Meer as R100 miljard. Dit is reeds die direkte koste toedeelbaar aan die Reserwebank en die tesourie vir hul gesamentlike poging oor die afgelope 18 maande om wal te gooi en te verseker dat die rand nie te veel versterk nie. Uiteraard kom hierdie bedrag uiteindelik uit die sak van belastingbetalers.
Gelukkig is ’n groot deel daarvan nie van ’n kontantvloei-aard nie of is dit net vorige winste op buitelandsevalutareserwes wat nou verdamp het. Belastingbetalers sal dus nie – soos wat tussen 1980 en 1998 dikwels die geval was toe die Reserwebank en die tesourie groot verliese gely het deur die rand se waarde onnatuurlik hoog te probeer hou – direk hiervoor hoef op te dok nie.
Miljarde, veral honderde daarvan, is in die konteks van die SA ekonomie steeds groot syfers. Dit is geen wonder nie die monetêrebeleidskomitee van die Reserwebank, nou onder leiding van Gill Marcus, waarsku in sy jongste verslag van 22 Julie oor die pogings om die waarde van die rand te stabiliseer: “Ons is gereed om voort te gaan om op ’n oorwoë wyse ’n rol te speel, en gesprekke met die nasionale tesourie oor die verskillende opsies om dié kwessies aan te pak, asook die beskikbaarheid van bronne om dit te kan doen, duur voort.”
Dit is geen geheim nie dat die Reserwebank se balansstaat al lank nie meer groot of sterk genoeg is om alleen die oorskot aan dollars, wat na die land bly vloei, te absorbeer nie. Op die oomblik help die tesourie, maar dit plaas selfs druk op hul gesamentlike bronne, soos die jongste verslag van die MBK uitlig.
Om die direkte koste vir die Reserwebank en die tesourie verbonde aan die stabilisering van die wisselkoers te raai/bereken, is dit nodig om te kyk na rekeninge in die boeke van die Reserwebank en die tesourie.
Die gebeurlikheidsreserwerekening vir goud en buitelandse valuta
Die grootste deel van die koste van meer as R100 miljard is die verlies of waardasie-aanpassing van R58 miljard wat die Reserwebank vir die jaar tot 31 Maart op sy gebeurlikheidsreserwerekening vir goud en buitelandse valuta moes doen. Die presiese items op hierdie rekening sal eers volgende week duidelik wees wanneer die bank sy jaarverslag vir die boekjaar tot 31 Maart uitreik. Uit die jongste kwartaalblad van die Reserwebank wat in Junie uitgereik is, verskyn ’n opsomming van die syfer reeds.
Die opgehoopte wins op die bank se valutarekening het in die jaar tot 31 Maart van R101 miljard tot R43 miljard gedaal. Dit is ’n waardasie-aansuiwering wat direk toegeskryf kan word aan die swak vertoning van die Amerikaanse dollar, die euro en die Britse pond, die geldeenhede waarin ons reserwes gehou word.
As jy nie hou van die waardasiebenadering van dié kant nie, kyk dan na die ander kant. Die waarde van ons valutareserwes het oor dié tydperk met R58 miljard gedaal omdat die waarde van die rand gestyg het.
Op die grafiek van die nominale wisselkoers van die rand lig ons die jaarlikse waardasie-aanpassing uit en dit is maklik om te sien hoeveel wins en verlies in elk van die afgelope drie fiskale jare (dit is die jaar tot 31 Maart) op die rekening gemaak is. Die saldo’s van die ongerealiseerde wins op die valutarekening – dit is ’n bate van die tesourie – is vir ons wat met die verliese van 1980 tot 1995 moes saamleef, byna ongelooflik. Die saldo’s en waardasie-aanpassings op die rekening van die Reserwebank lyk soos volg:
Laat ons eers bieg. Ek glo min ekonome, veral dié wat al so effens grys word en nog kan onthou dat die saldo op hierdie valutarekening wat tussen 1980 en 1995 altyd lelik in die rooi was, besef dat dit omgeswaai het na ’n wins of bate van R101 miljard aan die einde van Maart 2009 nie. Die wins word nie graag deur óf die Reserwebank óf die tesourie uitgelig nie. As dit egter teruggetel word by SA se skitterende fiskale prestasies vir die jaar tot Maart 2009, verklaar dit baie goed waarom die rand oor die afgelope 12 tot 18 maande so besonder sterk was.
Die Reserwebank en die tesourie se gesamentlike besit van buitelandsevalutareserwes en die renteverlies daarop
Ja, anders as die gebruik oor die afgelope 75 of meer jaar, moet die naam van die tesourie gevoeg word by dié van die Reserwebank wanneer die maandelikse staat van die land se besit van goud en buitelandsevalutareserwes gepubliseer word. Die Reserwebank se balansstaat is net te klein om dit alleen te hanteer. Trouens, op die oomblik is dit juis die tesourie wat die grootste deel van die oorskot- netto invloei van buitelandse valuta absorbeer.
