DAAR is ’n fabel oor ’n argument tussen ’n olifant en ’n muis oor wie die sterkste is. Besonderhede is nie nou belangrik nie, maar laat ons net sê hulle het ooreengekom om te verskil oor hul relatiewe meriete en as ’n gebaar van versoening het die knaagdiertjie saam met sy nuwe vriend gaan stap. Toe hulle oor ’n wankelrige brug stap wat skud onder die slurpdier se gewig, gil die muis (onbewus van sy relatiewe onbeduidendheid) van vreugde: “Kyk net hoe skud die brug terwyl ons daaroor loop!”
HSBC se belangstelling in Nedbank toon ooreenkomste met dié ou fabel.
HSBC, wat hom hoofsaaklik op Asië toespits, is ongeveer 35 keer groter as Nedbank, die kleinste van SA se vier groot banke. Wat teenwoordigheid in Afrika betref, is Standard Bank met sy bande met China se ICBC en Absa met sy Barclays-bande die grootste. FirstRand is nie hier ter sprake nie, maar hy is besig om sy beheerstruktuur te vereenvoudig, wat hom iewers in die toekoms verkoopbaar kan maak. Nedbank is dus die laaste beskikbare opsie – hoewel nie die aantreklikste nie. Hy het bande (wat nog bewys moet word) met Togo se Ecobank en ’n teenwoordigheid in net vyf Afrika-lande buite sy tuisland. Hy het egter ’n sterk korporatiewe en beleggingsbankfranchise – ’n goeie beginpunt vir ’n buitelandse bank wat ’n vastrapplek in Afrika soek.
“Dis ’n goeie transaksie vir Nedbank, maar nie vir HSBC nie,” sê die internasionale bankspesialis Kokkie Kooyman, hoof van Sanlam Investment Management Global. Hy wys daarop dat plaaslike verdienstevooruitsigte op kort termyn vir plaaslike banke onaantreklik is. “HSBC moet ’n tyd van 15-20 jaar in gedagte hê.”
Ronit Ghose, ’n ontleder van Citigroup, is ook versigtig en het kort ná die bekendmaking van die nuus in ’n nota aan kliënte gesê: “Die transaksie sal goed lyk op ’n PowerPoint-skyfie met pyle wat van China/Asië na Afrika wys.”
Dis die aantreklikheid. Afrika-sake groei vinnig, hoofsaaklik danksy Asiatiese investering in die vasteland. Bevestiging van HSBC se belangstelling in Nedbank het gekom terwyl pres. Jacob Zuma ’n afvaardiging van 370 – die grootste nóg uit SA – na Beijing lei in ’n poging om Chinese belangstelling in SA (en dus ook die vasteland) verder as die hulpbronsektor uit te brei.
Die handel tussen China en SA het in die eerste helfte van 2010 met 56% tot $10,8 miljard toegeneem vergeleke met ’n jaar tevore. Ongeveer 30% van SA se uitvoer gaan na China, maar die land bly ’n groter invoerder van verwerkte Chinese goedere as wat China ’n ontvanger van ons grondstowwe is.
“Ons stem almal saam dat daar in SA se uitvoermark na China ’n oorheersing van primêre produkte is en in ons invoer uit China ’n oorheersing van goedere met toegevoegde waarde,” sê Rob Davies, minister van handel en nywerheid. “Ons wil met China saamwerk om dié situasie te probeer regstel sodat ons ’n billiker handelsbalans kan kry,” sê hy.
Standard Bank het verlede week bevestig dat hy ’n memorandum van verstandhouding met China Railway Group onderteken het om te help met die finansiering van spoorlyn- en infrastruktuurprojekte in Afrika. Die eerste hiervan kan ’n snelspoornetwerk van $30 miljard wees, iets wat S’bu Ndebele, minister van vervoer, in 2009 genoem het. Samesprekings met die SA regering is aan die gang. Dit is belangrik vir Standard Bank, en Jacko Maree, uitvoerende hoof, het in ’n onderhoud ná die bekendmaking van die groep se halfjaarresultate toegegee dat vordering met sy groep se bande met ICBC stadiger is as wat verwag is. Drie jaar nadat ICBC 20% van Standard Bank gekoop het, lewer die skakeling minder as 1% van die plaaslike groep se inkomste op, wat daarop dui dat dit moeilik is om teorie in die praktyk om te skakel.
HSBC laat hom nie daardeur afskrik nie. Michael Geoghegan, uitvoerende hoof, maak geen geheim van sy ambisie om as ’n meer beduidende rolspeler in opkomende markte meer sake in Afrika te doen nie. Geoghegan het die akroniem Civets gemunt: Colombia, Indonesië, Viëtnam, Turkye en SA, wat na sy mening die wêreld se volgende groot groeimarkte gaan wees. Hy het vroeër vanjaar aan Reuters gesê: “Elkeen van dié lande het ’n groot, jong, groeiende bevolking. Elkeen het ’n uiteenlopende en dinamiese ekonomie. En elkeen is, relatief gesproke, politiek stabiel.”
