Share

SA se grootste flaters

In die eerste dekade van die 21ste eeu was daar genoeg flaters wat die SA sakesektor geraak het. Nie een van dié wat ons hier noem, was noodlottig nie – altans nog nie. Maar in die meeste gevalle sal die gevolge daarvan veel langer as die huidige dekade gevoel word.

Die openbare en die private sektor is omtrent ewe skuldig aan swak besluitneming. In sommige gevalle is die twee só ineengestrengel dat dit moeilik is om te bepaal wie die skuldige is.

Daar is een groot verskil tussen korporatiewe flaters en blapse in die politiek of die staatsdiens: Die gevolge van eersgenoemde kan byna onmiddellik gemeet en gouer en doeltreffender reggestel word as die gevolge van laasgenoemde. Maatskappye wat nie lewensbedreigende flaters regstel nie, word uit die stelsel verwyder. Dit kan pynlik wees, maar die mark is duidelik ’n aansienlik doeltreffender meganisme om van dwaasheid ontslae te raak as die politiek.

Foute word voortdurend gemaak: strategiese misrekening, en óf oordadigheid óf konserwatisme op die verkeerde tyd. Nawete is ’n foutlose wetenskap – maar ons reken mense in gesagsposisies word betaal om van beter te weet. Hulle moet, soos die slagoffers van hul besluite, met die gevolge van hul dade saamleef.

Ruimte ontbreek om die volgende ewe skokkende flaters by ons lys in te sluit:

* ’n Opgeblase regering en ’n ondoeltreffende staatsdiens wat vinnig uitbrei en belastingbetalers dubbel soveel kos as vyf jaar gelede.

* Groter welvaartbelastings terwyl groei te swak is om volhoubare werkgeleenthede te skep.

* ’n Gebrek aan politieke sekerheid – pas nadat die regering vaste beleidsverbintenisse maak, saai ’n alliansielid verwarring.

* Die versuim om ’n omgewing te skep wat groei bevorder, werk skep en belastinggeld inbring.

* Cipro se onvermoë om die maatskappyregister te bestuur.

* Die Raad op Eiendomsagentskapsaangeleenthede se versuim om die land se eiendomsmakelaars te administreer – hy is vrot van binnegevegte.

* Die kleinbankkrisis en die versuim om toegang tot finansiële dienste te vergroot, terwyl die vier groot banke toegelaat word om SA se bankstelsel oënskynlik straffeloos te oorheers.

* Coega – die ontwikkeling wat nuwe ekonomiese lewe in Port Elizabeth moes blaas, loop gevaar om ’n groot wit olifant te word.

* Korrupsie, wat – so voel dit – oral voorkom; in die openbare sektor vier dit klaarblyklik hoogty.

* Ons versuim om ten volle munt te slaan uit die voortreflike aanbieding van die wêreldbekersokkertoernooi in 2010.

 

Finweek se span uithaler-beleggingskrywers het ’n klompie van die grootste flaters tot dusver in dié eeu vanuit ’n ekonomiese, korporatiewe en politieke perspektief geïdentifiseer. Die gevolge hiervan sal nog minstens die volgende dekade by burgers, aandeelhouers en maatskappyhoofde spook.

Dit sal verkeerd wees om die teenspoed van die sakegemeenskap eenvoudig voor die deur van die regering te plaas. Verskeie groot maatskappye het gewys hulle is self heeltemal in staat om rampspoedige blapse te begaan. Ons wil nie op die openbare sektor pik nie, maar die aard van die hedendaagse SA is sodanig dat flaters deur die openbare sektor regstreekse en dikwels negatiewe gevolge vir die private sektor inhou.

Bruce Whitfield

Kragkrisis

Nagmerrie

Die flater

Onsekere kragvoorsiening. Thabo Mbeki het in Desember 2007 erken dat die regering die verkeerde besluit geneem het toe hy Eskom se versoeke laat in die 1990’s vir geld om nuwe kragstasies te bou, geweier het. Tony Twine van Econometrix sê kenners by Eskom het tien jaar tevore baie duidelike scenario’s geskets van die probleme wat in 2008 ondervind is. “Maar hulle is opsetlik geïgnoreer deur die departemente van energie en van openbare ondernemings en die Nasionale Energiereguleerder. Almal wou eerder elektrisiteit soos politieke suigstokkies uitdeel pleks van seker maak die masjien wat die suigstokkies maak, kan in die toekoms met die vraag tred hou.”

