Share

Die drie gesigte van Johann Rupert

IS daar ’n nuwe, avontuurlike gees te bespeur by die genoteerde entiteite wat die Rupert-familie beheer?

Die Stellenbosse dinastie bestaan uit die internasionale luuksehandelsmerkgroep Richemont en die plaaslike en buitelandse beleggingsmaatskappye Remgro en Reinet Investments.

Die maatskappye, wat saam ’n waarde van meer as R220 miljard op die JSE het, is nog altyd as stemmig en defensief beskou – veral Remgro en Richemont. Hulle is as bronne van waarde beskou eerder as ’n kitsgeleentheid vir bogemiddelde groei.

Die transaksievloei word inderdaad noukeurig gemeet en ’n baie stewige hoop kontant word in al drie maatskapppye behou. (In die lig van die internasionale finansiële krisis is dit klaarblyklik wys.)

Dit spreek nogal boekdele dat Johann Rupert, voorsitter van al drie maatskappye onder die Rupert-familie se beheer, die finansiële krisis verwag het lank voordat gebeure die fondamente van die vooraanstaande Amerikaanse en Europese banke geskud het. “Stemmig” en “defensief” het die afgelope 18 maande hoogmode geword, en Rupert se kultusstatus (die internasionale pers noem hom Rupert die Beer) onder internasionale beleggers het verder gestyg.

Hoewel die heersende omstandighede kan bepaal dat die maatskappye onder Rupert-beheer langer as die meeste ander ’n defensiewe benadering volg, is daar besliste tekens dat Reinet, Remgro en Richemont meer energiek lyk.

Dis goed, want die onlangse herstrukturering van Richemont en Remgro het eerder op omsigtigheid as waagmoed gedui. Richemont en Remgro het elkeen hul belang in British American Tobacco (BAT) ontbondel en ’n buitelandse beleggingstelg in die vorm van Reinet Investments gevorm wat ’n klein strategiese belang in BAT behou.

Richemont het ook ontslae geraak van sy klein tegnologiebelange, wat toe in Reinet saamgebondel is, terwyl Remgro ’n beduidende hou-by-wat-jy-ken-transaksie gesluit het deur sy korporatiewe neef VenFin, ’n tegnologiegerigte beleggingspesialis wat tot die laat 1990’s deel van die ou Rembrandt-groep was, te verkry.

Die ontbondeling van BAT was uiteraard ’n waterskeidingstransaksie vir die Rupert-familie. Tabak is – sedert die dae van Voorbrand – die middelpunt van die Rembrandt-groep (en later Richemont en Remgro). Sonder die bemoedigende kontantvloei van BAT was dit noodsaaklik dat Richemont en Remgro hul defensiewe eienskappe toon, veral in die lig van die internasionale finansiële krisis.

Nou is die mark, wat nooit geduldig is nie, gretig om te sien dat die twee sterk maatskappye die geleenthede ten beste benut wat deur die pynlike finansiële ineenstorting veroorsaak is.

Terwyl Richemont eintlik tot beleggings in die voorste luuksehandelsmerke beperk is, is daar tekens dat die groep – wat werklik uiters konserwatief geraak het – dit oorweeg om sy bedryfsfokus uit te brei deur ’n wyer modekleinhandelelement by te voeg.

Vir die beleggingsmaatskappye Remgro en Reinet lyk die argument nog oortuigender.

Remgro is groot en sonder fokus en steun swaar op sy ouer nywerheid- en finansiëledienstebeleggings. Natuurlik is daar voortdurend oproepe om waarde te ontsluit, die strategiese fokus te verskerp... selfs die onderliggende portefeulje te ontbind en te verdeel.

Reinet word deur die oorblyfsel van die BAT-belang geanker wat oorspronklik in Richemont en Remgro gehou is. Party mense beskou die BAT-belang, wat sowat 85% van Reinet se waarde verteenwoordig, as “valuta” eerder as ’n strategiese belegging.

Remgro en Reinet kan albei op betroubare kontantvloei of dividende staatmaak van die beleggings wat – in dié stadium – die beleggingsportefeulje oorheers.

Kan mens dus aanneem dat daar dalk ’n voerstrategie – wat miskien Warren Buffett se Berkshire Hathaway-model naboots, soos ’n ontleder onlangs bespiegel het – by Remgro en Reinet vorm aanneem?

Só ’n strategie sal konsolidasie in goed gevestigde en oorheersende beleggings behels en kontantvloei van dié “betroubare” beleggings benut om avontuurliker ondernemings te verkry en op te bou, en ook nuwe geleenthede te soek.

