Share

Dit kan nie hier gebeur nie

NASIONALISERING van die SA mynbedryf gaan nie gebeur nie, volgens sowel die ANC as die mynbou-establishment. Of gaan dit?

Gestel die mynbouregsman Hulme Scholes is in die kol met sy afleidings oor die stappe wat die regering reeds gedoen het en met sy mening dat nasionalisering reeds aan die gang is.

Scholes doen die afgelope twee weke ’n aanbieding, “Die pad na nasionalisering”, aan top- uitvoerende amptenare van banke en mynmaatskappye.

Sy boodskap is eenvoudig. “Nasionalisering is besig om plaas te vind en die mynboubedryf moet vinnig wakker skrik.”

Hy sê sy doel is om die mynbedryf uit sy selfvoldaanheid te ruk omdat hy reken die bedryf is “apaties en onbewus van hoeveel werk die regering reeds gedoen het wat nasionalisering betref”.

Scholes is ook baie krities oor die rol wat die Kamer van Mynwese speel. Hy sê: “Na my mening beskou die regering die kamer as ’n gediskrediteerde organisasie wat hy nie met erns bejeën nie. Die rede is dat die regering die kamer as ’n oorblyfsel van die land se apartheidsmynbouverlede beskou. Die gevolg is dat die kamer nie as ’n doeltreffende koppelvlak tussen die mynbedryf en die regering funksioneer nie.

“’n Goeie voorbeeld hiervan was die afkondiging van die kodes van goeie praktyk in April 2009, toe die kamer se kommentaar eenvoudig geïgnoreer is.”

Die mynbedryf is blykbaar nie bekommerd nie, en een uitvoerende amptenaar verwerp Scholes se sienings as “alarmisties”.

Nick Holland, uitvoerende hoof van Gold Fields, sê: “Alle aanduidings van die regering is dat nasionalisering nie amptelike beleid is nie en daar is niks in ons skakeling met die regering wat ons laat dink dat hulle van standpunt gaan verander nie.”

In sy jongste jaarlikse oorsig sê Niel Pretorius, DRDGold se uitvoerende hoof: “Nasionalisering kry eenvoudig te veel aandag van die media. Sowel ons president as ons minister van minerale bronne het die huidige regering se standpunt oor dié kwessie duidelik en ondubbelsinnig gestel.”

Dade weeg swaarder as woorde, en Xstrata meen klaarblyklik nasionalisering is nie op die tafel nie, anders sou hy sekerlik nie R4,9 miljard bestee het aan die uitbreiding van sy ferrochroomproduksiegeriewe nie.

Songezo Zibi, Xstrata Alloys se woordvoerder, sê: “Die gewysigde mynbouhandves steun nie die nasionalisering van bestaande myne en verwante bedrywighede in SA nie. Gevolglik bly Xstrata verbind tot die volhoubare transformasie van die SA mynbedryf.”

En tog, Scholes is nie ’n liggewig nie. Hy is een van die topspesialiste in SA mynbouwetgewing, waarmee hy al sedert 1993 doenig is.

Voor sy huidige pos as mynbouregskonsultant vir CJM Corporate Advisers was hy ’n direkteur van Aquarius Platinum SA en voor dit ’n direkteur van Werksmans Attorneys.

Scholes se mening is dat daar vir die mynbedryf ’n “strik vir ondergang gestel word” omdat dit onmoontlik sal wees om te voldoen aan die SEB-teikens in die hersiene mynbouhandves en die kodes, wat teen 2014 gehaal moet word.

Hy noem veral die vereiste dat die SEB-aandeelhouersbelang in enige mynbou-onderneming teen dié datum “onbeswaard” moet wees om in aanmerking geneem te word vir die teiken van 26% “netto waarde” van ’n mynbou-onderneming, soos wat die kodes vereis.

“Versuim om daaraan te voldoen, sal die politieke regverdiging bied vir radikale ingryping deur die staat in die mynbedryf om sy oogmerke van transformasie te bereik.”

Scholes sê die instrument wat gebruik gaan word, is die “staatsbeheerde mynmaat-skappy” waaroor die parlementêre portefeuljekomitee op 28 Mei verhore gehou het.

Hy sê: “Die stelling van die regering dat nasionalisering nie beleid is nie, is hol. Konsepwetgewing vir die skepping van ’n staatsmynmaatskappy is onvermydelik, en dis hoe nasionalisering gaan plaasvind.”

