Share

Kopers trek kleinkoppie

Beleggers het hulle die afgelope week behoorlik gewip vir ’n paar grotes. Tussen dié wat skielik besig is om in onguns te verval, is Warren Buffett se Berkshire Hathaway, Australië se reuse-mynboumaatskappy BHP Billiton en my gunsteling, British American Tobacco (BAT). En die Amerikaners is nie die minste lus om te luister na Lloyd Blankfein, uitvoerende hoof van Goldman Sachs, se “ek het nie geweet nie” en het in ’n stadium die aandeelprys lekker gelooi.
Dit lyk dus of die beleggingsadvies “sell in May and go away” vanjaar weer gaan geld.
In tydvolgorde is die straf omtrent soos volg uitgedeel: Vroeg verlede week het BAT gesê dat sy verkope in volume – dit is nou die hoeveelheid sigarette – in die kwartaal tot Maart wêreldwyd met 1% gedaal het. En net daar wip beleggers hulle vir die aandeel en op die JSE verloor BAT ongeveer R15 per aandeel. Dit is net meer as 6% en ook meer as die dividend wat hy pas betaal het.
Dit lyk of beleggers nie verder lees as die inleidende opmerking van ’n 1%-daling in verkope nie. ’n Bietjie laer af in die handelsverklaring skryf Paul Adams, uitvoerende hoof: “Ons klante sukkel klaarblyklik met ekonomiese omstandighede en volumes het weens die afname in die grootte van die mark gedaal. Pryse het egter voortdurend gestyg en die markaandeel het stewig gegroei, wat soliede groei in inkomste tot gevolg gehad het.”
In gewone taal probeer die man sê dat die styging in verkooppryse die 1%-daling in volumes meer as vergoed het en dat wins nog aan die styg is. Op BAT se jaarvergadering verlede week het Richard Barrows, voorsitter, aandeelhouers net weer daaraan herinner dat BAT se omset in 2009 met 17% toegeneem het en die wins met 20%.
En net daar besluit Australië dat die rokers en die myners moet betaal vir die regering se oordadige besteding die afgelope twee jaar om te verseker dat die land nie in ’n resessie verval nie. Australië word nou die eerste land wat rook gaan uitroei met verspot hoë aksynsbelasting. Dit gaan sommer ’n groot deel van Au­stralië se fiskale tekort letterlik in rook laat opgaan, meen die regering. Dit is natuurlik nie heeltemal so maklik nie. Om mee te begin, skep aksyns nie nuwe inkomste vir die land nie. Dit is nie BAT wat dit betaal nie, maar wel die Australiese rokers. En onthou, buitensporige aksyns op ’n pakkie sigarette skep ’n wonderlike speelveld vir almal wat wil vervals en smokkel sonder om aksyns te betaal.
BAT is egter nie die enigste plaaslik bekende maatskappy wat verlede week onder Australië se groot belastinghervormings deurgeloop het nie. Marius Kloppers, uitvoerende hoof van BHP Billiton, het verlede week in ’n spesiale verklaring daarop gewys dat die beplande verhoging in die mynboubelasting in Australië gaan veroorsaak dat die belastingkoers van BHP Billiton se verdienste in die land van 43% tot 57% gaan styg. Ons vriend Julius Malema kan baie hieruit leer. Waarom die myne nasionaliseer? Dit skep net nuwe sorge en bekommernisse vir die regering. Verhoog bloot net die myne se belastingkoers van 43% tot 57%.
Kloppers het skerp daarop gereageer: “Die stabiliteit en mededingendheid van die belastingstelsel was ’n integrerende deel van die belegging in hulpbronne in Australië. As dit ingestel word, sal dit Australië se mededingendheid ernstig bedreig, toekomstige belegging in gevaar stel en die toekomstige welvaart en lewenstandaard van alle Australiërs negatief beïnvloed.” Wie sou kon dink belastingvoorstelle is net so giftig vir beleggers as nasionaliseringsuitsprake deur ’n heethoofdige jeugleier? Beleggers hou glad nie van die “nuwe” Australië nie en die aandeelprys van BHP Billiton het reeds van R259 tot R224 gedaal. Dit is selfs ’n groter daling as wat blyk uit beleggers se pyne met BAT.

