Johannesburg. - In ’n deeglike ondersoek na die finansiële-mediamaatskappy Moneyweb se
rekeningkundige verslae is verskeie onreëlmatighede blootgelê.
Dié onreëlmatighede gaan ’n negatiewe invloed op die maatskappy
se resultate vir die
boekjaar tot einde Maart hê, het Moneyweb sy aandeelhouers in ’n verklaring
gewaarsku.
Op 8 April is aangekondig dat mnr. Danie Wessels, finansiële
direkteur en maatskappysekretaris, bedank het ná ’n interne ondersoek na die
wanbestuur van maatskappygeld.
Moneyweb het reeds ’n strafregtelike
saak in verband met die onreëlmatighede aanhangig gemaak. Mnr. John Donnelly is
as finansiële direkteur en maatskappysekretaris in Wessels se plek aangestel.
Die groep se winsgewendheid is ook
geraak deur die aanvangskoste om “looklocal”, ’n nuwe plaaslike platform vir
gemeenskapswebtuistes, te loods.
Moneyweb het die platform ontwikkel
en bestuur dit nou namens die Caxton-groep.
Moneyweb verwag ’n verlies per
aandeel van tussen 3,36c en 4,11c en ’n wesensverlies per aandeel van tussen
2,57c en 3,14c vir die boekjaar. Ondanks die geldverlies weens rekeningkundige
onreëlmatighede, is die groep steeds finansieël gesond en het kontantreserwes
van R24 miljoen en geen skuld nie. Moneyweb se harde werk om sy internet- en radioplatforms uit te
brei, het sy omset met tussen 29% en 31% laat klim. Die groep se jaarresultate sal na verwagting teen 30 Junie
uitgereik word. – Sens