Loading...
See More

Vodacom sien rooi

Apr 21 2011 00:00 Simon Dingle
Net vyf minute se blootstelling aan enige media sou die afgelope tyd waarskynlik genoeg gewees het om een van Vodacom se “word rooi”-advertensies op te merk. Met R200 miljoen wat aan die veldtog bestee word, snap SA die boodskap. Vodacom het sy blou vir ’n nuwe rooi voorkoms verruil. Dit pas in by die handelsmerkvoorkoms van sy moedermaatskappy, die Britse selfoonreus Vodafone.

Met dié dat Vodafone 65% van die sellulêre groep besit, was dit eintlik net ’n kwessie van tyd voordat sake rooi geword het. Dis verbasend dat Vodafone nie ook ’n naamsverandering opgedwing het nie. Wees verseker: hy wou. Pieter Uys, uitvoerende hoof van Vodacom, en sy span het daarin geslaag om dié poging af te weer en te sorg dat SA se oudste sellulêre netwerk sy naam behou, selfs al moet hy sy voorkoms verander.

Die belangriker veranderinge is agter die rooi fasade.

Uys het verlede week, voor die bekendstelling van die groot herposisionering, op ’n nuuskonferensie gesê sy span werk hard aan die herstrukturering van die bestuur. Hy toer deur die land, ontmoet Vodacom-personeellede en blaas nuwe lewe in die groep.

Uys het sy kantoor agtergelaat – die fyn afgewerkte hoekeenheid van sy voorganger, Alan Knott-Craig, wat die maatskappy gestig het. Deesdae het hy ’n eenvoudige lessenaar in ’n oopplankantoor op Vodacom se korporatiewe kampus. Ek verneem dat sy nuwe lessenaar nie van enigiemand anders s’n in die kantoor onderskei kan word nie.

Uys wil duidelik baie betrokke wees. Hy was nog altyd op die voorpunt van Vodacom se tegniese vooruitgang. Hy lyk ook nie vir my na die soort ou wat dit geniet om opdragte uit die hoogte uit te deel nie – hy wil self aan die werk spring.

Sinieser ontleders se interpretasie verskil. Volgens hul weergawe vereenvoudig Vodacom sy bestuurstruktuur om die inskakeling by en strenger bestuur van Vodafone te hanteer. Dis die oorgang van Vodacom van ’n outokratiese groep na ’n afdeling van Vodafone.

Die ware rede is eenvoudiger. Uys het verduidelik dat Vodacom baie van sy bestuurstake in die onderneming gedupliseer het omdat hy met verskeie markte werk. Die opruiming behels byvoorbeeld om die mensehulpbrondepartemente in ’n gesentraliseerde bestuurseenheid saam te voeg. Dit is blykbaar gedoen sonder dat koppe gewaai het. Trouens, een van die veranderinge – aan sy inbelsentrumbedrywighede – het werkskepping tot gevolg.

’n Verklaring wat die maatskappy verlede week uitgereik het, lui: “Inbelsentrumagente wat deur derde partye aan Vodacom gekontrakteer is, sal eerder aan spesialis-inbelsentrummaatskappye gekontrakteer word. Deur sentrums van uitnemendheid te skep wat kenners op hul bepaalde terrein bestuur, is die doel met dié veranderinge om die doeltreffendheid en kennisvlak van inbelsentrums te verbeter. Dit sal uiteindelik ’n beter kliëntervaring tot gevolg hê.”

Basies sal dit daartoe lei dat 700 tydelike personeellede voltydse werknemers van die derde partye word. En hopelik lei dit tot beter diens aan Vodacom se kliënte.

Die maatskappy is ook in ’n stryd met Cell C gewikkel. In die besonder omstrede nuwe Cell C-advertensie haal Trevor Noah weer sy streke uit. Hy stap verby ’n afgeleefde blou kar wat half rooi geverf is (Vodacom) na ’n nuwe swart Ferrari (Cell C). Vodacom is kwaad en het Cell C na die owerheid vir reklamestandaarde gesleep.

Die waarheid is dat Cell C wel ’n blink nuwe netwerk het, maar Vodacom ook. Die nuwe rooi maatskappy het sy toringinfrastruktuur in 2010 laat vaar en gebruik dieselfde HSPA+-tegnologie waarop Cell C sy nuwe netwerk gegrond het – hoewel teen ’n minder ideale frekwensie.

Vodacom het in 2010 na kwartaallikse verslagdoening oorgeskakel, pleks van die halfjaarlikse minimum wat die JSE vereis. Dit was ’n slim skuif. Die groep het ná ’n onstuimige toetrede tot die plaaslike beurs belowende syfers om deur die jaar mee te spog. Met nuwe bestuurstrukture, die suksesvolle behoud van sy markvoorsprong in SA en nou strenger betrokkenheid van sy Britse meesters, is Vodacom meer as net ’n ou maatskappy met ’n nuwe handelsmerk.

Dis die flinke, flukse Afrika-afdeling van ’n sellulêre ryk wat byna elke mark oorheers wat hy betree het.
vodacom  |  vodafone
NEXT ON FIN24X

Vrae oor Afrox se toekomspad

2011-08-04 00:00

 
 
 
 

Company Snapshot

We're talking about:

Small Business

Retailers of any shape and size can now unlock the power of mobile transacting.
 

Money Clinic

Money Clinic
Do you have a question about your finances? We'll get an expert opinion.
Click here...
Loading...