Die gevolg

In Januarie 2008 is beurtkrag ingestel. Daar is gewaarsku dat Eskom nie kraglewering aan 138 van sy grootste nywerheidskliënte kan waarborg nie. Die mynbousektor, wat ’n derde van SA se buitelandse valuta verdien, is die ergste getref. Smelters en myne is gesluit of hulle moes hul bedrywighede afskaal. Wêreld-kommoditeitspryse het die hoogte ingeskiet en SA loop die opbloei mis. Drie jaar ná die krisis: Eskom sê hy is op koers met ’n bouprogram van R385 miljard. Business Leadership SA waarsku dat Medupi en Kusile nie genoeg gaan wees nie. Trevor Manuel, minister van beplanning, beaam die waarskuwing. Eskom sê sy stelsel sal onder druk verkeer totdat die eerste eenhede van 790 megawatt van die nuwe Medupi-kragstasie in April 2012 begin krag lewer.

Die oplossing

Mense moet meer betaal vir krag. Die regering moet sterk optree met die samestelling, uitvoering en finansiering van energieplanne wat in die toekomstige vraag sal voorsien en die geskikste, kostedoeltreffendste kombinasie van kraglewering verseker. Hoewel die regering sê steenkoolkrag moet deel van die mengsel wees omdat dié hulpbron onder SA se grond beskikbaar is, hou hy ook by planne om kernkragopwekking uit te brei. Onafhanklike kragprodusente moet ruimte kry om in die kragopwekkingsmark mee te ding.

TROYE LUND

Plaaslike regering

 Munisipale misoeste

Die flater

Die regering se versuim om suksesvol in te gryp toe munisipaliteite nuushooftrekke begin haal het oor politieke magstryde, verkrummelende dienslewering, finansiële nood en wanbestuur. Judith February van Idasa sê die versuim om toenemende wanfunksionering op plaaslike regeringsvlak die hoof te bied, is waarskynlik die regering se grootste flater die afgelope tien jaar, want dit hou ernstigste gevolge vir die onmiddellike toekoms in.

Die gevolg

Plaaslike regering het geword wat die politieke ontleder Dale McKinley die “Achilleshiel van begunstiging en korrupsie” in SA noem. In ’n 2009-verslag erken die regering dat plaaslike regering gekenmerk word deur wydverspreide institusionele en leweringsverlamming, faksiekonflik, ’n kultuur van begunstiging, bedrog en nepotisme, finansiële wanbestuur asook ondoeltreffende en ontoerekenbare politici en amptenare. McKinley sê as gevolg daarvan kan plaaslike regering die beste beskryf word as “herhalende krisisbestuur, met opeenvolgende reddingspakkette, grootse ontwikkelingsplanne en valskermbeloftes”. Intussen neem protes oor munisipale dienslewering toe.

Die oplossing

Plaaslike-regeringsverkiesings is om die draai. Pres. Jacob Zuma het in 2009 erken dat verandering op plaaslike-regeringsvlak nie so vinnig en doeltreffend plaasvind as wat burgers verwag het nie. Gevolglik is nog ’n munisipale regrukstrategie van stapel gestuur. In 2010 het Sicelo Shiceka, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, ’n oreenkoms met Zuma onderteken oor “die verkryging van ’n responsiewe, aanspreeklike en doeltreffende stelsel van plaaslike regering” teen 2014. Munisipaliteite kom te staan voor die dubbele uitdaging om dienste aan die armes te lewer en gehaltestandaarde elders te handhaaf.

TROYE LUND

Arbeid

Wurgende wette

Die flater

SA arbeidswetgewing ontmoedig volgehoue indiensneming. Die ANC-regering gebruik die belofte van volgehoue en “ordentlike” werk, en intussen word die ongebalanseerde aard van die arbeidsmag al hoe duideliker. Met reële werkloosheid op ongeveer 40% en werkloosheid onder jong mense (18-25) op tussen 70% en 80%, is daar strukturele probleme wat aandag moet kry. Om werkskeppers te straf, is nie die manier om dit te doen nie.

Die gevolg

In die onlangse Adcorp-arbeidsopname merk die uitvoerende hoof, Richard Pike, op dat SA se tydelike of deeltydse arbeidsmag sedert 2000 met 11,9% per jaar gegroei het. Daarenteen het die permanente of voltydse werkmag met gemiddeld 1,5% per jaar ingekrimp. Saam met die wêreldwye finansiële krisis, wat ’n miljoen werkgeleent-hede in SA uitgewis het en die koste om sake te doen wat vinnig styg as gevolg van nuwe “sakebelastings”, soos die tolpadstelsel, skets dit ’n troostelose prentjie. Selfs met die voorgestelde plan om 5 miljoen werkgeleenthede oor die volgende tien jaar te skep, sal die land steeds ’n onaanvaarbaar hoë werkloosheidskoers hê. Dit is omdat mense langer werk as gevolg van beperkte maatskaplike en finansiële sekuriteit en weens ’n hoë “reële” belastingkoers.