Scholes reken die staatsmynmaatskappy gaan die African Exploration Mining Finance Corporation (AEMF) – ’n volfiliaal van die Sentrale Energiefonds – oorneem.

AEMF het reeds skokgolwe deur SA bewaringskringe gestuur oor die roekelose manier waarop hy eksplorasiewerk doen in omgewingsensitiewe gebiede wat wyslik deur die private mynbousektor met rus gelaat word.

Ter verduideliking – en as ’n aanduiding van wat nog kan kom – meld Scholes die string vrystellings van die reguleringsvereistes wat AEMF van die regering gekry het waaraan mynmaatskappye in die private sektor moet voldoen. AEMF is vrygestel van vereistes vir prospekteerregte, toestemming vir grootmaatmonsterneming, mynregte en mynpermitte en voldoening aan verskeie vereistes vir omgewingsbestuur.

Positiewe menings van sommige mense in die mynbedryf in die debat oor die “N”-woord is die siening dat die ANC die grootste voorstander van nasionalisering – die ANC-jeugliga – in effek geneutraliseer het tot 2012.

Een goed geplaaste bron in die mynbousektor sê: “Die besluit deur die ANC se nasionale algemene raad om ’n studie oor nasionalisering te doen as deel van ’n groter ondersoek na die rol van die staat in die transformasie van SA, koop tyd omdat daar nou niks kan gebeur nie tot die 53ste nasionale konferensie in 2012, waar die studie bespreek sal word.”

Hy reken die “paniekbenadering” van die jeugliga, wat normale ANC-prosesse veront-agsaam het, is gestuit en daar sal nou ’n nugtere evaluering van die opsies wees “ooreenkomstig ANC-tradisies”.

Hy erken egter dat die gevaar van nasionalisering steeds bestaan en hy beveel aan dat die mynbedryf betrokke raak by “proaktiewe en gesofistikeerde” stappe om die staat se studie te beïnvloed pleks van ’n houding van “kyk wat gebeur” aan te neem.

Dit klink baie soos wat Scholes in reguit taal sê.

Scholes sê: “Die bedryf moet ’n groter poging aanwend om die regering te laat verstaan hoe rampspoedig nasionalisering vir die mynbousektor en die hele land gaan wees. Dis duidelik dat die regering nie werklik ’n begrip het nie van die kompleksiteit van die mynbedryf en die baie wesenlike probleme inherent in die bedryf van myne in dié land.”

Die groot probleem vir aandeelhouers in SA mynmaatskappye is dat die geringste sweem van die moontlikheid van na-sionalisering hul beleggings kwaai skade sal berokken.

Royal Bafokeng Platinum het dit in sy voornoteringsverklaring duidelik gestel: “Daar kan geen versekering wees dat die SA regering se posisie oor die kwessie van nasionalisering nie in die toekoms sal verander nie. Enige persepsie dat nasionalisering kan gebeur, kan ’n wesenlik nadelige uitwerking op die handelsprys van die maatskappy se sekuriteite hê.”

En dié mening kom van ’n groep wat ’n mens sou dink foutlose SEB-status het wat enige moontlikheid van die nasionalisering van sy bates sal uitskakel.

ALTERNATIEWE BELEGGINGSOPSIES

Staal jou vir Juju

En vlug na Zimbabwe ...

ONTHOU jy nog die beroemde stukkie raad wat The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy gee wanneer die aarde op die punt staan om vernietig te word? “Moenie paniekerig raak nie.”

Selfs die vaagste moontlikheid van nasionalisering van SA se myne – al is bewys dat dit ’n bankrot ekonomiese filosofie is – val in dié kategorie.

Dit gaan die verstand te bowe dat groepe soos die ANC-jeugliga die lesse wat op die harde manier met die mislukking van nasionalisering in lande soos Zambië en Tanzanië geleer is, eenvoudig kan ignoreer.

Maar as ’n SA inwoner wat ’n portefeulje SA mynbouaandele besit, het ’n mens opsies om die skade te beperk as die ergste wel gebeur.

Alles is nie verlore nie, sê Peter Major, mynboukonsultant van Cadiz Corporate Solutions. Hy sê spottend: “Ons is reg vir Julius (Malema, leier van die ANC-jeugliga).”

Major reken die beste beleggings om in die geval van nasionalisering te doen, sal die beursverhandelde platinumfonds in rand op die JSE wees.