’n Seder val in Omaha
Dit was verlede week weer die jaarlikse saamtrek van duisende aandeelhouers van die befaamde Warren Buffett se Berkshire Hathaway in Omaha, Nebraska. Sommige noem dit die Woodstock van die beleggingswêreld. Tog was die publisiteit selfs hier in SA ’n bietjie minder as in die verlede – dalk omdat daar nie meer soveel is om oor te spog nie.
Buffett se onvoorwaardelike steun aan Lloyd Blankfein, uitvoerende hoof van Goldman Sachs, het heelparty van die 40 000 aandeelhouers wat in Omaha saamgetrek het, verbaas. Net ’n week gelede was Goldman Sachs-aandele self een van dié waarvoor beleggers hul skielik gewip het. Blankfein kon in sy getuienis voor die VSA se senaatskomitee niks fout vind met sy bank se optrede nie. Ander weer kon heelwat fout vind en Goldman Sachs se aandeelprys het skielik met meer as 10% gedaal, bloot weens negatiewe sentiment – en nie swakker winsvooruitsigte nie.
Maar Buffett se vertroue in Blankfein is nie al rede waarom die glans van dié 79-jarige se beleggingsvaardighede besig is om te verdof nie. Danksy wonderlike stukkies gereedskap soos Google Finance is dit nou baie maklik om die werklike prestasie oor die afgelope vyf of tien jaar uit te lig. Dit help om daardie lae verwysingsyfer van 40 jaar gelede uit te skakel. Dit help tog nie om daarop te hamer dat ’n belegging oor die afgelope 40 jaar ’n opbrengs van 25% of wat ook al gegee het nie. Ons kan dit nie nou meer koop teen 40 jaar gelede se prys nie. Kyk eerder na wat die afgelope vyf jaar, of hoogstens tien jaar, gebeur het. Dit is die tydperk waarin Buffett so opgehemel is. Tien jaar gelede was daar nog baie wat met hom gespot het omdat hy die dotcom-oplewing nie verstaan het nie.
Die twee grafieke vertel hoe dié seder van die beleggingswêreld ál ouer word. In die eerste vergelyk ons die vertoning van die aandeelprys van Berkshire Hathaway, dit is Buffett se maatskappy, met dié van BAT en BHP Billiton, en sommer as kontrole die S&P 500, die indeks van Amerika se 500 grootste genoteerde aandele. Lesers sal onthou dat Finweek al by verskeie geleent­hede ’n gelyke blootstelling aan BAT en BHP Billiton as die beste internasionale verskansing en verspreiding vir plaaslike beleggers uitgelig het.
Berkshire se aandeelprys, met ’n styging van 36,7% in totaal oor die vyf jaar teenoor die S&P 500, toon dat Buffett wel ’n beter belegger of bestuurder van ’n oorheersende versekeraar, dit is Berkshire se vernaamste bedrywighede, is as die gemiddelde beleggingsbestuurder in Amerika. Die waarde van die S&P 500 het oor die vyf jaar maar met 2,58% gegroei. BAT se aandeelprys is oor dieselfde vyf jaar 110% hoër en dié van BHP Billiton, ’n baie aantreklike 187%.
“ Ja, maar dit is nie reg om net na die laaste vyf jaar te kyk nie,” kla die Buffett-aanhangers. Goed, kom ons kyk ook na een jaar en tien jaar en sit dit sommer alles saam in een tabel. Voeg ook sommer SABMiller by wat net so gerieflik soos BAT en BHP Billiton op die JSE beskikbaar is.
Die tabel vertel sy eie verhaal, maar daar is nog ’n klein stertjie by. Onthou, Berkshire betaal nie ’n dividend nie, terwyl BAT tans weer ’n vet dividend van meer as 5% per jaar aan beleggers bied. As die dividende wat BAT, SABMiller en BHP Billiton oor die afgelope 10 jaar aan hul aandeelhouers uitbetaal het, in die tabel by hul prestasie getel word, word Berkshire se verdubbeling oor die tydperk nog valer. Maar dit kan nie weggeredeneer word nie: Berkshire se aandeelprys het oor die 10 jaar met 94% gestyg.
Die S&P 500 het daarenteen met 18,3% gedaal. Maar plaaslike beleggers en joernaliste moet nou nie heeltemal Buffett-befoeterd raak net omdat meer mense die jaarvergadering bywoon as die vervelige vergaderings van BAT en BHP Billiton nie. Kyk na die grafiek; dit is prestasie en nie die hoeveelheid Woodstockgangers nie wat die beleggingswaarde bepaal.
Net nog so ’n laaste kleintjie. Plaaslike beleggers kan maklik direk in goud belê deur Absa se beursverhandelde fonds (ETF) wat op die JSE onder die kode GLD genoteer is. Dit is die goedkoopste en maklikste manier om blootstelling aan goud te kry. In Amerika is daar ook so ’n fonds, met die kode GLD. Die SPDR Gold Trust is ’n beursverhandelde fonds met die opdrag om die goudprys so na moont­lik te volg. Dit is maar net een van die baie soortgelyke genoteerde fondse wat vir beleggers beskikbaar is. Weer danksy Google Finance was dit maklik om die grafiek van Berkshire se aandeelprys te vergelyk met dié van goud, doodgewone Ou-Testamentiese goud. Dit lyk of die batebestuurder mnr. Goud met ’n styging van 166% oor die afgelope vyf jaar nogal nie sleg gevaar het teenoor mnr. Buffett se 40,5% nie.
Vic de Klerk het aandele in BAT en Billiton
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Rand - Dollar
19.19
-0.2%
Rand - Pound
23.90
-0.3%
Rand - Euro
20.45
-0.3%
Rand - Aus dollar
12.32
-0.2%
Rand - Yen
0.12
-0.3%
Platinum
949.60
-0.1%
Palladium
1,024.00
-0.5%
Gold
2,382.54
+0.1%
Silver
28.30
+0.2%
Brent Crude
87.11
-0.2%
Top 40
66,692
-0.7%
All Share
72,743
-0.7%
Resource 10
62,836
-0.7%
Industrial 25
97,537
-0.9%
Financial 15
15,413
-0.4%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Company Snapshot
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE
Government tenders

Find public sector tender opportunities in South Africa here.

Government tenders
This portal provides access to information on all tenders made by all public sector organisations in all spheres of government.
Browse tenders