Die oplossing

Om die georganiseerde arbeidsektor tevrede te hou, is al lank ’n vereiste vir die regerende party. Maar vroeër of later sal sterk stappe gedoen moet word om werkskepping te stimuleer eerder as werkbeskerming. Bedryfskenners wys daarop dat tegnologie beteken dat werkgeleenthede wêreldwyd uitgevoer kan word na die sakevriendelikste bestemmings. Die oplossing is maklik: “Maak politieke retoriek sakevriendelik.” Pike het voorheen gewys op hoeveel nuwe wetgewing ingestel is om werkers te beskerm, maar nie ’n enkele staatsdepartement het opdrag gekry om werkloosheid te verminder nie, hoewel dit ’n belangrike punt vir politici is wat stemme probeer wen.

TROYE LUND

Monetêre beleid

Rente-reperkussies

Die flater

Tito Mboweni, vorige president van die Reserwebank, het rentekoerse in 2003 met altesame 4,5 persentasiepunte verlaag. Toe maak hy die fout om koerse in 2004 en 2005 verder te verlaag. In Augustus 2004 het hy die repokoers met 0,5 persentasiepunte verlaag en in April 2005 weer. Met koersverhogings het hy dit wéér oordryf. Hy het rentekoerse tussen Junie 2006 en Junie 2008 met 5,5 persentasiepunte verhoog wat die prima oortrekkingskoers op 15,5% te staan laat kom het. Die laaste twee verhogings in 2008 is as besonder skadelik beskou omdat verbruiksbesteding reeds gedaal het, terwyl inflasie deur voedsel- en brandstofpryse gedryf is.

Die gevolg

Die koersverlagings in 2004-’05 was te veel vir die Reserwebank. Dit het ’n ongekende verbruikersopbloei aangevuur. Huishoudelike verbruik het in 2005 met ’n stewige 6,9% in reële terme gestyg, en in 2006 met nie minder nie as 8,3%. Die kredietvlaag was baie moeilik om te stuit. Kredietverlening in die private sektor het in 2006 met byna 26% gestyg en in 2007 – in ’n voortsetting van die vertraagde gevolge van die lae rentekoerse – met meer as 21%. Maar toe het Mboweni die opbloei ru onderbreek met buitensporige rentekoersverhogings. Dit het huishoudelike verbruiksbesteding van die derde kwartaal van 2008 tot middel 2009 in ’n resessie gedompel.

Die oplossing

Hoofde van sentrale banke moet leer om geduldig te wees. Mboweni was oorywerig met koersverlagings en oorywerig met koersverhogings. In die proses het verbruikers ’n skuldoorwig opgebou waardeur beleid steeds beïnvloed word. Banke bly traag om krediet te verleen. Nou is groter dalings in die repokoers nodig om dieselfde resultaat te kry. Mboweni se opvolger het die repokoers met 6,5 persentasiepunte verlaag. Mboweni het nie besef hy is besig om ’n sielkunde van maklike krediet te skep nie. Later het hy ’n voorhamer nodig gehad om dit te beëindig. ’n Bietjie geduld sou baie kritiek op Mboweni voorkom het.

GRETA STEYN

Telekommunikasie

Wankommunikasie

Die flater

Pleks van telekommunikasie in SA te liberaliseer, het die ANC-regering van 1994 dieselfde agterlike beleidsrigtings as sy NP-voorganger aangeneem. Telkom se monopolie is behou en geen ander operateurs is toegelaat om nasionale netwerke te verskaf nie. Die regering plaas sy eie finansiële belange voor dié van sy kieserskorps. Hy klou vas aan Telkom-aandele ondanks die kwasiprivatisering van die maatskappy en sy beleid versterk die monopolie van die maatskappy pleks van mededinging bevorder. Neotel is eers in 2006 toegelaat om aan die gang te kom.

Die gevolg

SA se telekommunikasiebedryf is meer as ’n dekade lank teruggerem. Deregulering en liberalisering moes reeds in 1994 begin het, maar die bedryf is tot in 2008 wesenlik in die duister gehou. Netwerke – selfs Vodacom en MTN – is van Telkom afhanklik vir hul landwye verbindings. Die prys van telekommunikasie word buitensporig hoog gehou en mededinging word voorkom ten einde die regering se inkomste uit Telkom te beskerm. Nie net is pryse hoog nie, maar die diens is baie swak.