Transaksievloei sal die mark(te) opgewonde hou – veral as Remgro of Reinet nog ’n Vodacom (wat sterk kontantvloei gelewer en geweldige waarde vir VenFin geskep het voordat die belang aan Vodafone verkoop is) kan vind.

Remgro het beslis talle jong beleggings betrek, asook talle nuwe media- en tegnologiegeleenthede, toe hy VenFin oorgeneem het. Reinet begin ná ’n stil begin ook vinniger ’n gespesialiseerde beleggingsportefeulje opbou.



DIE VERHAAL VAN TWEE TEGNOLOGIE-TRANSAKSIES

DIT IS nie maklik om die Rupert-familie se vermoë om tendense raak te sien – veral in die TMT-sektor – te bevraagteken nie wanneer ontsaglike opbrengste verdien word op beleggings soos Vodacom (wat ’n paar jaar gelede aan Vodafone verkoop is).

Daar was treffers (soos e.tv en Tracker), maar daar was ook mislukkings in die tegnologieportefeulje (die vernaamste was Intervid).

By die bekendmaking van Remgro se resultate vir die jaar tot einde Maart verlede week, was die treffers en mislukkings van TMT-belegging duidelik sigbaar.

Twee van Remgro se belowendste onlangse tegnologiebeleggings kon be-swaarlik ’n groter teenstelling bied.

’n Taamlik opsigtelike klad op Remgro se resultate was die verkoop van die belegging in die draadlosetegnologiespesialis Xiocom vir ’n nominale bedrag. Dit was beswaarlik ’n betekenislose flirtasie. Remgro het $36 miljoen (R270 miljoen) van ’n toegewese belegging van $50 miljoen in Xiocom belê. Met die verkoop is ’n verlies van $13,5 miljoen ná belasting gely, terwyl Xiocom ’n wesensverlies van R79 miljoen tot Remgro se wesensverdienste “bygedra” het.

Jannie Durand, Remgro se beleggingshoof, sê Xiocom is verkoop omdat die maatskappy nie die mylpale bereik het wat Remgro verwag het nie.

“Dis ’n treurige einde, maar ek het net ’n bodemlose put gesien ...”

Daarteenoor geniet Remgro blykbaar sy belegging in die ondersesekabelonderneming Seacom. Hy stel die waarde van sy 25%-belang in Seacom op R1,2 miljard, gegrond op ’n verdiskonteerde-kontantvloeimodel (met ’n diskontokoers van 10%). Dit gee Seacom ’n ondernemingswaarde van byna R4,5 miljard.

Ongelukkig kon die bedryfsprestasie van Seacom, wat internasionale optiesevesel-bandwydte met hoë kapasiteit vir Suider- en Oos-Afrika verskaf, nie uit Remgro se resultate afgelei word nie. As gevolg van verskillende boekjaareindes is Seacom se resultate nie by dié van Remgro ingesluit nie.

Die waarde van Remgro se Seacom-belang – wat reeds ’n eerste dividend opgelewer het – het binne twee jaar meer as viervoudig toegeneem.



RICHEMONT

RUPERT DIE BEER

Hoewel Richemont nie bekend is as ’n maatskappy wat baie oornames doen nie, het hy oor die jare ’n aantal bykomende weeldehandelsname bygekry – veral horlosiemakers (die jongste was Roger Dubois laat in 2008).

Die boonste deel van die luuksehandelsnaamspektrum is stram en is waar-skynlik meer geskik vir kleiner, selektiewe verkrygings.

Met so ’n uitgebreide reeks – waaronder handelsname soos Cartier, Piaget, Panerai, Van Cleef & Arpels, Baume & Mercier, Vacheron & Constantin, IWC en Jaeger-LeCoultre – is daar nie veel meer wat Richemont kan begeer nie.

Maar begeer kan hy wel ... Richemont kan dit maklik bekostig om ’n groot transaksie te finansier. Die maatskappy het die jaar tot einde Maart afgesluit met €1,9 miljard netto kontant (gelyk aan ongeveer R18 miljard).

Hoewel uitvoerende amptenare van Richemont op ’n onlangse aanbieding vir beleggingsontleders beklemtoon het dat kontant in die huidige moeilike tye ’n vesting is, is daar aanduidings dat die groep op soek is na strategiese geleenthede.

