Related Articles
Top Stories
May 27 2012 11:21
There's a price war raging between South Africa's cellphone networks after Cell C lowered the rates of its prepaid calls by more than 34%.
May 27 2012 13:09
The oversupply of golf estates has claimed another victim.
May 28 2012 07:53
The City of Cape Town has spent R175m running the Myciti bus service since the Soccer World Cup compared to an income of R35m, a report says.
Dit lyk of die ongenoteerde stapelvoedselprodusent Premier Foods, met die private-ekwiteitgroep Brait agter hom, tot ’n aanval in die voedselsektor kan oorgaan. So ’n stap kan die bedryfsomgewing vir genoteerde mededingers, waaronder AVI en Tiger Brands, verander.
Premier, met onder meer handelsmerke soos Blue Ribbon-brood en Iwisa-mieliemeel in sy stal, beplan om die omvang van sy bedrywighede te vergroot deur na ander voedselkategorieë uit te brei. Hy wil nou oor ’n moontlike samesmelting met ander voedselprodusente van dieselfde grootte begin praat.
’n Transaksie met Brait gee sy uitbreidingsplanne geloofwaardigheid. Die private-ekwiteitreus het hom daartoe verbind om ’n langtermyn-aandeelhouer in Premier te word met die opsie om sy belang van 49,9% in die volgende vyf jaar tot 80% te vergroot.
Ian Visser, uitvoerende hoof van Premier wat ná die herstrukturering groep- uitvoerende hoof word met ’n fokus op die oorkoepelende strategie, uitbreiding in Afrika en verkrygingsgroei, het aan Finweek nie heeltemal nie, maar byna gesê dat hy ’n transaksie met AVI sal wil sluit. AVI is SA se derde grootste genoteerde voedselmaatskappy. Visser het beklemtoon dat die twee maatskappye nie enige gesprekke voer nie, maar het gesê AVI is ’n goeie voorbeeld van die soort maatskappy waarmee Premier oor moontlike transaksies sou wou praat.
AVI, die moedermaatskappy van onder meer Bakers en Five Roses, is ’n groot kliënt van Premier en hulle het al ’n lang verhouding. AVI se 2011-inkomste was meer as R7 miljard en Premier s’n net meer as R5 miljard.
“Omdat ons nie so ’n omvattende mandjie soos sê Tiger Brands en Pioneer Food Holdings het nie, het ons die voordeel dat daar baie maatskappye is waarmee ons kan praat en die transaksies deur die mededingingskommissie goedgekeur kan kry,” sê Visser.
Tiger Brands, die land se grootste voedselprodusent, wat ook ’n vet balansstaat het, het in Maart 2009 sy plan laat vaar om ’n aanbod vir AVI te doen, blykbaar omdat daar gemeen is dat die plaaslike teenmededingingsowerhede ’n probleem daarmee sou hê.
Anthony Clark, voedselhandelontleder van Vunani Securities, sê hoewel AVI ’n aantreklike kopie vir Premier sou wees, só ’n transaksie “dinamies en onwerkbaar” sou wees. “AVI is ’n onderneming wat doeltreffend bestuur word. As Premier ’n aanbod doen, sal al die ander groot voedselmaatskappye betrokke wil raak, en die prys sal reusagtig word,” sê hy.
Visser sê die rede vir die strategie om na ander voedselkategorieë uit te brei en verkrygings te doen, is die besef dat Premier as ’n groot rolspeler in die stapelvoedselmark (hy het ’n aandeel van 78% in die SA meelmark) nie verdere volumegroei kan behaal nie. Hy stem nie met die siening saam dat daar nie meer veel groterige verkrygingsgeleenthede in die bedryf is nie en sê die groep kan geleenthede in segmente soos suiwel en pluimvee ondersoek. Clark sê daar is wel speelruimte, maar die belowendste aandele is nie te koop nie.
“Klante is vir ons die gemene deler. Ons bekyk dit uit ’n verspreidingsoogpunt. Wat kan ons sonder besmetting in dieselfde bakkeryvragmotor sit? Ons kan vanselfsprekend nie paraffien saam met brood vervoer nie. Maar die meeste van die ander voedselsoorte, veral blikkieskos, kan maklik in dieselfde afleweringsvoertuig gesit word,” sê Visser.
Hy sê die uitbreiding in Afrika suid van die Sahara sal stapsgewys geskied, en die groep verkies vennootskappe.
“Die Afrika-strategie is ’n blywende een. Dié transaksie (met Brait) gee ons die vermoë om ’n siening van 20, 30, 40 jaar aan te neem. Die SA mark is baie mededingend en hoogs versadig. Dit beteken nie dat ander lande suid van die Sahara nie mededingend is nie.
“Dis ’n ontwikkelende mark. Mense eet, maar wat hulle eet, is te duur en dit kom nie op ’n betroubaar manier by hulle uit nie, en die gehalte is eerlikwaar skokkend.”
Hy voorspel dat sodra Premier by die res van die mark in Afrika suid van die Sahara betrokke geraak het, sy SA sake op die duur ’n klein deeltjie sal verteenwoordig.