Fin24

Verskansing red direkteure

2010-03-18 00:00

VIER direkteure en die maatskappysekretaris van die uitkontraktering- en sakesteundienstegroep Simeka het altesame 15 miljoen van hul aandele vir byna tien keer die huidige markprys verkoop ingevolge verskansingsposisies wat drie jaar gelede aangegaan is.

Met 'n huidige waarde van net R2,4 miljoen (16c per aandeel) is die 15 miljoen aandele teen 125c stuk by Simeka se uitvoerende hoof, Mohammed Varachia, en sy kollegas gekoop. Dit het hulle R18,75 miljoen in die bank besorg. Varachia het 12,5 miljoen van sy eie aandele deur sy maatskappy Varachia Beherend verskans. Die verskansings is in November 2007 ingestel toe Simeka teen minder as 120c verhandel het.

Laat in 2007 het 'n finansiële instelling ingestem om Varachia en sy kollegas se aandele teen 125c stuk by hulle te koop as die prys teen Desember 2009 tot onder dié vlak daal. In ruil daarvoor het die direkteure ooreengekom om dieselfde getal aandele teen 166c te koop as die aandeel in dieselfde tyd tot hoër as dié prys styg.

Ten tyde van die verskansing was dié AltX-maatskappy se aandeelprys reeds goed op pad afwaarts, ná 'n hoogtepunt van 167c in Julie 2007. Saam met die res van die kleinkapitalisasiemaatskappye op die junior bord is Simeka sedertdien in 'n volgehoue vryval op pad na sy laagste prys sedert notering in 2004. Teen die huidige waardasies word Simeka gewaardeer teen die lae prys-verdienste-veelvoud van 2,5.

Simeka se markprysprobleme is tekenend van dié van die AltX-indeks, wat sedert vroeg in 2009 met meer as 60% getuimel het. Die indeks van alle aandele het egter in die teenoorgestelde rigting as die AltX beweeg en het sedert vroeg 2009 met tot 60% gestyg.

Die internasionale broueryreus SABMiller weerspieël die indeks se vertoning, en die uitvoerende hoof, Graham Mackay, het nie op hom laat wag nie en meer as die helfte van die 211 000 aandele verkoop wat hy onlangs ingevolge die maatskappy se aansporingskema ontvang het. Mackay het 144 000 SABMiller-aandele teen £18,02 (R200,92) elk verkoop nadat hy £8,28 (R92,30) elk daarvoor betaal het. Dit het vir al die aandele betaal en gesorg vir 'n lekker wins van £850 680 (R9,4 miljoen).