Dit is interessant dat kapitaalbesteding by Richemont hoofsaaklik gebruik is om die kleinhandelafdeling uit te brei (’n segment wat in die afswaai veerkrag getoon het). En dis waar die fokus kan wees as nuwe geleenthede gesoek word. Richemont het nog niks regstreeks oor verkrygings laat val nie, maar Richard Lepeu, adjunk- uitvoerende hoof, en Johann Rupert, voorsitter en uitvoerende hoof, het te kenne gegee dat Richemont groeigeleenthede in nuwe markte dophou.

Groeigeleenthede kan meebring dat hy wyer kyk as sy kernbelange in juweliersware en spesialishorlosiemakery. Die rigting waarin hy beweeg – altans, met die verkryging van volle beheer oor die aanlynmodekleinhandelaar Net-a-Porter – is in ooreenstemming met die Rupert-familie se voorliefde vir tegnologie.

Op die oog af is Net-a-Porter allesbehalwe die tipiese Rupert-familiebelegging. In dié stadium kan Net-a-Porter, wat in die jaar tot einde Januarie ’n omset van £120 miljoen behaal het, nie as ’n internasionaal bekende handelsnaam beskou word nie en dit is te betwyfel of daar op die oomblik sterk kontantvloei is. Die bestuur, gelei deur Natalie Massenet, word klaarblyklik hoog aangeslaan deur Richemont, want Net-a-Porter gaan as ’n onafhanklike entiteit bestuur word.

Dis nie verbasend nie dat daar gewonder word of Richemont te veel betaal het vir ’n ekonomiese belang van meer as 93% in die onderneming. Die Richemont-belegging het Net-a-Porter se waarde op ongeveer £350 miljoen (byna R4 miljard) gestel.

Dit is moontlik dat die mark nie die Richemont-base se geesdrif vir Net-a-Porter sal deel nie. Die geesdrif vir die Ruperts se tegnologie-avonture is trouens op die oomblik ietwat gedemp. Remgro (en vermoedelik ook Reinet Investments) het onlangs R270 mil-joen verloor met ’n veelbesproke tegnologie-onderneming met die naam Xiocom Wireless – ’n belegging wat aanvanklik in Richemont se tegnologiegroep gehuisves is. Daarom is dit volgens uitvoerende amptenare van Richemont nood-saaklik dat Net-a-Porter goed vaar in die komende boekjaar.

Op langer termyn kan Net-a-Porter dalk net die doepa wees wat Richemont se flouerige modegroep (Chloe, Dunhill en Lancel) opkikker – mits sy belowende inkomstesyfers taamlik gou ook tot goeie winssyfers lei.

Terwyl Richemont baie aandag gee aan die versterking van sy kleinhandelteenwoordigheid, kan Net-a-Porter, wat ’n “mini-Google” genoem word vanweë sy vermoë om waardevolle data te kry, ’n baie strategiese faktor word. Op die oomblik verkoop hy hoofsaaklik duurder mode-items, maar die geleentheid om ander weeldehandelsname te bemark, moet sekerlik ontsaglike potensiaal inhou.

As die modekleinhandel wel aandag kry, kan daar iets steek in die gerugte dat Richemont ogies maak vir die skuldbelaaide Italiaanse modehuis Prada. Hoewel sprake van ’n Prada-transaksie afgemaak word, lyk dit byna onvermydelik dat bykomende (en beduidende) elemente by Richemont se onderpresterende “modesegment” gevoeg moet word; die segment het in die jaar tot einde Maart ’n bedryfsverlies van €36 miljoen gely op ’n omset van €584 miljoen.

Ons kan dalk binnekort sien hoe modebewus die Ruperts kan wees.



REMGRO
RUPERT DIE DAPPERE

Afgesien van ’n berg kontant – R4,7 miljard, hoofsaaklik in dollar en euro – word Remgro stewig geanker deur ’n nywerheidsportefeulje van byna R30 miljard en beduidende finansiëledienstebelange in Rand Aksepbank Beherend/FirstRand ter waarde van byna R20 miljard.

Belange in die nuwe tegnologie- en media-afdelings is vergelykenderwys klein, onderskeidelik R3 miljard en R1,5 miljard.

Dit is dié afdelings wat volgens Remgro se beleggingshoof, Jannie Durand – wat na Finweek se mening grootgemaak word om by die lank dienende uitvoerende hoof, Thys Visser, oor te neem – in die toekoms belangriker sal word.

Daar is inderdaad ’n paar aantreklike bates onder die breër TMT (tegnologie, media en telekommunikasie)-belange – strategiese belange in die ondersesekabelspesialis Seacom, die gratis TV-kanaal e.tv, die sporthandelsmerkspesialis Marc (voorheen Sail), die CIV-groep (wat die belowende Dark Fibre Africa insluit) en die voertuigopsporingsmaatskappy Tracker.

