Share

'n Mulderhek gaan oop

Die verrassendste aanstelling in die Zuma-kabinet is dié van Pieter Mulder, leier van die VF+, as adjunk-minister. Colleen Naudé het hom 'n paar vrae gevra.

1. Wat is jou reaksie op Jan-Jan Joubert se bewering (in Rapport) dat jy nie veel meer as 'n werfbobbejaan in die kabinet gaan wees nie?

Jan-Jan Joubert se deurlopende snedige aanvalle op die VF+ en sy openlike pro-DA-sentimente tydens die verkiesing moet in ag geneem word in die beoordeling van sy stelling. 'n Werfbobbejaan is vas aan 'n ketting en kan nie uit vrye wil weg van die werf beweeg nie. Die ANC het 'n 65%-meerderheid in die verkiesing gekry en het nie die VF+ nodig om te kan regeer nie. Die uitnodiging het geen voorwaardes nie. Die VF+ kan enige tyd daarvan wegbeweeg. Die DA se 16%-steun in die verkiesing kon mnr. (Jacob) Zuma nie keer nie. Vir die volgende vyf jaar is die werklikheid dat mnr. Zuma en die ANC die land gaan regeer. Moes die kans om 'n voet in die deur te kry en nader te kom aan daar waar die werklike besluite geneem word, van die hand gewys word ten gunste van watter alternatief?

2. Hoe gaan jy voorkom dat jy 'n tweede Kortbroek word - dat jou party ingesluk word?

Mnr. (Marthinus) van Schalkwyk het sy party ná onderhandeling in die ANC ingelei en 'n kabinetspos gekry. Die VF+ het as voorwaarde gestel dat die party geen beginsels prysgee nie en as opposisieparty voortgaan om 'n kritiese rol te speel. Dit is 'n ernstige poging van mnr. Zuma om af te wyk van die tradisionele Westminster-kabinetsreëls om 'n unieke Afrika-manier van regeer in te stel wat vir SA se diversiteit voorsiening maak. Die tyd sal leer in watter mate dit gaan slaag. In sy inhuldigingstoespraak het mnr. Zuma gesê: "Ons moet 'n vennootskap aangaan... gegrond op die beginsels van onderlinge respek en die vrye uitdrukking van verskillende sienings. Ons soek nie konformiteit nie. Ons soek 'n lewendige, dinamiese vennootskap wat deur demokratiese gesprekke verryk word wat uiteenlopende sienings waardeer en teenkanting akkommodeer."

3. Hoe dikwels gebeur dit dat iemand (elders ter wêreld) uit die opposisie in 'n kabinet aangestel word? Het dit dan gewerk?

Dit gebeur in lande waar die regerende party nie 'n meerderheid het nie en daarom opposisielede aanstel ten einde 'n meerderheid te kry. In hierdie geval het die ANC 'n groot meerderheid, wat die aanbod uniek maak.

4. Wat is in die eerste plek jou rol: leier van die VF+ of adjunk-minister?

In die eerste plek is ek die leier van die VF+ wat strategies verskillende opsies moet oorweeg om by die VF+ se doelwitte uit te kom. Hierdie uitnodiging van mnr. Zuma was 'n unieke opsie uit die bloute wat vinnig oorweeg moes word. Ander opsies is om die ANC by die stembus te verslaan of dat 'n koalisie van opposisiepartye gesamentlik die ANC by die stembus verslaan. As die verkiesingsuitslag ontleed word en spesifiek na die DA se mislukking gekyk word om enige betekenisvolle swart steun te trek, het die laaste twee opsies geen kans op sukses nie.

5. Dink jy nie dit gaan uiters frustrerend wees nie: soos enige ander adjunk kan jy dinge gedoen wil kry, maar die minister slaan steeds die kitaar?

Natuurlik gaan dit uiters frustrerend wees - maar dit kan moeilik frustrerender wees as om uit die opposisiebanke dop te hou hoe die regering foute maak. Die gereelde toegang tot ministers en besluitneming gaan soms 'n ver-skil maak wat die frustrasies die moeite werd maak.

6. Wat beskou jy as jou grootste uitdaging in jou portefeulje: landbou, bosbou of vissery?

Sonder voedselsekerheid is hongersnood en daaropvolgende onstabiliteit ons voorland.

7. Hoekom dink jy (regtig) het Zuma jou aangestel?

Ek weet nie. In toesprake het ek ernstig van hom verskil en die ANC gereeld aangeval. Miskien het die wyse waarop ons verskil het, 'n rol gespeel. Voor die verkiesing het hy berekend na Afrikaners uitgereik. Hierdie gesprekke is tereg deur baie skepties bejeën as politieke aksies voor die verkiesing. Deur dit ná die verkiesing met hierdie aanbod op te volg, is 'n boodskap om iets van die Mandela-era terug te kry waarop ons moet reageer. Deur die aanbod van die hand te wys, sou beteken dat hierdie hand, wat in belang van almal in SA uitgereik word, weggeklap word. Dit het die keuse so moeilik gemaak.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Rand - Dollar
18.99
-0.4%
Rand - Pound
23.99
-0.4%
Rand - Euro
20.52
-0.3%
Rand - Aus dollar
12.37
-0.2%
Rand - Yen
0.13
-0.5%
Platinum
904.37
+0.8%
Palladium
1,014.65
+1.3%
Gold
2,209.01
+0.7%
Silver
24.67
+0.1%
Brent Crude
86.09
-0.2%
Top 40
68,311
+0.9%
All Share
74,499
+0.8%
Resource 10
57,075
+2.5%
Industrial 25
104,076
+0.8%
Financial 15
16,473
-0.3%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Company Snapshot
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE
Government tenders

Find public sector tender opportunities in South Africa here.

Government tenders
This portal provides access to information on all tenders made by all public sector organisations in all spheres of government.
Browse tenders