Share

Sharemaxers droom voort

“Die direktief van die Reserwebank dat beleggers se kapitaal beskerm moet word, beteken allermins dat die statutêre bestuurders nie bates teen minder as kosprys of sindikaat-waarde mag verkoop nie.” – adv. Michael Blackbeard, Reserwebank

’n Heerlike bekgeveg – of is dit burgeroorlog? – woed onder die finansiële adviseurs wat in die verlede so fluks senior burgers se geld by die Sharemax-eiendomsindikate geplaas het. Aan die een kant is daar die groep wat nou die Reserwebank en die nuwe onafhanklike direksie in ’n artikel 311-reëlingskema ongekwalifiseerd steun. Aan die ander kant is daar Herman Waschefort met oplossings, of dalk net drome, wat tog kapitaalverliese en moont-like aanspreeklikhede vir die adviseurs tot gevolg kan hê. Waschefort word in Sharemax-kringe as ’n ketter afgemaak.

Willie Botha, die stigter van Sharemax, het ook die afgelope twee weke teruggekom uit die wildernis. In ’n skrywe aan sy oudkollegas, en veral die finansiële adviseurs, besing hy nou die Reserwebank se lof as hul redder. Die Reserwebank en veral die adjunk-registrateur van banke, Michael Blackbeard, se status het sommer binne twee weke verander van vark in held.

Die rede is die sogenaamde direktief wat die einste Blackbeard gegee het aan die twee statutêre bestuurders, Neels Alant en Jaco Spies, wat hy vir Sharemax en sy sindikate aangestel het. Die direktief bepaal: Die beleggers se kapitaal moet beskerm word, geen likwidasies mag toegestaan word nie en beleggers se deposito’s moet terugbetaal word.

Die finansiële adviseurs, waarskynlik onbewustelik met die hulp van die nuwe voorsitter, oudregter Willie Hartzenberg, en segsman Dawie Roodt, vertolk hierdie direktief heel gerieflik as een waarin die bestuurder onder die voorgestelde 311-reëlingskema geen optrede mag onderneem wat kapitaalverliese kan veroorsaak nie. Kortom, geen gebou, al is dit hoe vrot, mag vervreem word teen minder as die sindikaat-waarde nie.

In sy skrywe vertolk Willem (voorheen Willie) Botha, grootbaas van die ou Share-max, die eerste direktief sommer soos volg: “Die Reserwebank moet die beleggers se kapitaal beskerm.” Dit is dalk ietwat anders as Blackbeard se oorspronklike bedoeling met die direktief.

Die kern van dié artikel 311-reëlingskema is volgens die adviseurs se interpretasie skynbaar dat geen kapitaalverliese gely mag word nie en dat hulle dus alle eise van beleggers sal vryspring. In sy skrywe aan hulle deel Theo van Grijp, een van die driemanskap in beheer van DA-Assits, ’n organisasie wat gestig is om die belange van makelaars te beskerm, die goeie nuus met sy mede-adviseurs.

Op ’n vergadering met Frontier, wat nou Sharemax se dag-tot-dag-bedrywighede bestuur, is gesê “... dat die adviseurs baie ernstig is daaroor dat hulle geen oplossing sal kan steun wat kapitaalverliese tot gevolg gaan hê vir die beleggers nie. Indien die artikel 311-skema kapitaalverliese vir die belegger uitsluit, beteken dit outomaties geen aanspreeklikheid vir kapitaalverliese van die adviseurs nie. Dit is ’n uiters belangrike punt.”

Blackbeard het verlede week sommer baie vinnig aan Finweek bevestig dat direktief nommer een, wat lees “die belegger se kapitaal moet beskerm word”, inderdaad ’n opdrag aan die statutêre bestuurders is om so doelmatig moontlik te werk te gaan met die bates van die beleggers. “Hou die verliese en koste so laag moontlik; die opdrag is nie ’n noodverkoping nie,” verduidelik Blackbeard.

Die interpretasie van die ou Sharemax se finansiële adviseurs, dalk met ’n bietjie hulp van die nuwe direksie van die sindikate en die nuwe bestuursmaatskappy, Frontier, dat dit beteken dat geen kapitaalverliese getoon mag word nie, is bloot verkeerd.

Die netto huurinkomste (sien weer die tabel), dalk met die uitsondering van Leeupoort, is veels te laag om die sogenaamde sindikaatwaarde van die geboue te regverdig. Selfs in die geval van die ordelike verkoop van die geboue gaan die pryse wat behaal kan word, in die meeste gevalle baie minder as 50c van die rand wees.