Hy het voorts SA se lof besing vir sy hoë onderwysvlakke vergeleke met dié van die res van Afrika en gesê ondanks SA se unieke uitdagings dink hy nie die land sal misluk nie as gevolg van die welwillendheid van die wêreld, wat hom wil laat slaag.
’n Aanbod sal daarvan afhang of HSBC tevrede is met sy kontroleringsondersoek, wat die prys sal bepaal wat hy bereid is om vir die bate te betaal. Nedbank sal in die groter prentjie klein wees vir HSBC, wat ’n markkapitalisasie van $173 miljard het. In die eerste halfjaar het die groep ’n wins van $11,1 miljard behaal en $2,8 miljard se dividende uitbetaal – gelyk aan ongeveer een derde van sy totale markwaarde voordat die moontlikheid van ’n transaksie bekend geword het. As die transaksie beklink word, sal Nedbank 3% van HSBC se bates uitmaak.
HSBC oorweeg sy opsies in die wete dat die “te koop”-bordjie nou onbetwisbaar voor Rivoniaweg 135 hang. Hy weet dat sy mededinger in opkomende markte, Standard Chartered, wat in sy aanbod vir Absa ’n bloutjie geloop het en in die huidige proses uitgeskuif is, gereed is om ’n finansieel stabiele, goed bestuurde Afrika-bankonderneming onder sy neus weg te raap. Daar is baie op die spel en die bates is skaars.
Die grootste hindernis vir enige transaksie in die SA banksektor is om reguleringsgoedkeuring te kry. Dit sal nie tot HSBC se nadeel wees nie dat die president van die Reserwebank, Gill Marcus, voorsitter van Absa was ná die oorname deur Barclays en bewus sal wees van die voordele wat ’n buitelandse aandeelhouer vir ’n plaaslike bank kan inhou. Die bankreguleerder, Errol Kruger, het gewys dat hy sterk onafhanklik is in sy besluitneming as deel van sy toesig oor die plaaslike banksektor. ’n Transaksie sal sy goedkeuring moet kry.
Hy beskou Old Mutual as ’n buitelandse aandeelhouer ondanks die feit dat die groep steeds twee derdes van sy wins in SA verdien en dat die Nedbank-belang via Old Mutual SA (Omsa) gehou word. “Ons beskou die ding baie soos regsgeleerdes. As reguleerders trek ons die korporatiewe sluier weg om te kyk wie is uiteindelik die mag agter die troon,” sê Kruger. “Ons beskou dit as die vervanging van een buitelandse aandeelhouer deur ’n ander een.”
Dit beteken dat die reguleerder nie van die verklaarde beleidsposisie afwyk dat hy net gemaklik voel met buitelandse beheer oor nie meer as twee van die land se vier groot bankgroepe nie.
HSBC sou sy tyd met die omsigtigheidsondersoek gemors het as hy nie ten minste seker was dat sy aansoek goedgunstig oorweeg sou word nie. Die blote feit dat die groep met die ondersoek begin het, is ’n stille erkenning deur die Reserwebank dat solank HSBC aan die kriteria voldoen, sy aansoek waarskynlik goedgekeur sal word.
Van die belangrikste nieonderhandelbare kriteria sal wees dat die uitvoerende hoof van die groep ’n Suid-Afrikaner bly en dat die Reserwebank die hoofreguleerder bly. Die groep se handelsnaam is egter nie onaantasbaar nie. HSBC sal waarskynlik wil hê dat sy handelsnaam in Afrika vertoon word, maar kom in dié verband voor ’n paar probleme te staan. Wat korporatiewe identiteit betref, bestaan Standard Bank en Eerste Nasionale Bank (ENB) in die “blou” spektrum saam, terwyl Absa in finansiële dienste ’n “verbintenismonopolie” op brandweerwarooi het. Die ongeoefende oog kan nie tussen die rooi onderskei wat Absa en HSBC gebruik nie.
Terwyl die besonderhede van enige transaksie uitgewerk sal moet word, is die feite van die saak eenvoudig. Old Mutual is ’n gewillige verkoper en HSBC is ’n gretige koper. Old Mutual se bestuur het onder Julian Roberts, uitvoerende hoof, belowe om die waarde te ontsluit wat in die groep vasgehou word wat teen ’n beduidende afslag van 30% op die ingeslote waarde verhandel – ’n maatstaf in die versekeringsbedryf van die ware waarde van ’n onderneming.
Nedbank verteenwoordig byna ’n kwart van Old Mutual se waarde en het die afgelope drie jaar ’n opbrengs op aandeelhouersbelang van gemiddeld 16,6% gelewer, al beteken druk op die plaaslike bankstelsel dat daar waarskynlik in die voorsienbare toekoms druk op die syfer sal wees.
Ontleders het kommer uitgespreek dat die transaksie Old Mutual se verdienste kan verwater, want hy sal sukkel om ’n opbrengs te behaal soortgelyk aan dié wat hy waarskynlik uit sy Nedbank-belang sou gekry het.