Die jongste opgesomde staat van goud- en buitelandsevalutareserwes op 31 Julie lyk so:
Dit kos geld om dié hoeveelheid reserwes aan te hou. Die valutareserwes bestaan hoofsaaklik uit Amerikaanse dollars, euro en Britse ponde. Die huidige rentekoerse op deposito’s op hierdie geldeenhede is tans bitter laag. Amerikaanse skatkiswissels met ’n looptyd van 90 dae bied tans ’n rentekoers van slegs 0,13% per jaar aan beleggers soos ons Reserwebank. Op goud en STR (spesiale trekkingsregte) word geen rente verdien nie. Onthou, vir elke goud- of buitelandsevalutabate wat die Reserwebank of die tesourie besit, is daar ’n ooreenstemmende las in SA rand. Die goedkoopste ooreenstemmende geld beskikbaar vir die Reserwebank en die tesourie is plaaslike skatkiswissels van 91 dae waarop die rentekoers tans 6,46% is.
Kortom, die verskil tussen die opbrengs op hierdie buitelandsevalutareserwes en die koste om dit te finansier, is sowat 6% per jaar. Op die totale huidige gesamentlike besit van $43 159 miljoen kan die renteverskil tot $2 590 miljoen per jaar bedra. Dit is ’n direkte koste vir die tesourie – en daarom belastingbetalers – van R19 miljard per jaar. Daar word swaar gesluk aan so ’n potensiële jaarlikse verlies of koste, veral noudat daar gestaak word vir baie kleiner bedrae.
Met dié potensiële koste in die agterkop is dit makliker om Marcus en die MBK se jongste woorde oor die ondersteuning van die wisselkoers – “gesprekke met die nasionale tesourie oor die verskillende opsies om dié kwessies aan te pak, asook die beskikbaarheid van bronne om dit te kan doen, duur voort” – te interpreteer. Dit kos geld om maar net elke maand die oorskot-dollars te koop, en iemand begin swaar sluk.
Die gesteriliseerde geld van die tesourie by die Reserwebank
Wanneer die tesourie, en ook die Reserwebank, oorskot- buitelandse valuta op die plaaslike mark koop, pomp dit ook weer rande in die geldmark. Dit kan te veel geld wees, wat weer die gevaar skep dat dit binnelandse inflasie kan aanblaas. Soms, met groot transaksies, soos wat die geval was met Barclays plc se gedeeltelike oorname van Absa, en wat nou weer kan gebeur met HSBC se potensiële aanbod vir 70% van Nedbank, gebeur dit dat daar net te veel geld die land instroom. Reeds in die geval van die Absa-transaksie het die tesourie direk toegetree en die aanbod dollars gekoop vir rand. Daarna is tesourie-effekte uitgereik om die rand weer op te slurp en is dit toe weer by die Reserwebank gedeponeer. Dit word sterilisasie genoem en op hierdie deposito’s verdien die tesourie geen rente nie, terwyl hy rente moet betaal op die instrumente wat hy uitreik om die rande van die publiek weg te hou. Dit is ’n direkte koste vir belastingbetalers.
Uit die jongste staat van bates en laste van die Reserwebank blyk dit dat die tesourie tans twee tipes deposito’s by die Reserwebank hou waarop geen rente verdien word nie. Saam bedra dié deposito’s net meer as R100 miljard. Die jaarlikse renteverlies hierop kan ook sowat R6 miljard bedra.
Nou is dit tyd om ’n kort sommetjie te maak. Die waardasieverlies op ons buitelandsevalutareserwes het vir die jaar tot 31 Maart reeds R58 miljard bedra. Intussen het die waarde van die rand verder versterk en die saldo op die rekening wat 18 maande gelede nog R101 miljard was, het waarskynlik gedaal tot kwalik meer as R30 miljard. Dit is ’n verlies van R70 miljard.
Die renteverlies op ons steeds groeiende saldo van buitelandsevalutareserwes groei steeds en was die afgelope 18 maande minstens R25 miljard. Die tesourie se renteverlies op sy gesteriliseerde deposito’s was oor die afgelope 18 maande na aan R10 miljard. Alles saam is dit ’n koste van net meer as R100 miljard – net omdat die rand nie swakker wil word nie, al maak die plaaslike politici so dikwels so droog.
Fiskale dissipline en die wisselkoers van die rand
Daniel Mminele, een van die nuwe adjunk-presidente van die Reserwebank, het verlede week in ’n toespraak by die 13de SA konferensie oor interne oudit ’n baie akkurate voorspelling van die wisselkoers van die rand oor die volgende drie jaar gemaak. Dit is potensieel baie sterk.
Om sy opmerkings reg te vertolk, is dit nodig om eers weer te kyk na die destydse (1997-’98) voorwaardes vir die toelating tot die enkelgeldeenheid, die euro, wat in die Maastricht-ooreenkoms saamgevat is. Die twee hoekstene van lidmaatskap van die euro was dat ’n land se fiskale tekort – dit is die verskil tussen die staat se inkomste en uitgawes – nie meer as 3% van sy bruto binnelandse produk (BBP) moet wees nie, terwyl die staat se totale skuld nie 60% van BBP moet oorskry nie.
