Share

Geil groei

Die vooruitsigte vir die landbou wêreldwyd lyk die beste in jare – as ’n mens verby ’n klompie geesdrifdempers, soos plaasmisdaad, grondhervorming en ander politieke kwessies in SA en natuurrampe kyk.

Landbou-ondernemings gaan ongetwyfeld hierin deel.

Nie dat voedselprodusente in die jaar tot einde Februarie vanjaar swak gevaar het nie. Die genoteerde Astral se aandeelprys het byvoorbeeld met 30% gestyg en Afgri s’n met sowat 19%. En dít terwyl voedselpryse byna twee jaar lank nie gestyg het nie en in sommige gevalle selfs gedaal het.

Dalk moet ’n mens heel klinies na die saak kyk: Twee nieverwante opnames oor boere en ondernemings se prestasies die afgelope jaar en die jongste vertrouensindeks vir die landbou dui al drie op ’n (heelwat?) beter tydperk vir dié bedryf.

* Die Landboubesigheidskamer (LBK) se vertrouensindeks vir landbou-ondernemings, wat verlede week bekend gemaak is, dui op ’n groot toename in vertroue by landbou- en landbouverwante ondernemings (sien die grafiek). Die indekspunt van 62 vir die eerste kwartaal van vanjaar is nie net 13% hoër as die 55 van die vorige kwartaal nie, maar ook die hoogste in drie jaar.

Hoër kommoditeitspryse, die groter internasionale vraag na landbouprodukte, ’n lewendiger ekonomie ná die resessie en ’n groot verbetering in algemene landboutoestande is almal positiewe faktore. Selfs die uitvoerverwagtinge is effens beter. Wat omset- en winsverwagtinge betref, is ’n “groot toename” aangedui.

* PwC se gesaghebbende jaarlikse prestasie-opname van landbou-ondernemings, wat onlangs bekend gemaak is, dui op bestendige prestasie ongeag die gedempte landboupryse en swakker omset in 2010.

Kobie Bekker, nasionale hoof vir landbou van dié professioneledienste-groep, sê daar is wel negatiewe tendense, soos ’n groeiende debiteureboek, maar die meeste ondernemings verwag stewige groei van die tweede helfte van die jaar af. Daar is ook aanduidings dat meer alliansies en gesamentlike ondernemings gevorm gaan word om nuwe projekte aan te pak. Dit sal waarde voeg by produkte, sê hy.

Volgens die opname het die netto wins voor rente en belasting van SA se groot landbou-ondernemings in 2010 met 18% teenoor 2009 gedaal. Dit was egter van ’n baie hoë grondslag af omdat 2009 se netto wins 58% hoër was as in 2008.

Klein landbou-ondernemings het verras met ’n 9%-styging in hul netto wins voor rente en belasting.

* Die netto plaasinkomste van SA boere was in die jaar tot einde Junie 2010 wel effens laer, maar aanvaarbaar min onder die omstandighede. Volgens die departement van landbou se direktoraat landboustatistieke was die bruto plaasinkomste 0,6% laer op R128,8 miljard en het die insetkoste met gemiddeld 6,8% toegeneem.

Die netto plaasinkomste was R37,6 miljard, wat as persentasie van die bruto inkomste ’n skaflike 28% beloop het.

Boere belê ook steeds. Die waarde van kapitaalbates in die landbou op 30 Junie 2010 was ’n geraamde R223,4 miljard, 8,2% meer as die vorige jaar se R206,6 miljard. Boere self het dus nie vertroue in die bedryf verloor nie.

Volgens die internasionale Food and Agricultural Organisation (FAO) se voedselprysindeks het voedselpryse van 2006 tot 2008 met gemiddeld 56% gestyg. Die wêreldresessie en ander faktore het dit daarna getemper, maar pryse hardloop opnuut weg. SA se voedselpryse het tot dusver nie naastenby soveel gestyg soos elders nie, maar dubbelsyferstygings in die komende jaar of twee is onvermydelik.

Vir verbruikers is dit nie goeie nuus nie. Vir die primêre en sekondêre landboubedrywe wel. Vir beleggers ook.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Rand - Dollar
19.29
-0.7%
Rand - Pound
23.87
-1.1%
Rand - Euro
20.58
-1.2%
Rand - Aus dollar
12.38
-1.1%
Rand - Yen
0.12
-1.2%
Platinum
943.50
+0.0%
Palladium
1,034.50
-0.1%
Gold
2,391.84
+0.0%
Silver
28.68
+0.0%
Brent-ruolie
87.29
+0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Company Snapshot
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE
Government tenders

Find public sector tender opportunities in South Africa here.

Government tenders
This portal provides access to information on all tenders made by all public sector organisations in all spheres of government.
Browse tenders