Dié strategie benut die krag van die SA platinumsektor, wat 80% van die wêreldvoorraad verteenwoordig, terwyl die moontlikheid skraal is dat bronne gevind sal word om dit te vervang. Die ander groot produsente van die metaal is Rusland, waar dit ’n neweproduk van die nikkelmyne is, en Zimbabwe, wat sy eie probleme ervaar – maar later meer oor dié land.

Major sê: “As hulle die SA platinummyne nasionaliseer, sal die dollarprys van platinum skerp styg en die waarde van die rand teenoor die dollar sal verswak.”

Major hou ook van verskeie beursverhandelde fondse (ETF’s) wat op lande fokus en op die JSE beskikbaar is, soos Deutsche Bank se DBX-Japan (DNXJP) en sy Britse instrument DBXFT100 (DBXUK), wat albei deur ’n verswakkende rand bevoordeel sal word.

Daarby sal die JSE se goud-ETF deur die uitwerking van ’n verswakkende rand op die dollargoudprys bevoordeel word, al meen Major dat die platinum-ETF in die geval van nasionalisering veel beter as die goud-ETF sal vaar.

Hy beveel aan dat ’n mens beleggings aan goudaandele onttrek. “SA goudaandele is al jare lank ’n skrikwekkende belegging. Dit sal waarskynlik nie binnekort verander nie, ongeag van wat ten opsigte van nasionalisering gebeur.”

Daar is sekere mynbouaandele wat op die JSE genoteer is wat geen of minimale blootstelling aan SA het en wat daarom nie deur nasionalisering geraak sal word nie.

Die beste daarvan is waarskynlik BHP Billiton, die wêreld se grootste gediversifiseerde hulpbrongroep.

Al sy SA bates, waaronder die steenkoolmyne, die mangaanmyne, die alumi-niumsmelters in Richardsbaai en die belang van 50% in die titaanprodusent Richards Bay Minerals, verteenwoordig sowat 7% van die groep se netto batewaarde.

Daarteenoor verteenwoordig Anglo American se blootstelling aan SA sowat 40%, want die filiaal Anglo Platinum, waarvan hy 80% besit, is sy belangrikste bate.

Ruil dus Anglo American vir BHP Billiton om.

Wat bepaalde kommoditeite betref, sluit die aandele wat gekoop kan word – vanselfsprekend afhangend van jou siening van die bestuur en die vooruitsigte – Metorex en Uranium One in.

Metorex het die afgelope twee jaar doelbewus al sy SA bates verkoop om op sy koper-kobaltbedrywighede in Zambië en die Demokratiese Republiek van die Kongo te konsentreer. Sy hoofkantoor is nog in Rosebank in Johannesburg, maar dit kan net sowel na Lubumbashi verskuif word.

Ná die verkoop van sy mislukte Dominion-myn kry Uranium One nou al sy inkomste uit sy uraanbedrywighede in Kazakhstan. Hy sal prakties ’n Russiese groep wees sodra die transaksie met die Russiese staatsmaatskappy Armz afgehandel is, en sy verklaarde groeivooruitsigte is in Australië, Amerika en elders in Afrika.

Nog ’n voorbeeld is ZCI, wat nou koper in Botswana ontgin en eksplorasiewerk daar doen nadat hy ’n beherende belang in African Copper plc gekoop het.

Beleggers kan dit ook oorweeg om uit mynbouaandele te diversifiseer na verskaffers en diensverskaffers wat aan die bedryf gekoppel is.

Nog ’n mynbou-oplewing word vir Afrika voorspel, wat SA beslis sal misloop as sy mynbousektor genasionaliseer word.

Maar die land kan steeds ’n goeie basis wees vir bedrywighede in die res van Afrika, en plaaslike vervaardigings- en konstruksiegroepe sal waarskynlik bevoordeel word.

Oorweeg daarom logistiek- en infrastruktuurverskaffers, soos Bidvest en Grindrod, en ingenieurs-, konstruksie- en kontrakmynbougroepe, soos Basil Read, Group Five en Murray & Roberts.

Nog beleggingskandidate is mynbougroepe wat reeds beduidende bedrywighede buite SA het wat in ’n afsonderlike buitelandse beheermaatskappy afgeskei kan word as die ergste gebeur.

Ooglopende voorbeelde hier is AngloGold Ashanti en Gold Fields. Daar is reeds heelwat bespiegel dat die twee hul buitelandse bedrywighede afsonderlik kan noteer om van die “SA afslag” ontslae te raak wat een van die redes vir hul “skrikwekkende” beleggingsprestasie is, soos Major dit stel.