Baie van dié belange is voorheen in die ou VenFin gehou wat Remgro in 2009 in ’n aandeelruiling gekry het.

Daar is skeptici wat vas oortuig is daarvan dat VenFin weinig belofte inhou ná die verkoop van sy 15%-belang in die selfoondienstegroep Vodacom.

’n Aansienlike deel van Remgro se stewige kontantvloei en dividende uit sy finansiële en nywerheidsbelange sal uiteraard bestem wees vir die versterking van bestaande TMT-belange asook die verkryging van nuwe geleenthede.

Inderwaarheid het Remgro ’n baie goeie kans om ’n groot TMT-transaksie te beklink.

Die mark sal egter die benutting van kontant in bestaande TMT-belange fyn dophou nadat Remgro sy vingers verbrand het met Xiocom, ’n draadlosetegnologiespesialis waarin hy byna R270 miljoen belê het. Remgro het ’n kwaai verlies gely en toe kop uitgetrek – iets wat die vertroue kan skaad in die maatskappy se vermoë om tegnologiewenners te kies (lees die kassie).

Dis gerusstellend dat Remgro beslis nie net tegnologie najaag nie. Johann Rupert, voorsitter, besef sekerlik dat die kern van Remgro se stewige nywerheidsportefeulje – waarvan ’n groot deel in sy oorlede pa, Anton, se tyd byeengebring is – onvervangbaar is.

In dié verband is dit bemoedigend dat Remgro sy portefeuljebelange vasbeslote vergroot – veral wat betref die drankprodusent Distell. Die grootste vreugde vir Remgro sal wees as hy SABMiller (of selfs Zeder, wat deur PSG beheer word) kan oorreed om van sy strategiese belange in Distell afstand te doen.

Met die blootstelling van nuwer nywerheidsbelange (die glasgroep PGSI en Kagiso Infrastructure Empowerment Fund) kan mens wonder of Remgro dit sou oorweeg om sekere van sy belange te konsolideer deur die uitkoop van minderheidsaandeelhouers in maatskappye waaroor hy volle beheer het. Hier dink mens aan die kon-tantryke Medi-Clinic en Rainbow Chicken.

Na Finweek se mening kan Remgro in komende jare dalk aantreklik wees as ’n instrument wat beleggers die enigste toetreepunt na ongenoteerde maatskappye van topgehalte bied. Dit is bemoedigend om te sien dat die waarde van ongenoteerde nywerheidsbelange – hoofsaaklik Unilever, TSB Sugar, Total SA, Air Products en Kagiso Trust Investments – meer as R11 miljard is. As die belange in die media- en tegnologiemaatskappye bygetel word, bedra die ongenoteerde beleggings ’n stewige R15 miljard.

Daar sal opgewondenheid wees oor die nuus dat Remgro sy strategiese belang in die diamantmyngroep Trans Hex gaan ontbondel. Maar dis sekerlik ’n unieke gebeurtenis, wat gedryf word deur ’n risiko-beloning-scenario waarvan Remgro nie hou nie.

As gebeure by Trans Hex op ’n algemene regruk van die portefeulje dui, kom die lot van Remgro se groot – maar passiewe – belange in Impala Platinum en Nampak ter sprake.

Dis belangrik dat die diskonto van Remgro se aandeelprys tot sy intrinsieke waarde, wat in 2009 nog 30% was, onlangs tot minder as 20% gekrimp het – ’n teken dat die mark ontwikkelinge verwag.



REINET

Rupert die onverskrokkene

JOHANN RUPERT, uitvoerende voorsitter, fondsbestuurder en beherende aandeelhouer van Reinet Investments, het op verskeie algemene jaarvergaderings laat 2008 en vroeg 2009 bekend geword as waarskynlik die gesaghebbendste, mees uitgesproke en vermaaklikste kommentator oor die subprima-krisis wat hom aan die afspeel was.

Dit is dalk hoekom die eerste amptelike transaksie wat Reinet gesluit het, was om die beleggingsbankafdeling van die ineengestorte Lehman Brothers (vermoedelik spotgoedkoop) te koop.

Terwyl party oë oor die transaksie gerek het (die Lehman-maatskappy is intussen tot Trilantic Capital Partners hernoem), het die feit dat sowat 85% van Reinet se intrinsieke waarde steeds uit British American Tobacco (BAT) bestaan, meer as genoeg troos gebied.

