Die media- en
drukgroep Caxton se wins en omset het effens gestyg oor die afgelope
boekjaar.
Caxton se omset
vir die boekjaar tot einde Junie het met 6,2% gestyg tot R4,3 miljard teenoor
die vorige vergelykbare periode.
Die maatskappy se
nabelaste wins het met die eerste oogopslag met ’n wesenlike 29% gestyg tot R468
miljoen.
Die skerp styging
is egter die gevolg van ’n verlies op wisselkoerskontrakte in die vorige
boekjaar, wat sy wins tóé ernstig geknou het.
’n Beter maatstaf
vir Caxton se boekjaar is sy aangepaste wesensverdienste wat met 6% gestyg het
tot 106,2c.
Aandeelhouers kan
egter steeds gelukkig wees met ’n dividenduitbetaling van 40c per aandeel.
Caxton beskryf sy
resultate as “taamlik goed” onder moeilike markomstandighede.
Die maatskappy sê
die koerantbesigheid sukkel steeds namate lesers ál hoe meer op die internet
staatmaak vir hul nuus, maar dat hy gelukkig is omdat die meerderheid van sy
koerante gratis streeksblaaie is, wat goeie groei toon.
Poniekoerante is
ook beter daaraan toe as die groot dag- en Sondagkoerante. The
Citizen, wat deur Caxton besit word, se sirkulasie het nie gedaal nie.
Die maatskappy is
egter besorg oor die eiendoms- en geklassifiseerde mark. Híér vind “wesenlike”
migrasie plaas na digitale platforms toe, eerder as meer tradisionele
geklassifiseerde blaaie in koerante.
Caxton het oor sy
boekjaar R316 miljoen belê in kapitaalbesteding en sê hy beoog verdere besteding
van R120 miljoen oor die volgende boekjaar soos sy drukaanlegte uitgebrei
word.