Dit pas natuurlik die direksie van die sindikate uitstekend dat die adviseurs nou skielik die artikel 311-reëlingskema so gretig steun. Volgens Jaco Spies is daar tans meer as 27 000 individuele beleggings in die sindikate. Die getal mense kan minder wees, dalk iets soos 25 000, omdat sommige beleggers in meer as een sindikaat belê het. Om die reëlingskema te laat werk, het die direkteure die steun van 75% van hierdie 25 000 beleggers nodig – nie net 75% van dié wat by die vergadering opdaag nie, maar 75% van beide hoeveelheid en omvang van die belegging.

In ’n spesiale skrywe “aan finansiële adviseurs wat Sharemax Investments se eiendomsprodukte bemark het”, geteken deur regter W. Hartzenberg, bevestig die direksie dat hulle op 1 Maart ’n soort inligtingsessie gehou het met ’n groep adviseurs wat betrokke was by Sharemax-produkte.

Hartzenberg wys weer daarop hoe belangrik dit is dat die finansiële adviseurs hulle op die hoogte hou van gebeure, en veral om seker te maak dat hul kliënte (beleggers) die oorspronklike media- en ander vrystellings te sien kry. Die rede hiervoor, skryf hy, “is dat die beleggers nie op koerante, die radio of joernaliste se interpretasies moet staatmaak nie”.

Hartzenberg is heeltemal reg, maar dan moet die vrystellings en kommunikasie met adviseurs en die beleggers liefs van die begin af heel volledig wees.

Aan die finansiële adviseurs: dit is nie ’n joernalis se vertolking dié nie. Die eerste punt van die Reserwebank se direktief dat die beleggers se kapitaal beskerm moet word, beteken allermins dat die statutêre bestuurders nie ’n bate mag verkoop teen minder as die sindikaatwaarde nie. Beleggers gaan steeds verliese ly, al werk die artikel 311-reëlingskema perfek.

Nuwe ontwikkeling

Laat Dinsdagmiddag het die onlangs aangestelde “onafhanklike” direkteure van Sharemax toegetree tot die bekgeveg met ’n agt bladsy lange verklaring. Besoek gerus www.frontieram.co.za, tik op kliënte en daarna Sharemax gevolg deur persvrystelling.

art. 311-reëlingskema

Beleggers betaal reeds

’n Artikel 311-reëlingskema om die sake van ’n onderneming wat in ’n ver-knorsing is, te herskik, kos natuurlik baie geld, nes ’n likwidasie. Beleggers in die verskillende sindikate het reeds verlede maand, waarskynlik sonder dat hulle dit besef, R640 000 tot die koste van die beplande artikel 311-reëlingskema bygedra.

Die groot verskil is dat met ’n artikel 311-skema betaal die eienaars, in dié geval die beleggers, die koste. In die geval van ’n likwidasie is die koste vir die rekening van die skuldeisers wat daarom aansoek doen. Wanneer alles afgehandel is, word die koste natuurlik afgetrek van die waarde van die boedel. Niemand wat betrokke is by die artikel 311-skema verwag 100c van die rand nie; dan was so ’n skema mos nie nodig nie.

Die blote feit dat daar vir ’n onderneming of ’n groep sake soos met die Sharemax-sindikate by die hooggeregshof aansoek gedoen word, onderstreep die finansiële probleme van die ondernemings.

In hul motivering aan die Reserwebank oor waarom die direksie van die sindikate wil aansoek doen om die artikel 311-reëlingskema, skryf die voorsitter in paragraaf 3,7: “Sommige van die maatskappye in die groep is klaarblyklik kommersieel insolvent, in so ’n mate dat hulle nie hul skuld kan betaal wanneer dit betaalbaar is nie, en sommige is inderdaad insolvent.”

Die tabel toon dat daar in Februarie verskillende bedrae, maar meestal R44 776 elk, van die sindikate wat dit wel kon bekostig, ingevorder is.

Dit maak ’n aansienlike deel uit van sommige van die sindikate se netto maandelikse inkomste.
 
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Rand - Dollar
19.01
+1.1%
Rand - Pound
23.79
+0.7%
Rand - Euro
20.40
+0.8%
Rand - Aus dollar
12.40
+0.7%
Rand - Yen
0.12
+1.2%
Platinum
925.50
+1.5%
Palladium
989.50
-1.5%
Gold
2,331.85
+0.7%
Silver
27.41
+0.9%
Brent Crude
88.02
-0.5%
Top 40
68,437
-0.2%
All Share
74,329
-0.3%
Resource 10
62,119
+2.7%
Industrial 25
102,531
-1.5%
Financial 15
15,802
-0.2%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Company Snapshot
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE
Government tenders

Find public sector tender opportunities in South Africa here.

Government tenders
This portal provides access to information on all tenders made by all public sector organisations in all spheres of government.
Browse tenders