Share

Balansstaat bars uit sy nate

Die totale bates – en uiteraard laste – van die SA Reserwebank het oor die afgelope 13 jaar meer as net bestendig gestyg: van R57 miljard in Oktober 1998 tot byna R360 miljard. Dit was hoofsaaklik die opbou van wat in die verlede skaars buitelandse valuta genoem is, wat die balansstaat so laat ontplof het.

In die geval van die Federale Reserweraad, Amerika se sentrale bank, word die groei op sy balansstaat tot ’n rekord$2 500 miljard vergelyk met ’n ballon wat iewers in die toekoms afgeblaas sal moet word. Dieselfde geld in mindere mate die Bank van Engeland en die Europese Sentrale Bank (ESB).

Dié banke moes die afgelope drie jaar baie toksiese bates koop om hul onbesonne finansiële sektore te red van die subprima-krisis. Dit was nie vir die SA Reserwebank nodig nie. Al wat hy moes doen, is om die oorvloed van dollars wat aangebied word, te koop. Dit is deels gefinansier deur die tesourie, wat al hoe meer rande en selfs dollars by die Reserwebank moes deponeer.

Maar kom ek hou eers hier op. Die balansstaat is die heel eerste finansiële staat wat die Reserwebank maandeliks bekendmaak. Nogtans trek dit bitter min aandag.

Om die ding te verstaan en veral om ’n sinvolle vertolking daarvan te gee, is nie maklik nie. Dit is veel makliker om net verby te blaai.

Die belangrikste bate van die Reserwebank is sy goud en buitelandse-valutareserwes. Dit het einde Februarie R329 miljard van sy totale bates van R360 miljard (albei syfers effens afgerond) bedra. Die Fed se balansstaat lyk heeltemal anders. Trouens, daar is nie eens buitelandse-valutareserwes nie. Die dollar is mos die wêreld se reserwe-geldeenheid, en as jy valuta nodig het, druk jy net meer dollars.

Pleks van om al die intriges van die balansstaat van die Reserwebank in een artikel te probeer verduidelik, fokus ons liewer net op die buitelandse-valutareserwes, en veral wat sedert Oktober 1998 gebeur het.

Hoekom dié datum? Omdat dit die maand is waarin die Reserwebank se ware buitelandse-valutareserwes ’n laagtepunt van -$23,124 miljard – ja, negatief – bereik het. Die land was totaal bankrot aan valutareserwes nadat die destydse bestuur van die Reserwebank uiters onverstandig die waarde van die rand probeer beskerm het tydens die destydse krisis in die finansiële markte van opkomende lande. Enkele lesers met ’n paar grys hare en veral brandwonde aan die vingers sal ook onthou dat dit die tyd was toe die prima rentekoers in SA tot 25% gestyg het.

Tot en met Julie-Oktober 1998 het die Reserwebank nog met toorwerk aan sy balansstaat die ware toestand van die land se vlak van buitelandse-valutareserwes, of die gebrek daaraan, probeer wegsteek deur baie gebruik te maak van die sogenaamde netto termynposisie in dollar. Op die rekening is miljarde dollars wat ons nie gehad het nie, vooruit verkoop in die misplaaste vertroue dat redelikheid eendag sou terugkeer na die valutamark en dat spekulante sou besef dat die rand totaal ondergewaardeer is.

Dit het ongelukkig nooit gebeur nie en die verlies op hierdie aksies, wat oor ’n paar jaar in die omgewing van R50 miljard bedra het, was natuurlik vir die rekening van die belastingbetalers. Die meeste van ons het gerieflik intussen hiervan vergeet. Van die koste van die bou van atoombomme praat ons nie meer nie.

Nadat Tito Mboweni president van die Reserwebank geword het, is daar besluit om ’n volledige en eerlike tydreeks op te stel van die buitelandse-valutareserwes en dit, heeltemal korrek, die “internasionale likiditeitsposisie” te noem.

Hierdie tydreeks, hoewel bykans net van historiese belang, word steeds maandeliks deur die Reserwebank gepubliseer. Die grafiek is baie insiggewend vir lesers wat wonder wat het dan met ons ekonomie gebeur dat dit klaarblyklik steeds so goed gaan, al is die regering soms baie spandabel en maak individue baie droog.