Op die konferensie van die ouditeure het Mminele oor die finansiële krisis van 2008, wat volgens sommige skynbaar besig is om te wyk, gesê: “Die gesamentlike uitwerking van stadiger groei en groter besteding (deur regerings) was ’n toename in die begrotingstekort van baie gevorderde ekonomieë tot vlakke hoër as 10% van hul BBP. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) skat dat openbareskuldverhoudings gevolglik heel moontlik van ongeveer 70% van die BBP tot sowat 110% van die BBP in 2014 gaan styg. Ons moet onthou dat ’n skuld-BBP-verhouding van 60% nie baie lank gelede nie as op die grens van fiskale onverantwoordelikheid beskou is.”
Ongelukkig sê hy toe nie in sy toespraak wat die posisie in SA is nie. Die Junie-kwartaalblad van die Reserwebank lui egter dat die netto fiskale tekort vir die boekjaar tot 31 Maart van 0,7% die vorige fiskale jaar tot 5,4% van die BBP gestyg het. Dieselfde kwartaalblad skryf dat ons staatskuld oor die twee jaar van 26,6% tot 32,4% van die BBP gestyg het.
As Mminele Maastricht, die IMF se voorspellings en ons lae vlak van staatskuld bymekaar gebring het, sou hy moeilik anders kon voorspel as dat die rand nog aansienlik kan versterk teen die geldeenhede van die “gevorderde ekonomieë” waarna hy verwys.
Dit lyk of die debat oor wie die rand waar in bedwang sal moet hou en hoeveel dit gaan kos, nog lank gaan woed. Hopelik is dit nie een van die onderwerpe wat gesensor gaan word nie. Vir dié van julle wat nog onthou, twee dekades gelede mag ons nie geweet het hoeveel reserwes die land regtig gehad het nie. Die netto tekortposisie in termyndollars van die Reserwebank was ’n staatsgeheim. Vir dié wat vergeet het, die netto buitelandsevalutareserwes was in 1998 ’n yslike negatief van net meer as $25 miljard. In 1993-’94 was die fiskale tekort net meer as 10% van die BBP en die wisselkoers van die rand gedurig onder druk.
Koop RSA-spaareffekteDie rentekoers gaan lank laag bly.As die voorspellings van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) korrek is dat die staatskuld van die ouer ekonomieë soos in Europa en selfs Amerika oor die volgende drie jaar tot meer as 100% van die bruto binnelandse produk (BBP) gaan styg, moet rentekoerse in dié lande nog lank laag bly. Neem Japan as voorbeeld. Die land se staatskuld as persentasie van sy BBP is al lank meer as 200%. Die land oorleef egter omdat sy rentekoerse so laag is. Wat sou in Japan gebeur as rentekoerse tot 10% styg en die rente op staatskuld word 20% van die BBP? Onmiddellike bankrotskap.
Hierdie prentjie van gedwonge lae rentekoerse in menige lande moet net na SA oorspoel. Ons rentekoerse is bloot nog te hoog en dit is een van die belangrikste redes waarom die rand so sterk bly.
Plaaslike rentekoerse moet nog daal en daarom moet almal, veral dié wat al so ’n bietjie grys word, maksimum gebruik maak van die huidige byna verspot aantreklike rentekoerse wat steeds op kleinhandelstaatseffekte beskikbaar is.
Die rentekoers is 8,5% vir die belegging oor twee jaar, 8,75% vir drie jaar en 9% vir vyf jaar. Onthou, hierdie rentekoerse, en ook die kapitaal, word gewaarborg deur die staat en dit is daarom die heel veiligste belegging in SA.
Koop nou, hierdie rentekoerse kan nie meer lank op dié vlakke vasgehou word nie.
Goeie nuus vir uitvoerdersDit lyk asof die reële effektiewe wisselkoers (Reer) van die rand besig is om te draai of minstens te stabiliseer op ongeveer 110. Dit is goeie nuus vir die land se uitvoerders.
Reer is ’n indeks wat bereken word deur die land se gewone nominale wisselkoers, geweeg vir die belangrikheid van ons handelsvennote, aan te pas met die verskil tussen ons inflasiekoers en dié van die handelsvennote. Die teorie sê as ’n land, soos SA tans, se inflasiekoers hoër is as dié van sy handelsvennote, behoort sy geldeenheid deurlopend met dié verskil te verswak. Die teenoorgestelde geld weer as ’n land se inflasiekoers laer is as dié van sy handelsvennote.
In ’n perfekte wêreld sal die waarde van Reer altyd gelyk wees aan 100. Daar kan dus geredeneer word dat ons huidige Reer van 110 vertel dat die waarde van die rand minstens 10% te hoog is. Uitvoerders droom natuurlik van ’n Reer van minder as 100 – nog beter, die 90 en minder van 2008. Maar ongelukkig sien buitelandse beleggers ook raak wanneer ’n geldeenheid ondergewaardeer is en dit is dan wanneer hul kooplus na ons bates nie kan opdroog nie, veral as ons rentekoers ook nog te hoog is.