Die oplossing

Ná 14 jaar van onbekwaamheid in die regering se bestuur van telekommunikasiebeleid het die private sektor ingegryp. ’n Filiaal van die Altron-groep, Allied Technologies (Altech), het die departement van kommunikasie voor die hof gedaag. Die hooggeregshof in Pretoria het ten gunste van Altech beslis. Die mark is oopgestel vir netwerkoperateurs, wat vir die eerste keer hul eie netwerke verskaf. EKND-lisensies is vir dié doel beskikbaar gestel. Baie operateurs het aan die werk gespring om hul eie netwerke te bou en het kontrakte met Telkom gekanselleer. Die bedryf het ’n groot agterstand om uit te wis, maar uiteindelik is daar ’n mate van prysverlaging en internasionale kabelprojekte word aangepak om SA beter met die res van die wêreld te verbind.

SIMON DINGLE

Anglo American

Tas mis met SEB

Die flater

Dit was in 1996 dat Anglo American se aanmatigende uitvoerende hoof, Julian Ogilvie-Thompson, met sy silwerwit hare die wenner aangekondig het van die wedloop om 34,9% van JCI te koop. Dit was deel van ’n breër groepherstrukturering. Die gewese MK-lid en voorsitter van Capital Alliance, Mzi Khumalo, het van nêrens gekom en aangekondig dat sy nuut geskepte African Mining Group (AMG) beheer van een van SA se oudste mynhuise gaan oorneem. Dit was die eerste van ’n reeks goedbedoelde maar uiteindelik mislukte SEB-transaksies. Die gevolg was ’n nuwe überklas- skatryk individue, ’n swart oligargie wat ook Tokyo Sexwale en Patrice Motsepe insluit, maar met weinig tekens dat welvaart wyer versprei word.

Die gevolg

Om kop bo water te hou, moes AMG saamgestelde groei van 5% per jaar in JCI se aandeelprys behaal. Hy het R54,50 per JCI-aandeel betaal, gelyk aan ’n destyds geweldige R2,9 miljard. Dit het groot druk beteken. Boonop was Khumalo nie opgewasse vir die taak nie – en sy direksie het dit geweet. JCI se aandeelprys het tot minder as R30 getuimel. Die mark se mosie van wantroue in dié bemagtigingstransaksie, waarin Anglo Khumalo bo Cyril Ramaphosa se Nail verkies het, was bloedig en genadeloos en katastrofies.

Die oplossing

Khumalo het Randgold & Exploration se handelsdirekteur, Brett Kebble, gekry om die leisels by JCI oor te neem. Dit was ’n poging om ’n direksie wat vinnig verswak het, te beskerm. Khumalo het ’n steenkool/onedelmetaalgroep verkies, maar Kebble wou baie graag SA se gouderfenis laat herleef met ’n nuwe groot goudmyn. Die mislukking van die Kebble-Khumalo-verbintenis was ewe voor die hand liggend as pynlik om waar te neem. JCI was ’n gemors en Anglo het gewonder hoe om sy R2,9 miljard te verhaal. Kebble het binne maande weer opgeduik, soos hy dikwels gemaak het, met “JCI Gold”. Sy planne was om SA se goudbedryf te konsolideer en ’n nuwe reus te skep. Teen 1999 het die goudprys gehalveer tot R252 per ons. Die res is geskiedenis.

 DAVID MCKAY

Old Mutual

Probeer globaliseer

Die flater

Old Mutual se notering teen die einde 1990’s op die JSE het ’n nuwe era ingelui vir die toe verstokte versekeringsmaatskappy. Hy kon sy nuwe korporatiewe status gebruik om sy invloed uit te brei. Eerste aan die beurt was die aanloklike Amerikaanse mark voordat hy die wêreld sou aanpak deur ’n notering in Londen. Dit het – baie gerieflik – vir sy senior direkteure ’n ontsnappingsroete en ’n bron van buitelandse inkomste gegee. Die geskiedenis toon dat die groep deur ’n proses van skokkende tydsberekening, oorbetaling en wanbestuur korporatiewe koste van meer as R100 miljard aangegaan het.

Die gevolg

Old Mutual se uitwaartse beweging het tot ander mislukte pogings gelei, veral in Amerika, waar party van sy kleiner mededingers gereken het hulle kan ratser wees. Dit het Sage sy korporatiewe lewe gekos. Een van die land se oudste en mees gerespekteerde handelsname het in die vullisblik van korporatiewe mislukking beland as gevolg van sy ondeurdagte Amerikaanse avontuur. Discovery was verstandig genoeg om sy Destiny te staak nadat hy meer as R1 miljard daarin gepomp het. Hy maak steeds vordering in buitelandse markte – veral in Brittanje en meer onlangs in Asië.