Terwyl die Lehman-transaksie die verwagtinge vir inspirerende transaksievloei vergroot het, het Reinet hom ’n tyd lank stil gedra.

’n Aantal kommentators (ook Finweek) kon nie anders nie as om te wonder of Reinet dalk ’n paar geleenthede wat noodverkopings bied, misloop. Rupert het immers daarop gesinspeel dat Reinet die enigste speler was wat nog staande was en dat talle interessante geleenthede in die batebestuursomgewing ondersoek word.

En met dié dat Rupert ’n vet tarief met die bestuur van Reinet se bates – asook ’n prestasiebonus wat aan die aandeelprys gekoppel is (wat weer aan BAT se aandeelprys gekoppel is) – kan verdien, was ’n paar mense ontsteld oor die gebrek aan optrede by Reinet.

Boonop het Rupert weer die pos van uitvoerende hoof by Richemont oorgeneem (terwyl hy ook sy pos as uitvoerende voorsitter behou) – sodat mens redelikerwys kon aanneem dat Reinet se hooffiguur dalk met belangriker sake besig is.

En toe – asof hy wou sê: “Wil julle ’n transaksie hê? Ek sal vir julle ’n transaksie gee!” – betrap Rupert die mark heeltemal onkant met twee ongewone transaksies in Amerika.

Al is hulle in die geheel beskou taamlik klein, dui die verbintenis van sowat €150 miljoen (R1,4 miljard) tot nuwe beleggings in Amerika daarop dat Rupert bereid is om Reinet risiko’s te laat loop.

Die belegging in ’n jong beleggingsonderneming genaamd Vanterra Flex Investments (wat blykbaar ’n wye mandaat het) verlede maand is nie so verbasend nie. Maar om €74 miljoen te bestee aan verbandlenings vir eiendom in Florida en Noord- en Suid-Carolina – gebiede wat so te sê deur die subprima-krisis oorweldig is – is baie, baie onkonvensioneel.

As daar nou iemand was wat bo die subprima-krisis uitgetroon het, was dit Rupert, en dit moet ’n mate van gerusstelling bied. Maar Reinet het – soos die meeste Rupert-familiemaatskappye – nie veel besonderhede van die Amerikaanse transaksies gegee nie.

Wat wel bekend gemaak is, is dat die verbandleningstransaksie niks meer as die verkryging van skuld van plaaslike uitleners teen beduidende afslag op die nominale waarde behels nie.

Die waarheid is egter dat die Amerikaanse beleggings (waaronder die ou Lehman Brothers-sake) steeds nie veel afleiding van die BAT-belang– wat byna R20 miljard werd is – bied nie. Hulle dui egter wel op “aggressiewe oogmerke”, wat kan beteken dat Rupert Reinet van die konserwatiewe kultuur bevry het wat by die ander maat-skappye heers wat die familie beheer.

Reinet het reeds van ’n familietradisie afgewyk deur sy dividend vir die jaar tot einde Maart oor te slaan, al is daar daarop gesinspeel dat ’n uitkering vir die tydperk oorweeg sou word. Dalk moet dit in die lig van Reinet se taamlik groot kapitaalverbintenisse tot sy Amerikaanse beleggings, waaronder Trilantic, beskou word. En mens moet onthou dat Rupert Reinet moet opbou wat met ’n markkapitalisasie van R22 miljard nie eens die helfte so groot soos sy korporatiewe neef Remgro is nie.

As jy ’n dividend wil hê, is dit waarskynlik beter om BAT regstreeks te koop. Maar as jy Rupert met ’n skoot goed berekende risiko wil hê, is Reinet net die ding. 

* Die skrywer het aandele in Reinet Investments, Richemont en Remgro.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Rand - Dollar
19.13
-0.6%
Rand - Pound
23.82
-0.6%
Rand - Euro
20.38
-0.4%
Rand - Aus dollar
12.31
-0.5%
Rand - Yen
0.12
-0.5%
Platinum
953.10
+0.0%
Palladium
1,043.00
+0.8%
Gold
2,380.35
+0.8%
Silver
28.35
+0.5%
Brent Crude
87.29
-3.1%
Top 40
67,246
+0.5%
All Share
73,324
+0.5%
Resource 10
63,201
-0.3%
Industrial 25
98,529
+0.7%
Financial 15
15,520
+0.9%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Company Snapshot
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE
Government tenders

Find public sector tender opportunities in South Africa here.

Government tenders
This portal provides access to information on all tenders made by all public sector organisations in all spheres of government.
Browse tenders