Impala Platinum (Implats) is nog ’n moontlike kandidaat vir ’n verdeling, afhangend van wat ’n mens dink in Zimbabwe kan gebeur, want as alles goed gaan, kan Implats binne 15 jaar ’n miljoen onse platinum per jaar deur sy filiaal Zimplats, wat op die alternatiewe beleggingsmark in Londen genoteer is, in Zimbabwe ontgin.

’n Mens kan gerus daarop let dat die twee bates in Implats se portefeulje wat die laaste paar jaar ondanks die land se geweldige terugslae die beste gevaar het, Zimplats en Mimosa, sy sustermyn in Zimbabwe, is.

’n Miljoen onse per jaar uit Zimbabwe sal gelykstaande wees met die produksie wat tans van Implats se vlagskiphuurgebied by Rustenburg kom.

En, ja, dis heeltemal moontlik dat Zimbabwe ondanks al sy probleme beskou sal word as ’n investeringsbestemming wat voorkeur bo SA geniet as ons die nasionaliseringsweg inslaan.

Major stel dit só: “Selfs Mugabe het nooit myne genasionaliseer nie. Hy’s dalk kranksinnig, maar hy is nie mal nie!”

BUITELANDSE-MYNAANDELE

Liewer óns konkelaars as Kanada of Australië s’n

SUID-AFRIKAANSE burgers mag tans R4 miljoen landuit neem om in buitelandse bates te belê, wat baie meer is as die bedrag wat die gemiddelde belegger waarskynlik beskikbaar sal hê om mee te speel.

As Hulme Scholes reg is oor die moontlikheid van nasionalisering, is ’n vanselfsprekende strategie om daardie toegelate beleggingsbedrag ten volle te benut terwyl die rand nou so sterk is.

Oorweeg dit om ’n deel van jou SA mynbouportefeulje te gelde te maak om ’n bedrag in die hande te kry wat die moeite werd is vir ’n belegging in buitelandse mynbou-aandele.

Om terug te hou in die hoop dat SA mynbouaandele sal styg voordat jy verkoop, kan selfverydelend wees, want een van die hoofredes waarom die prys van plaaslike mynbouaandele sou styg, is ’n verwagte depresiasie in die waarde van die rand.

Wat jy met die een ding wen, verloor jy met die ander.

Om daardie geld in die buiteland te kry, het die belegger in mynbouaandele ’n rits nuwe moontlikhede op aandelebeurse soos dié in Toronto (die TSX), Australië (ASX) en Londen (LSE).

Die JSE het die oplewing in mynbouaandele op groot skaal misgeloop, want net enkeles is in Johannesburg genoteer, en dan dikwels onder druk om ter wille van hul bemagtigingsvennote ’n tweeledige notering te hê.

Daar is ’n watertand-verskeidenheid op die buitelandse beurse, maar dit bring ook ’n hele nuwe verskeidenheid van risikofaktore mee.

Prontuit gestel – jy kan ’n baie beter greep op plaaslike konkelaars hê as op hul eweknieë in Australië en Kanada en beter insig in die grondbeginsels van sakeondernemings in SA as in, byvoorbeeld, Colombia of Alaska. So, miskien is die beste om aanvanklik veilig te speel en by die laerrisiko-, gevestigde groepe soos Xstrata of Rio Tinto te bly, naas groot maatskappye soos Barrick Gold, pleks daarvan om te val vir die praatjies van die een of ander entrepreneur met ’n gladde bek wat sy myn aan jou probeer afsmeer.

 
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Rand - Dollar
18.94
-0.2%
Rand - Pound
23.91
-0.1%
Rand - Euro
20.45
+0.1%
Rand - Aus dollar
12.35
+0.0%
Rand - Yen
0.13
-0.2%
Platinum
904.58
+0.9%
Palladium
1,012.82
+1.1%
Gold
2,219.05
+1.1%
Silver
24.81
+0.7%
Brent-ruolie
86.09
-0.2%
Top 40
68,346
+1.0%
All Share
74,536
+0.9%
Resource 10
57,251
+2.9%
Industrial 25
103,936
+0.6%
Financial 15
16,502
-0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Company Snapshot
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE
Government tenders

Find public sector tender opportunities in South Africa here.

Government tenders
This portal provides access to information on all tenders made by all public sector organisations in all spheres of government.
Browse tenders