Die oplossing

Dit het Old Mutual onder ’n nuwe direksie en (hoofsaaklik) nuwe bestuurspan ’n dekade geneem om die dwaasheid van sy strategie in te sien. Onder die uitvoerende hoof, Julian Roberts, ’n gewese finansiële direkteur en later hoof van die nuwe verkryging, Skandia van Swede, het die groep besluit om sy geweldig ingewikkelde en ondoeltreffende groepstruktuur te konsolideer en te vereenvoudig. Hy het uiteindelik ontslae geraak van sy Amerikaanse lewensversekeringsonderneming, waarvan ’n deel voorheen aan Sage behoort het. Hy is besig om die batebestuurder Omigsa gedeeltelik te noteer, terwyl hy Nedbank probeer verkoop om sy skuld verder te help verminder.

BRUCE WHITFIELD

Anglo American

Ystervuisvoos

Die flater

Anglo American wou al lank sy blootstelling aan ystererts in Wes-Australië vergroot maar is twee keer gedwarsboom deur sy aartsvyand, Rio Tinto. Die eerste voorval was in 2000, toe Rio Tinto meer as hy gebie het vir beheer oor die Australiese junior ysterertsgroep North. Anglo het in 2005 weer probeer toe hy Kumba Resources oorgeneem het wat in ’n 50/50- gesamentlike onderneming vir die Hope Downs-ysterertsprojek was met die plaaslike maatskappy Hancock Prospecting. Aan die hoof van Hancock is Gina Rinehart, Australië se rykste vrou. Rinehart het later die mat onder Anglo se voete uitgepluk op grond van ’n skuiwergat oor verandering van beheer by Kumba en het toe met Rio Tinto saamgespan. Volgens bronne in Australië was die eintlike rede dat Tony Trahar, Anglo se destydse uitvoerende hoof, haar die hoenders in gemaak het. Rio se hoof van ystererts, die gemoedelike en ontspanne Sam Walsh, het daarenteen die regte benadering teenoor die baie moeilike Rinehart gevolg.

Die gevolg

Anglo se uitbreiding na ystererts buite SA is erg vertraag. Dit het hom beperk tot die ontwikkeling van sy Sishenmyn, waar groei onderhewig was aan spoor- en hawebeperkings buite Anglo se beheer. Rio – wat sy eie hawe- en spoorinfrastruktuur in Wes-Australië het – het in 2008 die eerste ystererts geproduseer uit die myn van 22 miljoen ton per jaar wat hy by Hope Downs gebou het en tans met nog 15 miljoen ton per jaar uitbrei.

Die oplossing

Trahar is in 2007 as uitvoerende hoof deur Cynthia Carroll vervang. Sy het ’n baie aggressiewer benadering gevolg met die koop van beheer oor die Minas Rio-ysterertsprojek in Brasilië vir $7 miljard. Afgesien daarvan moet Anglo – volgens die jongste gegewens – ongeveer $5 miljard investeer om die projek te ontwikkel wat teen die einde van 2013 ystererts moet begin lewer. Minas Rio behoort baie lae bedryfskoste te hê, maar Rio se kapitaalkoste by Hope Downs is baie laer – die oorspronklike myn het $1 miljard gekos en die uitbreiding nog $1,6 miljard.

BRENDAN RYAN

Die wisselkoers

Kenners nie wenners

Die flater

Teen 1997- ’98 het ’n klompie Suid-Afrikaners baie hard gewerk aan ’n bod om die Olimpiese Spele in 2002 in Kaapstad aan te bied. Dit het later aan die lig gekom dat die bodkomitee ’n wisselkoers van R20 per dollar gebruik het om die koste van die Spele te bereken. Die werklike wisselkoers was toe sowat R6-R7 per dollar. In 2001 het die rand kwaai verswak, en anders as sy voorganger het die nuwe president van die Reserwebank geweier om in te gryp. Teen Desember 2001 was die wisselkoers R13 teenoor die dollar. Dit was olie op die vuur. Vroeg in 2002 het menige finansiële bestuurder homself as ’n kenner van buitelandse valuta beskou en probeer om sy onderneming teen die verwagte R20 per dollar te beskerm.

