloof-Driefontein, asook Harmony se Evander- en Vrystaat-bedrywighede.

Die nuwe SA goudgroep kan gebruik word om groei in die res van Afrika na te streef. Dit is die strategie met die skepping van African Barrick.

Hy sê: “Hou in gedagte dat SA net sowat 7% van die wêreld se jaarlikse goudproduksie oplewer, en dit daal steeds. Dié batebasis moet so geposisioneer word dat hy nogmaals – dalk vir die laaste keer – ’n sterk genoeg wins- en kontantvloei kan pomp om ’n nuwe grondslag te kry waarop hy kan voortgaan – heel waarskynlik in die res van Afrika terwyl SA steeds as die administratiewe en finansiële naaf gebruik word.”

GOUDLEERLINGE

Die Harmony-skool

Daar is veral vier “bodemvreters” wat voordeel kan trek uit ’n radikale herstrukturering van die SA goudmynbedryf as die

 “einde-van-die-pad”-scenario werklikheid sou word.

Hulle is Village Main Reef (nou die eienaar van Simmer and Jack Mines), Gold One International, Pan African Resources en DRDGold, afhangende van wat hy met die Blyvooruitzichtmyn gaan maak.

Dis nie verbasend nie dat drie van dié groepe gelei word deur uitvoerende hoofde wat oudleerlinge van die Harmony-“mynskool” is, want dit was Harmony wat baanbrekerswerk met dié bepaalde mynbousakemodel gedoen het.

Bernard Swanepoel, Village se uitvoerende hoof, was uitvoerende hoof van Harmony in sy bloeityd voor die mislukte aanbod vir Gold Fields. Die grootste deel van die tyd toe hy hoof van Harmony was, was sy “Mnr. Regruk” – die man wat hy aangestel het om nuut verkreë myne reg te ruk – Neal Froneman, wat nou uitvoerende hoof van Gold One is.

Een van dié myne was Evander, waar Pan African se uitvoerende hoof, Jan Nelson, vir Froneman gewerk het as ’n senior geoloog en later bestuurder van mineraal-hulpbronne.

Niel Pretorius, DRDGold se uitvoerende hoof, is eintlik as prokureur opgelei maar die maatskappy wat hy bestuur, het – soos Harmony – voortgespruit uit Randgold toe dié in die middel 1990’s deur Peter Flack geherstruktureer is.

Swanepoel het sy nuwe mynboubenadering “die Harmony-manier” genoem. Dit het gefokus op die “uitsny van die vet” in die bedrywighede deur meedoënlose kostebesnoeiing, die verhoging van die herwinningsgraad en minder bestuurslae.

Dit het gewerk – altans vir ‘n paar jaar – omdat daar baie vet in die ou SA mynboustelsel was en omdat toestande aanvanklik gunstig was met ’n stygende goudprys weens ’n verswakkende rand.

Harmony en DRDGold se aandeelpryse het skouspelagtig gestyg en toe ewe skou-spelagtig in duie gestort. Redes hiervoor was dat die sterker rand inkomste geknou het terwyl bedryfskostedruk toegeneem het. Die harde werklikheid is dat kostebesnoeiing op ’n myn net tot ’n sekere punt werk. Daarna begin jy die onderneming benadeel.

Dit is onvermydelik dat besnoeiings aan ontwikkelingskapitaal – die geld wat nodig is om nuwe seksies oop te stel vir ontginning – later die bestuur aan die hakskeen byt met laer produksiekoerse.

Dié verskynsel word gewoonlik in kwartaalverslae genoem onder die eufemisme “gebrek aan mynbou-aanpasbaarheid”. Dié myne is per slot van rekening marginale bedrywighede, wat beteken dat hulle laer as gemiddelde grade het tesame met hoër as gemiddelde bedryfskoste, en dis hoekom hul oorspronklike eienaars van hulle ontslae wou raak.

Hulle word deurgaans na aan die rand van die afgrond bedryf, en niks het verander nie, te oordeel na onlangse kommentaar deur Pretorius oor die toekoms van Blyvoor.

Die goudmynbedryf begin binnekort met loononderhandelings; Pretorius het pas gewaarsku dat uitgerekte stakings die einde van Blyvoor sal beteken. “Ons het dit aan die vakbonde duidelik gemaak dat die dag waarop Blyvoor se werkmag met ’n uitgerekte staking begin, die dag sal wees waarop hulle in effek uit hul werk bedank sonder ’n afleggingspakket,” sê Pretorius.

Desondanks lyk dit of SA nog ’n ronde van dié speletjie kan verwag as die randgoudprys – nou weer bo R330 000 per kilogram – aanhou styg.

