Related Articles
Top Stories
May 27 2012 11:21
There's a price war raging between South Africa's cellphone networks after Cell C lowered the rates of its prepaid calls by more than 34%.
May 27 2012 13:09
The oversupply of golf estates has claimed another victim.
May 28 2012 07:53
The City of Cape Town has spent R175m running the Myciti bus service since the Soccer World Cup compared to an income of R35m, a report says.
Noudat skuldkrisisse die Europese Unie se minder gedissiplineerde, meer romantiese en spandabelriger lande teister en wanbetaling die magtige Amerika in die gesig staar, is dit dalk tyd om weer na Gresham se wet se kyk: Slegte geld dryf altyd goeie geld uit.
Sir Thomas Gresham (1519-1579), ’n Engelse finansier tydens die Tudor-era en adviseur vir Elizabeth die eerste, het vorendag gekom met die idee dat verstandige mense “goeie” geld wil behou en dit daarom bêre. Hulle gebruik dan “slegte” geld om goed mee te koop en skuld te vereffen.
Destyds is geld as goed of sleg beskou na gelang van die edelmetaalinhoud van die munte wat gebruik is. Aangesien sigwaarde, wat deur die uitreikende owerheid bepaal is, nie verander het wanneer die edelmetaalinhoud afneem nie, was dit natuurlik logies om goeie munte te probeer behou en slegtes uit te gee. Gevolglik het slegte geld die goeie geld uit omloop gedryf.
In Augustus 1971, as ’n verslaggewer wat die jaarvergaderings van die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank in Washington gedek het, het dié gryse rubriekskrywer aanskou hoe die destydse Amerikaanse president, Richard Nixon, vir die wêreld aankondig dat hy die goudvenster sluit wat die Geallieerdes aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog ingestel het.
Soos die presidensiële biograaf, Stephen Ambrose, in die tweede volume van sy omvangryke trilogie oor Nixon opmerk: “... Amerika het ingestem om die dollar in te stel as die standaard waaraan alle ander geldeenhede gemeet sal word deur goud teen $35 per ons te koop, en die vaste pryse het die dollar ‘so goed soos goud’ gemaak.”
Nixon het gesê hy het besluit “... om die omskepbaarheid van die dollar in goud tydelik op te hef”. Die “tydelik” het permanent geword, en vandag het jy 50 keer soveel dollars nodig om ’n ons goud te koop.
Geld as ’n ruilmiddel en bron van waarde het ’n geskiedenis wat oor baie duisende jare strek. Fiat-geld, dit is geld wat gesteun word deur die beloftes en reputasie van sy uitreiker eerder as deur iets tasbaars, is ’n wesenlike element in die groei van die moderne wêreldekonomie.
Sonder fiat-geld, wat vandag grotendeels net as elektroniese seine en bisse bestaan, sou die ontwikkeling van die moderne samelewing nie moontlik gewees het nie.
Om wat as kommoditeitsgeld of onder goudbulle as “eerlike” geld bekend staan, te probeer gebruik om wêreldwye ekonomiese aktiwiteit van hedendaagse omvang te fasiliteer, sou ’n hersenskim wees. Dit sou wees om terug te keer na ’n ruilhandelstelsel, wat uiteraard stadig, lomp, omslagtig en beperk is.
Ruilhandel gaan natuurlik steeds voort. Grondeienaars in Europa word dikwels deur huurderboere in natura betaal, soos met wyn, olywe of gereelde voedselvoorsiening. Dit sluit nie net fiat-geld uit nie, maar ook die belastinggaarder.
Ongelukkig, soos die res van die mensdom, is politici feilbaar en dikwels roekeloos en dwaas, met die gevolg dat die samelewing gereeld deur monetêre krisisse geruk word. Dit word in die eurogebied vererger deur die onverstandige en vrugtelose plan vir lande, wat kultureel so uiteenlopend soos Griekeland en Duitsland is, om ’n geldeenheid te deel.
Een van die gevolge van die euro is dat die mark se selfregstellingsmeganisme nie toegelaat word om te werk nie. As Griekeland nog die dragma gehad het en fiskaal oortree het, sou die dragma minstens 50% van sy waarde verloor het. Toeriste sou ingestroom het, saam met kopers van Griekse bates teen winskooppryse.
Dan sou die Grieke hulself reggeruk het, die dragma sou herstel het en ’n ander land sou gefouteer het. Wat die euro gedoen het, is om lande wat hulle wangedra, teen die dissipline van die mark te beskerm sodat hulle, sonder die verswakking van hul geldeenheid, in hul ergste fiskale gewoontes verval het.