Die gevolg

By Naspers het die kenners die beleid gevolg om al hul laste vooruit vir twee jaar in sterk geldeenhede te koop. Terselfdertyd is die verwagte opbrengs vir twee jaar vooruit in swak geldeenhede verkoop. Dié eenvoudige beleid het in die verlede goed gewerk, maar ná 2002-’03 het die sterk geldeenhede skielik verswak en het swak geldeenhede, soos die rand, versterk. By die SAL was dit nog erger; in dié geval was dit die arme SA belastingbetaler wat die gelag moes betaal. Die SAL se destydse hoof het al die ou vliegtuie op bruikhuur verkoop en ’n groot wins gemaak. Daarvoor het hy ’n bonus van R300 miljoen gekry. Toe verlaat hy die land.

Die oplossing

Maatskappye moet hul sake bestuur en nie die geldeenheid nie, want dit is wisselvallig en onvoorspelbaar. Die SAL moet, soos ander semistaatsliggame, geprivatiseer word. Hy moet ook op die ope mark om goedere en dienste meeding. Pleks daarvan het hy die staat as permanente rugsteun, ongeag die optrede van die bestuur. Toe sy aan die hoof was van Transnet, toe die eienaar van die SAL, het Maria Ramos gesê die SAL se bestuur het ongeveer 50% van hul tyd gemors deur te probeer raai wat die toekomstige wisselkoers gaan wees. En dit was nie eens nodig nie. Die bestuur moet daarop fokus om die onderneming as ’n lugdiens te bedryf – op die grondslag van bedryfsrisiko’s en strategiese vereistes. Hy moenie soos ’n staatsdepartement optree nie met al die kwessies wat daarmee gepaardgaan.

VIC DE KLERK EN BRUCE WHITFIELD

PSG en Capitec

Amper verlore

Die flater

Sommige maatskappye wat ons noem, sal dalk vies wees oor ons “flater-menings”. Wat betref die ontbondeling van sy belang in Capitec Bank in 2003 erken niemand anders nie as Jannie Mouton, PSG se voorsitter, dit was ’n fout. Dalk was PSG effens besorg oor Capitec se risikoprofiel (en kapitaalvereistes) in die vroeë stadium van die bank se ontwikkeling. Hy het dit egter duidelik gestel dat die besluit om die bank te ontbondel, gesien moet word in die konteks daarvan dat PSG toe ’n potensiële teiken van ’n vyandige oorname was (vermoedelik Absa, wat PSG Investment Bank verkry het).

Die gevolg

Pas nadat PSG van sy belang in Capitec ontslae geraak het, het dit duidelik geword – veral vir die groter spekulante in die mark – dat dié bankie ’n baie dienlike (en baie winsgewende) laekostebankmodel vir die massas het. Nog belangriker: Capitec sou geen gebrek aan finansiering vir sy ambisieuse planne vir ontwikkeling en uitbreiding hê nie.

Die oplossing

Volpunte aan PSG dat hy sy trots gesluk het en voortgaan met die moeisame taak om weer ’n belang in Capitec op te bou. Dit is bevorder deur die aftakeling van PSG se bemagtigingsvennoot Arch Equity (wat gelukkig ’n beduidende minderheidsbelang in Capitec behou het). Die waarheid is dat PSG aanvanklik 58% van die bank besit het, vergeleke met die 34,9% nou. Die “herbondeling” blyk baie winsgewend vir Capitec se aandeelprys te wees. Dit is die afgelope twee jaar aan die brand. Finweek twyfel of PSG – ondanks die onlangse sterk lopie in Capitec se aandeelprys – lus sal wees om te ontbondel of uit te verkoop. Aan die ander kant het die groot banke – en groter buitelandse finansiële instellings – sekerlik kennis geneem van Capitec se sukses met die verskaffing van bankdienste aan mense wat dit voorheen nie kon kry nie. Ons reken enigiemand wat bereid is om ’n premie op ’n reeds veeleisende aanslag te betaal, sal met Jannie Mouton ’n gesprek kan voer.

Marc Hasenfuss

Mbeki-termyn

Magshonger

Die flater

Thabo Mbeki het besluit om hom vir ’n derde presidentstermyn verkiesbaar te stel nadat hy gesê het hy het geen voorneme om die Grondwet te laat wysig om dit te doen nie. Sy opponent vir die leierskap van die ANC was Jacob Zuma, wat ná ’n bittere veldtog die oorwinning in Polokwane behaal het. Zuma se steun was oorheersend van die linksgesindes in die ANC-alliansie, maar die leierskapstryd het oor persoonlikhede gegaan en nie oor beleid nie. Zuma kon sy nuut gevonde mag gebruik om strafregtelike aanklagte teen hom te laat vaar, en vrae oor sy geloofwaardigheid in die amp is nog nie in die hof betwis nie.

