Share

Ramos hou die blink kant bo

Laat ek begin deur my kaarte op die tafel oop te sit. Wat hier volg, is suiwer bespiegeling. En voordat jy al wat joernalis is afskryf, laat my toe om die stelling toe te lig.

Jy is sekerlik gefassineer deur die onlangse aankondiging van die weeldegoederegroep Richemont dat hy Maria Ramos as lid van sy direksie benoem. Die voormalige direkteur-generaal van die tesourie en Transnet-baas is toevallig ook die huidige uitvoerende hoof van Absa, nou byna twee jaar lank. Sy is, sover ek weet, die enigste uitvoerende hoof van een van die vier groot banke met ’n direksie-aanstelling in ’n genoteerde buite-maatskappy.

Stephen Koseff, uitvoerende hoof van die land se vyfde grootste bank, is lid van Bidvest se direksie, maar dis ’n praktyk wat die registrateur van banke seker verduur eerder as daadwerklik steun. Fred Phaswana het byvoorbeeld verskeie van sy buite-verbintenisse laat vaar toe hy die aanstelling as voorsitter van Standard Bank aanvaar het. Toe Tom Boardman by Nedbank oorneem, is hy sy voorganger, Richard Laubscher, se setel in Old Mutual plc se direksie aangebied, maar hy het dit van die hand gewys sodat hy sy aandag op sy nuwe taak kan toespits.

Een rede wat Standard Bank aangevoer het vir die ruim goue handdruk van sy gewese voorsitter, Derek Cooper, was dat dit feitlik ’n voltydse pos was wat hom verhinder het om elders ’n beduidende inkomste as direkteur te verdien.

Ramos se geval is beslis ongewoon en verdien nadere ondersoek.

Haar eweknieë tref voorsorgmaatreëls, gebruik hul energie om skaars inkomste in die hande te kry en fokus op kostebesnoeiing. En hulle kyk met ’n mate van ontsteltenis na die stand van kliënte se balansstaat, want hoër rentekoerse gaan feitlik ongetwyfeld weer ’n negatiewe faktor word voordat die jaar tot ’n einde kom.

Ramos is intussen besig om ’n fassinerende internasionale profiel op te bou.

Toe Absa vyf jaar gelede deur Barclays oorgeneem is, was dit die voorsitter, Danie Cronjé, wat ’n sitplek aan Barclays se direksietafel gekry het. Dié voorreg was Steve Booysen nie beskore nie. Ramos het hom vervang voordat sy vyfjaartermyn as uitvoerende hoof van die bankgroep verstryk het.

Sy is lid van die beherende uitvoerende komitee van aandeelhouers waarin sy nie net Absa verteenwoordig nie, maar ook insae kry in Barclays se wêreldwye bedrywighede. Nou is sy genooi om lid te word van die direksie van een van die wêreld se voorste weeldegoederegroepe, wat wel SA wortels het, maar waarvan die invloed en handelsname beslis internasionaal is.

Sy het al as nie-uitvoerende direkteur in ander direksies gedien. Sy het uit die direksies van Remgro en SABMiller bedank kort voordat sy die pos by Absa aanvaar het en het voorheen vir ’n termyn van vier jaar in Sanlam se direksie gedien.

Ramos het voorheen met die Ruperts saamgewerk – by Remgro – en hulle het klaarblyklik waardering vir haar bydraes. Dit maak nie seer dat haar naam gereeld op die tydskrif Fortune se lys van die magtigste vroue ter wêreld verskyn nie.

Ramos is natuurlik die een helfte van SA se magtigste paartjie – as jy wil, kan jy haar en Trevor Manuel die Posh en Becks van die finansiële wêreld noem, maar dis ’n onderskatting van hul aansienlike gesamentlike breinkrag en internasionale bemarkbaarheid.

Toe Jacob Zuma se regering oorneem, is Manuel van finansies na beplanning in die kantoor van die president verskuif – soort van sywaartse bevordering. Nuwe ekonomiese groepe is ingestel om breër sienings in te sluit van hoe die land se finansies bedryf moet word.

Manuel het deesdae nie so ’n sterk openbare beeld soos voorheen nie. Hy praat selde oor kwessies van openbare belang. Onlangse uitsonderings was sy kommentaar om histerie oor die bedreiging van suur mynwater te besweer en die Jimmy Manyi-rassismesage.

Sy lae profiel lei tot bespiegelings dat hy die tyd afwag om iets anders aan te pak. Toe hy die minister van finansies met die langste dienstermyn ter wêreld word, is daar bespiegel dat hy hom by ’n organisasie soos die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) of die Wêreldbank sal aansluit. Sy huwelik met Ramos en haar aanstelling by Absa het voorlopig ’n einde aan dié gerugte gemaak.

Ramos kry nou egter groter internasionale blootstelling (lees asb. weer die inleidende opmerking oor blote bespiegeling) deur Barclays en nou deur Richemont. Dit, saam met haar prestasiegeskiedenis by Transnet en die tesourie, Sanlam en SABMiller, maak haar CV indrukwekkend.

Ramos was nog nooit bang om haar ding te doen nie. As ’n junior werknemer by die destydse Barclays SA het sy die beleid van bankbeurse net vir mans getakel – sy het hoog gemik en daarin geslaag om die maatskappy te oorreed om in 1983 vir haar verdere studie te betaal. Agterna beskou, was dit ’n goeie belegging deur Barclays, wat in 2008 haar dienste as uitvoerende hoof van sy plaaslike filiaal verkry het. Ramos – terug by Barclays – sprei nou weer haar vlerke. Waarheen mik sy?
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Rand - Dollar
19.29
-0.7%
Rand - Pound
23.87
-1.1%
Rand - Euro
20.58
-1.2%
Rand - Aus dollar
12.38
-1.1%
Rand - Yen
0.12
-1.2%
Platinum
943.50
+0.0%
Palladium
1,034.50
-0.1%
Gold
2,391.84
+0.0%
Silver
28.68
+0.0%
Brent Crude
87.29
+0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Company Snapshot
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE
Government tenders

Find public sector tender opportunities in South Africa here.

Government tenders
This portal provides access to information on all tenders made by all public sector organisations in all spheres of government.
Browse tenders