DRDGold het Blyvoor pas te koop aangebied, maar Pretorius maak dit duidelik dat die myn se toekoms positief geraak kan word as hy sommige bates van sy bure kan verkry. Dit kan Gold Fields se Kloof/Driefontein-kompleks en AngloGold se Savukamyn insluit.

Froneman en Swanepoel het albei al ver gevorder om ouer mynboubates in te palm wat hulle reken iets mee gedoen kan word.

Gold One betaal $250 miljoen om Rand Uranium te koop wat die eienaar is van die Cooke 3-hoop met hoë uraangraad naby Randfontein, maar ook die werkende Cooke 1-, 2- en 3-skagte, wat in die jaar tot einde Junie 2010 sowat 160 000 onse goud geproduseer het.

Froneman reken Gold One is nou in ’n goeie posisie om ’n groot rol te speel in die konsolidasie van die SA goudsektor, wat na sy mening moet gebeur.

“Elke maatskappy gaan deur ’n moeilike eerste fase, maar Gold One is nou klaar daarmee. Ons het die afgelope paar jaar deurgaans gesê daar is min wat ons kan doen totdat ons aandeelprys ’n heraanslag van die mark kry. Dit het nou gebeur, en jy sien ons het baie vinnig beweeg. Dit gaan ook nie net oor die verkryging van ou bates nie. Ons is bereid om nuwe myne te bou met nuwe benaderings om by die ertsliggame te kom.”

Froneman wil nie sê watter bates hy in die oog het nie, maar hy sê Gold One is nie bereid om die regtig diep myne te oorweeg nie. “Dis iets wat ons nie gaan doen nie. Dié myne werk nie elders ter wêreld nie, en ek dink daar is ander maatskappye in SA wat dit beter as ons kan bedryf.”

Die redes vir sy versigtigheid is voor die hand liggend. Simmers het honderdmiljoene rande in Buffelsfontein gepomp sedert hy die myn in 2005 gekoop het, maar Buffels verloor steeds geld. Simmers het ook die nabygeleë Tau Lekoa-myn van AngloGold gekoop. Swanepoel het onlangs opgemerk dat Tau Lekoa swakker vaar onder Simmers se bestuur as toe dit deur AngloGold bestuur is.

Daar is talle ander voorbeelde van mynmaatskappye wat probleme ondervind het toe hulle ou, diep SA skagte probeer regruk het. Dink maar aan Pamodzi Gold, Aurora, Central Rand Gold en Thistle Mining.

Swanepoel sê hy het sy hande vol met die bestuur van die bates wat Village reeds verkry het, wat insluit die Consolidated Murchison-goud/antimoonmyn en Lesego Platinum asook die twee Simmersmyne.

“Ons het genoeg om ons vir die volgende twee of drie jaar besig te hou. Daarna sal ons weer kyk wat daar te doen is,” sê hy.

Pan African se strategie is blykbaar om ’n breër edelmetaalgroep te word deur na platinum uit te brei om sy Barberton-goudmynbedrywighede te diversifiseer. Nelson beklemtoon dat, ongeag wat Pan African in die toekoms doen, hy myne van dieper as twee kilometer sal vermy.

“Ons kyk na ’n paar interessante nuwe goud- en platinumgeleenthede, maar dit neem tyd om sulke projekte deeglik te evalueer. Ons sal ons nie laat aanjaag nie, want ons gaan ons wins oor die volgende 18 tot 24 maande verdubbel deur organiese groei van ons bedrywighede – sonder om ons aandeelhouers vir geld te vra.”

Volgens markbronne gaan Pan African se langertermyn-strategie waarskynlik sterk beïnvloed word deur dié van sy sterk SEB-vennoot, Cyril Ramaphosa se Shanduka Resources.

Die skrywer het aandele in Pan African, Harmony en Gold Fields.

 
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Rand - Dollar
18.94
-0.2%
Rand - Pound
23.91
-0.1%
Rand - Euro
20.43
+0.2%
Rand - Aus dollar
12.34
+0.1%
Rand - Yen
0.13
-0.2%
Platinum
910.50
+1.5%
Palladium
1,011.50
+1.0%
Gold
2,221.35
+1.2%
Silver
24.87
+0.9%
Brent-ruolie
86.09
-0.2%
Top 40
68,346
+1.0%
All Share
74,536
+0.8%
Resource 10
57,251
+2.8%
Industrial 25
103,936
+0.6%
Financial 15
16,502
-0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Company Snapshot
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE
Government tenders

Find public sector tender opportunities in South Africa here.

Government tenders
This portal provides access to information on all tenders made by all public sector organisations in all spheres of government.
Browse tenders