Share

Einde van die pad – PSG

Kaapstad. – Hulle het dit so ver geneem soos wat hulle kon.

Só verduidelik Piet Mouton, uitvoerende hoof van die Stellenbosse beleggingsgroep PSG, die skielike verkoop van die belang in Capevin Holdings.

Capevin Holdings se enigste belegging is ’n nie-regstreekse belang van 28,9% in die genoteerde drankreus Distell.

Capevin Holdings het sy ontstaan gehad toe KWV Beperk ’n paar jaar gelede in twee verdeel is – ’n bedryfsmaatskappy en ’n maatskappy wat die belang in Distell hou.

PSG het onlangs in sy jaarresultate gesê sy landboubeleggingsmaatskappy, Zeder, het ’n wins van R441 miljoen uit die verkoop van die Capevin-belang gemaak. Die interne opbrengskoers op die belegging was 19% per jaar oor sewe jaar sedert PSG die aandele in KWV verkry het wat toe later na Zeder oorgedra is.

Zeder was instrumenteel in die verdeling van KWV asook in die onlangse samesmelting van Capevin Holdings en Capevin Investments (laasgenoemde was een van die maatskappye in ’n piramide-struktuur waardeur die aandele in Distell gehou word).

Mouton het by navraag bevestig die verkoop van Capevin het te doen gehad met lisensie-ooreenkomste wat Distell het.

“Ons het dit so ver gevat soos ons kon,” het hy gesê. Die “volgende vlak” wat afgebreek sou moes word, is Remgro-Capevin Beleggings Beperk. RemgroCapevin het 58,9% van Distell se aandele.

“Ons kon dit nie verder vat nie, want daar is allerhande kontrakte wat in die gedrang kan kom.

“As ons dit verder gevat het, sou dit gesien word as ’n beheer-verandering-gebeurtenis. Distell kon moontlik – ek sê nie definitief nie – van sy kontrakte op die handelsname wat hy nie self besit nie, verloor het,” sê Mouton.

Die belegging pas ook nie meer by die nuwe strategie van die groep in om “aktief by die besluitneming van ’n belegging betrokke te wees nie”.

Chris Otto, ’n direkteur van PSG en voorsitter van Capevin Holdings, sê daar is twee redes hoekom die struktuur nie verder afgebreek kon word nie.

Een van die redes is die vertroulike lisensie-ooreenkomste wat Distell met sekere oorsese drankmaatskappye het en die ander is ’n dekade oue reëling tussen die ou KWV, die beleggingsmaatskappy Remgro, die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) en voorgangers van Distell oor hoe hulle die binnelandse “mark verdeel het”.

Daar is sekere voorkoopregte tussen dié partye op aandele onderling.

Otto het dit as ’n baie ingewikkelde reëling beskryf wat boonop aan geheimhouding onderworpe is.

Die SAB het byvoorbeeld kragtens dié ooreenkoms vandag nog amper 30% in Distell waarmee hy nie mag stem of verteenwoordiging in die direksie kry nie.

Of ’n verandering in beheer sou plaasvind as voortgegaan is om die struktuur af te breek, het hy gesê: “Daar is baie verskillende menings daaroor onder senior advokate.”

10 jaar later, klaar met KWV

PSG se belang in Capevin het ’n lang aanloop wat ’n dekade gelede begin het met die herstrukturering van die KWV, wat toe deur ’n koöperasie beheer is.

Die rolspelers in die ketting van gebeure wat tot PSG se aandeelhouding gelei het, sluit in:

* ’n Groep waarna as die Groep van Vyf verwys is (wat die sakeman GT Ferreira ingesluit het), het in 2002 ’n aandeelblok met ’n sterk stem in die verloop van KWV se herstrukturering gevorm.

* In 2004 het die sakeman Christo Wiese die grootste enkele aandeelhouer in KWV geword (die aandele sluit blykbaar die groep van vyf s’n in) om glo ’n “vyandige oorname” van die drankmaatskappy af te weer.

* In 2006 het Wiese sy belang in KWV vir aandele in PSG verruil en so het dié groep die grootste aandeelhouer naas KWV se bemagtigingskonsortium geword.

* In 2006 is dié KWV-aandele na die PSG-groep se nuutgestigte landboubeleggingsmaatskappy, Zeder, oorgedra.

* In 2009 was PSG en Zeder instrumenteel in die herstrukturering van die ou KWV wat tot die ontknoping van ’n nie-regstreekse belang in die groter en winsgewender drankmaatskappy Distell aan aandeelhouers gelei het. Die aandeelhouers besit toe aandele in Capevin Holdings.

* Begin 2011 het Zeder sy belang in KWV verkoop aan die swart beleggingsgroep HCI waarin die klerewerkersvakbond Sactwu die grootste belang het.

* In Augustus 2012 was Zeder instrumenteel daarin dat een van die maatskappye in die piramide-struktuur waardeur die Distell-belang gehou is, verwyder is deurdat Capevin Holdings Capevin Investments oorgeneem het.

* Begin vanjaar het Zeder driekwart van sy 20%-belang in Capevin Holdings verkoop.

Zeder vra toestemming

Zeder gaan op sy jaarvergadering aandeelhouers se toestemming vra om die res van sy Capevin Holdings-aandele te verkoop. Hy het 20% in Capevin gehad en hou nog sowat 5% oor nadat hy die res onlangs vir byna R800 miljoen aan Allan Gray en Coronation verkoop het.

Piet Mouton, uitvoerende hoof van PSG, sê ingevolge JSE-reëls moet toestemming van aandeelhouers verkry word om nog Capevin-aandele te verkoop.

Mouton sê Zeder wil nie noodwendig al die aandele teen Junie verkoop soos elders berig is nie. “Ons het tans R700 miljoen kontant by Zeder; ons sal verkoop as die prys reg is. As dit teen Junie is, sal ons verkoop.”


 
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Rand - Dollar
18.89
+0.3%
Rand - Pound
23.82
+0.4%
Rand - Euro
20.37
+0.3%
Rand - Aus dollar
12.30
+0.3%
Rand - Yen
0.12
+0.3%
Platinum
908.05
0.0%
Palladium
1,014.94
0.0%
Gold
2,232.75
-0.0%
Silver
24.95
-0.1%
Brent Crude
87.00
+1.8%
Top 40
68,346
0.0%
All Share
74,536
0.0%
Resource 10
57,251
0.0%
Industrial 25
103,936
0.0%
Financial 15
16,502
0.0%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Company Snapshot
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE
Government tenders

Find public sector tender opportunities in South Africa here.

Government tenders
This portal provides access to information on all tenders made by all public sector organisations in all spheres of government.
Browse tenders