Related Articles
Top Stories
May 27 2012 11:21
There's a price war raging between South Africa's cellphone networks after Cell C lowered the rates of its prepaid calls by more than 34%.
May 27 2012 13:09
The oversupply of golf estates has claimed another victim.
May 28 2012 07:53
The City of Cape Town has spent R175m running the Myciti bus service since the Soccer World Cup compared to an income of R35m, a report says.
Hulamin wankel al ’n ruk lank. Hy is tans in ’n moelike bedryf, waarin hy teen groot, internasionale aluminiumprodusente buite SA meeding. Hy kom ook voor ’n reeks kwessies in die land te staan, soos die wisselkoers en goedkoop invoer.
Die onlangse tussentydse resultate toon dat die onderneming omgeswaai het, maar van ’n lae grondslag af, soos Richard Jacob, uitvoerende hoof, vir ons sê. Die onderneming is in twee eenhede verdeel: die oorheersende Hulamin Rolled Products en Hulamin Extrusion. Die verkoopsvolume by Rolled Products het met 22% tot 208 000 ton, geannualiseerd, gestyg en die wesensverdienste het met ’n geweldige 167% opgeskiet, maar van ’n lae grondslag af. Wat beklemtoon word, is die voortgesette verlaging van eenheidskoste.
“Dis vir ons om ’t ewe. Ons moet volle kapasiteit van 250 000 ton teen 2014 bereik en koste uit die onderneming haal,” sê Jacob. Kapasiteit en koste is grootliks waaroor die onderneming nou gaan. Daar is groot vaste bates, soos meule, wat onder druk is om die beste resultate op te lewer.
Hulamin behels ’n hele reeks dikwels ingewikkelde tegnologie. Die produkte wat hy maak, duik oral op. “Ons optimaliseer deur na volle kapasiteit en kostevermindering te streef. Maar daar is ’n aantal probleme, waaronder die geldeenheid, die toename in invoer na SA en ’n mate van wisselvalligheid op internasionale markte,” sê Jacob.
In Hulamin se tussentydperk was die rand op gemiddeld R6,91 teenoor die dollar – 8% sterker as die gemiddeld R7,54 in die eerste helfte van 2010. Jacob sê die uitwerking wat die sterker rand op die wins het, kanselleer heelwat van die bedryfsverbeteringe uit. Die wesensverdienste is ook effens verwring deur ’n versekeringsuitbetaling van R26 miljoen ná ’n onklaarraking by Camps Drift Hot Mill. Dit het tot die styging van 167% in die wesensverdienste tot R71 miljoen bygedra.
Jacob sê Hulamin se bestelboek bly gesond danksy ’n sterk vraag. “Plaaslike verkope het matig herstel, met die uitsondering van die bou-en-konstruksiesektor, wat die verkope van uitgeperste metaal bly beperk het, soos die geval met goedkoop invoer ook was.” Die groep sal sy uitpersaanleg in Kaapstad einde September sluit. “Extrusion verskil ’n bietjie van Rolled Products. Die verkope is beperk en hy het beduidende oormaatkapasiteit. En daar is die toename in die goedkoop invoer van China,” sê Jacob.
’n Projek van R75 miljoen om die walsbladkapasiteit in Pietermaritzburg te vergroot, is in die tweede kwartaal afgehandel, en die meule word na volle kapasiteit gebring. “Die vooruitsigte vir die tweede helfte van vanjaar is deur die swakker vraag in Europa en Amerika, die ontwrigting van die vloeibare-petroleumgasvoorraad en die uitwerking van die Seifsa-staking op plaaslike klante getemper.” Die staking is ’n kwessie, sê Jacob, nie soseer vir Hulamin-personeellede nie, maar vir sy klante, waarvan sommige hul deure moes sluit.
Hulamin het tans nie veel kontant om mee te speel nie. Die kontant en kontantwaarde het van R30,2 miljoen in die vorige tydperk tot R8,8 miljoen gedaal. Die skuld is egter effens verminder – tot R326,8 miljoen, wat ’n skuldverhouding van 20,3% beteken teenoor 22,7% in die vorige tydperk. Die kontantposisie is belangrik, want daar sal waarskynlik groter druk op Hulamin uitgeoefen word om ’n dividend te betaal. Jacob sê dis iets waarvan die direksie deeglik bewus is en waaraan hy aandag sal gee wanneer hy kan. Op die oomblik lyk dit na ’n balanseertoertjie tussen kapitaalbesteding en ’n moontlike dividend. Hulamin het in 2009 laas ’n dividend uitgekeer.
Noudat dit lyk of hy weer op die regte spoor is, sal Hulamin daarop moet fokus om volle kapasiteit by sy aanlegte te bereik. Hy is nog lank nie daar nie.