Die gevolg

’n President onder verdenking en gemengde boodskappe aan beleggers te midde van ’n verwoestende wêreldwye finansiële krisis. Die manier waarop die klagtes teen Zuma laat vaar is en die daaropvolgende poging om die Skerpioene – die misdaadbekampingseenheid wat Zuma aangekla het – te ontbind, het SA se beeld as ’n korrupte samelewing bevestig. Dit het kritiese vrae oor die land se demokratiese instellings laat ontstaan. Daarom was Zuma nie in staat om beslissende leiding te neem nie. Dit is vir hom veral moeilik om standpunt in te neem teen sy gewese ondersteuners of moeilike beleidskeuses te doen wat uiters belangrik is vir die verbetering van investering, werkskepping en dienslewering.

Die oplossing

ANC-dokumente wat vir die vergadering van die nasionale algemene raad in 2010 opgestel is, toon die party se planne om die manier te bekyk waarop hy leiers kies. Hy wil “opportunisme, uitbuiting en korrupsie” in partybedrywighede voorkom. Hy moet ook seker maak dat verklarings oor geen verdraagsaamheid vir onbekwaamheid, korrupsie en magsmisbruik op ’n gelyke grondslag en konsekwent toegepas word. Idasa het ook ’n beroep op die ANC gedoen om wetgewing in te stel wat die finansiering van politieke partye deursigtig maak. Maar die parlement moet ook sy tande behoorlik en sonder bestraffing kan gebruik.

TROYE LUND

Uranium One

 Dominion-effek

Die flater

Teen 2004, toe die vooruitsigte vir goud taamlik swak was, het Afrikander Lease se uitvoerende hoof, Neal Froneman, besluit die pad vorentoe vir sy sukkelende junior mynmaatskappy is deur diversifikasie na uraan. Dit sou die ontwikkeling van die Dominion-prospekteerplek (naby Klerksdorp) behels wat hy beheer het. Die onderneming se naam is toe in Uranium One verander. Alles het in trane geëindig toe Dominion in Oktober 2008 gesluit is. Uranium One moes ’n afwaartse waardering van $1,8 miljard aanvaar – plus verswakkingskoste van $900 miljoen teen verskeie bedrywighede in Amerika en Australië.

Die gevolg

Dominion het misluk as gevolg van ernstige probleme met die ondergrondse mynbedrywighede. Dit het nie die vereiste graad en produksievolumes opgelewer nie. Dit het weer ’n verwoestende uitwerking gehad op die hoëdruk metallurgiese uitloogaanleg wat gebou is om die erts te behandel, want die verwagte herwinningstempo’s is nooit bereik nie.

Froneman het in Februarie 2008 bedank en gesê dis tyd vir ’n loopbaanverandering. Hy het toe begin met die ontwikkeling van wat Gold One International geword het wat op die Australiese beurs en die JSE genoteer is. Dominion is in 2010 vir $37 miljoen gekoop deur Shiva Uranium, wat uiteindelik deur die Gupta-familie beheer word.

Die oplossing

Al het Uranium One die land se duurste mynbou-onderpresteerder ontwikkel, oorleef hy danksy een van sy vroeëre verkrygingstransaksies in Kazakhstan, een van die wêreld se groot uraanprodusente. Uranium One word nou beheer en bestuur deur die Russiese staatsuraanmaatskappy Armz, wat 51% van hom besit. Armz wil Uranium One gebruik om sy bedrywighede buite Kazakhstan uit te brei, met spesiale aandag aan Afrika. Hy het pas ook die Mkujurivier-projek in Tanzanië oorgeneem. Ons sal moet wag en kyk wat die Guptas uiteindelik met Dominion maak.

BRENDAN RYAN

SAKEBLAPSE

Enron-eskapade; koepon-katastrofe; BP-blaps …

Forbes se lys van vreeslike flaters

Die tydskrif Forbes het onlangs sy lys van die tien grootste sake-blapse van alle tye gepubliseer. Dit behels nie net verlore fortuine en verwoeste welvaart nie maar ook die geleentheidskoste van die foute. Dit dek alles, van eiendom tot tegnologie.

Breë temas sluit in skokkende etiek en korttermyn-benaderings wat die grondslag is van die swakste sakebesluite van alle tye.

Een van die flaters wat die tydskrif noem, is die besluit wat die Canarsee-Indiane in 1626 geneem het om die hedendaagse Manhattan te verruil vir versiersels. Jare later het die Nederlanders die destydse Nieu-Amsterdam vir Suriname by die Britte verruil.