Die internasionale likiditeit van die Reserwebank – maklik om te verstaan, dit is dieselfde as wat in jou bankrekening is, het sedert Oktober 1998 verander van $23,124 miljard in die rooi in ’n positiewe $44,775 miljard einde Februarie vanjaar. Dit is ’n ommeswaai van net minder as $68 miljard, of sowat R475 miljard teen die huidige wisselkoers van ongeveer R7 teenoor die dollar. Nog twee klein items waaroor in die verlede baie bespiegel is, blyk nou uit die duideliker valuta- en balansstaat van die Reserwebank. Die belangrikste hiervan is dat die tesourie die afgelope paar jaar aansienlik gehelp het om die oorskotdollars wat die land invloei, op te slurp. Dit het al begin toe Barclays sy groot belang in Absa bekom het. Al wat ’n joernalis was, insluitend die skrywer, het hulle moedeloos gesoek na waar die R30 miljard beland het wat vir Absa betaal is. Intussen was dit al die tyd die tesourie wat die dollars gekoop het, dit by die Reserwebank gaan deponeer het en terselfdertyd die rand gesteriliseer het om te keer dat dit die binnelandse ekonomie laat oorverhit.

Die afgelope paar jaar het die tesourie met sy baie groter eie balansstaat die Reserwebank gehelp om oorskotdollars op die koop. Trouens, $6,587 miljard van die $47,311 miljard se bruto buitelandse geld wat die Reserwebank hou, behoort aan die tesourie. Dit het juis in Februarie met $1,255 miljard gestyg nadat die tesourie onlangs besluit het om weer die internasionale kapitaalmark te toets met ’n lening van $750 miljoen. Die lening was terloops uiters suksesvol – vier keer oorvolskryf teen ’n baie lae premie van slegs 1,80 persentasiepunte bo die toepaslike koers op Amerikaanse staatseffekte. Dit is baie minder as waarteen selfs ’n land soos Spanje met ’n baie groter ekonomie as dié van SA tans geld moet leen. Dit help nogal as jou “S” by Bric gevoeg word eerder as by Piigs.

Mboweni se nalatenskap

Die laaste klein intrige in die valuta- en balansstaat van die Reserwebank is dat die termynboek of -rekening weer opgemaak is nadat Tito Mboweni dit destyds doodgeslaan het en beloof het dat dit nooit weer gebruik sal word om ’n sterk rand kunsmatig te probeer skep nie. Maar wees rustig, mnr. Mboweni, dit word nou omgekeerd gebruik.

Pleks van die reuse-, destyds versteekte, negatiewe balans van $23,124 miljard van Oktober 1998, toon dit nou ’n positiewe balans van $44,775 miljard. In die verlede het die Reserwebank dollars wat hy nie gehad het nie in die termynmark verkoop. Nou koop hy dollars waarvoor hy nie rand wil skep om dit in die kontantmark te koop nie. Koop dit eerder in die termynmark, dan betaal jy eers later. Voorheen het ons dollars in die termynmark verkoop met die doel om dit eers later te lewer.

As jy al ooit gewonder het hoe lyk ’n wiel wat oor die afgelope dekade presies 180° gedraai het, gaan kyk gerus na die valuta- en balansstate van die Reserwebank. Kortliks: SA het lank nie meer ’n tekort aan buitelandse-valutareserwes nie en die kans dat enige gebeurtenis van buite ons weer so hard kan klap dat dit nodig gaan wees om soos in 1998 rentekoerse tot 25% te verhoog, is bitter skraal. 
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Rand - Dollar
19.07
+0.5%
Rand - Pound
23.60
+1.0%
Rand - Euro
20.32
+0.3%
Rand - Aus dollar
12.24
+0.5%
Rand - Yen
0.12
+0.4%
Platinum
943.20
-0.8%
Palladium
1,035.50
+0.6%
Gold
2,388.72
+0.4%
Silver
28.63
+1.4%
Brent-ruolie
87.11
-0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Company Snapshot
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE
Government tenders

Find public sector tender opportunities in South Africa here.

Government tenders
This portal provides access to information on all tenders made by all public sector organisations in all spheres of government.
Browse tenders