Related Articles
Top Stories
Feb 13 2012 12:15
Miner Xstrata says it has brought forward maintenance on two furnaces to assist Eskom to save power.
Feb 13 2012 10:43
Although jobs were created, the economy is still 420 000 jobs short of the peak employment level before the 2009 global financial crisis, says Adcorp.
Feb 13 2012 07:58
Greek lawmakers have approved a new round of drastic austerity measures after a long day of street battles between police and protesters left dozens injured.
BELASTINGOMBUDSMAN: Verontregte belastingbetalers het ’n kampvegter nodig.
WAT IS die verband tussen ’n Moldawiese ontkleedanser wat in ’n tronk in Kaapstad was en nou in die konstitusionele hof ’n oorwinning in ’n betwiste skuldsaak behaal het, en artikel 99 van die inkomstebelastingwet? Lees verder.
Min staatsdepartemente is magtiger as die belastinggaarder. Dié mag word in die belastinggaarder se beleid weerspieël dat jy nou betaal en later stry, en dat hy rente op nieaftrekbare belasting teen die prima koers plus ’n groot marge van jou hef, maar as hy verkeerd is, jou met rente onder die prima koers terugbetaal wat, om skande by skade te voeg, in jou hande belasbaar is.
Daarom het baie samelewings ’n belastingombudsman aangestel om as tussenganger tussen verontregte belastingbetalers en die belastinggaarder te dien.
SA oorweeg nou ook ’n belastingombudsman om mense by te staan wat ’n meningsverskil met die SA Inkomstediens (SAID) het.
Een van dié meningsverskille kan heel moontlik artikel 99 van die inkomstebelastingwet, nommer 58 van 1962, behels wat, soos die SAID dit stel, hom “toelaat om werkgewers, of enigeen in beheer van ’n belastingbetaler se geld, aan te stel om namens hom as agent op te tree”.
Dit beteken dat as die SAID besluit jy skuld hom geld, hy jou werkgewer of bankier of wie ook al eensydig kan gelas om jou geld aan hom oor te betaal. Dis nie vir die SAID nodig om ’n hofbevel te kry om sy eis te bewys nie.
Dit is soortgelyk aan ’n loonbeslagbevel. Sulke bevele kan egter, afgesien van die geval van die SAID, nie sonder drie voorwaardes ingestel word nie, soos navorsing van die Universiteit van Pretoria toon. Dit is as die hof dit gelas het, of as die skuldenaar in die saak daartoe instem of ingevolge artikel 65J(2)(b), wat bepaal dat ’n bevel verkry en ’n geregistreerde brief aan die skuldenaar in die saak gestuur moet word waarin betaling geëis word.
In die navorsingsverslag word gesê dat die “tweede en derde geval probleme skep”. Hulle is ingewikkeld en duur en dis moeilik om daaroor toesig te hou (veral weens die wanfunksionerende toestand van ons howe) en kan maklik misbruik word. En as só ’n bevel toegestaan word, dra werkgewers dit sonder uitsondering aan invorderingsagentskappe oor.
Die SAID sê dat hy minstens sewe kennisgewings aan vermeende wanbetalende belastingbetalers stuur voordat hy sy mag ingevolge artikel 99 uitoefen. Dis dalk waar en mens het in die lig van so baie mense se onwilligheid om hul belasting te betaal en die onbevoegdheid van staatsjustisieamptenare simpatie met die SAID.
Feit bly egter dat só ’n eensydige loonbeslagbevel verleentheid, afdanking en vele ander aanslae op ’n belastingbetaler se waardigheid en privaatheid tot gevolg kan hê.
Dit bring ons by die Moldawiese ontkleedanser. Sy het na bewering geld geskuld, nes vermeende wanbetalende belastingbetalers aan die SAID skuld. Sy is ingevolge nog ’n antieke stuk wetgewing – artikel 30 van die landdroshofwet van 1944 – vervolg en tot tronkstraf gevonnis op grond daarvan dat sy vlugrisiko inhou.
Die konstitusionele hof het beslis dat dié prosedure ongrondwetlik is omdat mens nie tronkstraf kan kry weens skuld wat nie wetlik bewys is nie.
Tronkstraf is ’n straf. Dis ook straf as jou werkgewer of enige ander entiteit wat die SAID meen toegang tot jou geld het, namens die staat op jou salaris of ander bates beslag lê. Regter Mogoeng wa Mogoeng het in die ontkleedanser se geval beslis dat mens nie gestraf kan word weens “skuld wat op sigself nie deur die regsproses bepaal is nie”.
Die grondwetlikheid van artikel 99 is in 1998 onsuksesvol uitgedaag deur ’n belastingbetaler wat verkeerdelik ’n terugbetaling van die SAID gekry het en geweier het om dit terug te betaal. Dit was ’n opportunistiese poging wat verdien het om te misluk en waarin die hof artikel 99 as ’n “baie belangrike wapen vir die staat” bestempel het.
Maar die feit dat dit ’n belangrike wapen vir die staat is, beteken nie dat dit grondwetlik is nie, en dit verdien om weer uitgedaag te word.