Die Ford-motormaatskappy het meer as genoeg voor- en teenspoed gehad. Hy het die Edsel in die 1950’s geskep en dit genoem na die seun van sy stigter, Henry Ford. Dit was een van die grootste oordeelsfoute in die geskiedenis van die motorbedryf. Die maatskappy het $350 miljoen (in 1950-waarde) op die Edsel verspil, wat nie ’n unieke ontwerp, prysvoordeel of enige ander goeie eienskappe gehad het nie.

Die terugtrekking van Toyota-voertuie tydens die finansiële krisis het momentum gekry en die maatskappy se reaksie daarop het weinig gedoen om vertroue by dié motorreus se klante wêreldwyd in te boesem.

BP se hantering van die besoedelingskrisis in die Golf van Mexiko het hom ook nie gelief gemaak by ’n wêreldmark wat reeds sinies was oor die groter risiko wat met die ontginning van krimpende natuurlike hulpbronne gepaardgaan nie.

Min blapse is noodlottig vir maatskappye, maar die meeste kos die aandeelhouers geld en kan erge verleentheid veroorsaak.

Een van die skouspelagtigste bemarkingsblapse van ons tyd was toe die stofsuiervervaardiger Hoover in 1993 gratis vlugte tussen Europa en Amerika aangebied het vir enige klant wat £100 aan enige van sy produkte bestee. Dit was so gewild dat hy sy aanbod moes terugtrek. Die hele direksie is in die pad gesteek en die maatskappy is vir ongeveer £50 miljoen aan ’n Italiaanse maatskappy verkoop, met groot skade aan sy reputasie.

Nog ’n bemarkingsflater toon die risiko’s wat dit inhou om die internet te gebruik om promosiemateriaal te versprei. E-pos was nog in sy kinderskoene toe Starbucks ’n e-poskoepon vir gratis yskoffie aan vriende en familielede aangebied het. Dit het hand uitgeruk en die maatskappy het tot sy spyt geleer dat die koepons ad infinitum herdruk kon word. Toe Starbucks sy aanbod terugtrek, het ’n ontstoke klant, Kelly Coakley, ’n groepgeding van $114 miljoen aanhangig gemaak.

Party flaters is gevaarlik vir klante. Gebreke in batterye wat Dell vir Sony-skootrekenaars gemaak het, het veroorsaak dat verskeie van die rekenaars skielik aan die brand geslaan het. Dit het tot die grootste terugtrekking van rekenaars in die geskiedenis gelei. Dell het 4 miljoen skootrekenaarbatterye vervang en Apple en Lenovo saam het meer as nog 2 miljoen vervang.

Die Enron-ineenstorting is ’n toonbeeld van wat met korporatiewe Amerika skeefgeloop het. Dit moes ’n vroeë waarskuwing gewees het teen wat in 2008 sou gebeur. In daardie jaar is die internasionale finansiële stelsel op sy knieë gedwing deur dieselfde soort finansiële kullery en oneerlikheid wat gelei het tot die ineenstorting van een van die mees bewonderde maatskappye.

Forbes maan dat die ergste dalk nog voorlê. Die wêreldwye finansiële krisis het ontstaan deur die ineenstorting van die Amerikaanse huismark en die feitlike waardelose sekuriteite wat vir subprimaverbande geskryf is. Dis nog nie duidelik of die behandeling tot die herstel of die dood van die pasiënt sal lei nie.

“Die grootste knoeiers van alle tye is heel moontlik die wêreld se sentrale bankiers. Ouens soos die voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad, Ben Bernanke, het die mag om hele ekonomieë ’n hupstoot te gee of te laat ontspoor deur die kredietkraan oop of toe te draai ... as ons gelukkig is, sal Bernanke en sy maters nie plek op dié lys kry nie.”

Bruce Whitfield

 
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Rand - Dollar
19.02
-0.2%
Rand - Pound
23.66
-0.2%
Rand - Euro
20.23
-0.3%
Rand - Aus dollar
12.18
+0.3%
Rand - Yen
0.12
+0.0%
Platinum
977.80
+0.2%
Palladium
1,034.50
+1.1%
Gold
2,374.08
-0.4%
Silver
28.13
-2.6%
Brent-ruolie
90.10
-0.4%
Top 40
66,821
-2.2%
All Share
72,922
-2.1%
Resource 10
61,382
-3.9%
Industrial 25
98,241
-1.9%
Financial 15
15,663
-1.0%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Company Snapshot
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE
Government tenders

Find public sector tender opportunities in South Africa here.

Government tenders
This portal provides access to information on all tenders made by all public sector organisations in all spheres of government.
Browse tenders