As ’n transaksie gesluit word, sal Mike Brown, uitvoerende hoof van Nedbank, hom in ’n posisie bevind soortgelyk aan dié van Steve Booysen, voormalige uitvoerende hoof van Absa, wie se onderneming aan ’n buitelandse verkrygingsaanbod onderwerp is kort nadat hy die leisels by die groep oorgeneem het. Terwyl daar oor die transaksie bespiegel word, sorg Brown dat hy hom nie tot enige bepaalde posisie verbind nie en hy het dit duidelik gemaak dat as Old Mutual aan ’n hoog geagte internasionale bank verkoop, Nedbank geneë sal wees om met die nuwe aandeelhouer saam te werk.
Dit is onduidelik hoeveel gesprekke tussen Nedbank en moontlike buitelandse aandeelhouers plaasgevind het voordat Old Mutual aan HSBC eksklusiewe onderhandelingsreg gegee het. As samesprekings gevoer is, sê Brown niks daarvan nie, maar hy erken wel dat hy Geoghegan “in die normale gang van sake” ontmoet het.
“Ons het die dokumente Vrydag ontvang en ’n direksievergadering so gou doenlik Vrydagaand gehou. Alle direkteure met botsende belange het hulle onttrek en ’n onafhanklike direkteur het as voorsitter van die vergadering opgetree,” het Brown in ’n e-pos-antwoord gesê op vrae oor hoe die saak benader word. “Daar was ’n algemene gevoel van opwinding, al was dit in daardie stadium net ’n voorstel.”
In die ure net nadat Nedbank sy omsigtigheidsaankondiging gedoen en HSBC sy oogmerke bekend gemaak het, het die bank se aandeelprys met sowat 6% tot 13 950c gestyg – wat die bank ’n markkapitalisasie van byna R70 miljard gegee het.
Dit dui wel daarop dat die mark nie verwag dat Old Mutual as ’n gretige verkoper op ’n beduidende premie sal aandring nie, hoewel ontleders se raming aansienlik wissel.
Ontleders by RAB en Keefe, Bryette & Woods sê die belang sal sowat R60 miljard werd wees as ’n premie van 30% aanvaar word op die sluitingsprys op die Vrydag voordat die transaksie aangekondig is. Kooyman sê die transaksie sal dalk ’n premie van tot 20%-25% op die heersende prys behels, want Old Mutual sal minstens op kort termyn nie die beleggingsopbrengs van 12% kan behaal wat hy tans van Nedbank kry nie. Volgens dié premie is Nedbank sowat R170 per aandeel werd, terwyl Deutsche Securities raam dat ’n aanvaarbare aanbod nader aan R150 sal wees omdat dit Old Mutual sal wees wat die prys bepaal, terwyl minderhede dit waarskynlik maar sal moet aanvaar. Dit sal HSBC ’n beheerpremie van 7% gee – wat normaalweg nie genoeg is om aandeelhouers te oorreed om toekomstige verdienste prys te gee nie.
Hoewel Old Mutual gretig is om te verkoop, is hy hoegenaamd nie ’n desperate verkoper nie. Die nuwe bestuurspan se optrede tot dusver het hom sterk geloofwaardigheid in die mark gegee. Dit sal ondermyn word as hy nie ’n goeie prys vir die bate behaal nie. Dit is ’n moeilike balanseertoertjie – Old Mutual wil sy skuld verminder en wys dat hy daartoe verbind is om sy lomp groepstruktuur te vereenvoudig in sy strewe daarna om ’n gefokusde spaar- en batebestuursonderneming te word. Bankwese pas eenvoudig nie by sy verklaarde profiel in nie en hy sal sy mislukte verkoop van Mutual & Federal in gedagte hou toe hy verplig was om ’n aanbod aan minderhede te doen. Dit is nie in Nedbank se geval ’n opsie nie wat aan die teenoorgestelde kant van die risikospektrum is wat die risikosku Old Mutual wil uitbeeld.
Afrika is ’n fokuspunt vir al hoe meer beleggers, wat die vasteland as ’n grootliks onbenutte ekonomie met byna ’n miljard potensiële verbruikers beskou. Dit is ’n aanloklike prys. Koppel die transaksievloei aan Asië, en die vooruitsigte is baie aanloklik.
Kooyman waarsku: “As hulle die transaksie sluit, sal dit ’n lang, moeilike proses wees. Baie van sy Asiatiese kliënte het reeds bankverhoudings in Afrika, en as jy hulle wil lok, sal jy marge moet prysgee en geduldig moet wees. Dit duur lank.”
Slagoffers van hul eie sukses
Hoekom SA banke ’n swak korttermyn proposisie is
HSBC se voorgestelde oorname van Nedbank gaan nie net die vorm van die SA bankwese verander nie, maar gaan ’n beduidende uitwerking op die ekonomiese toekoms van Afrika hê. Dié bank sien die potensiële langtermynwaarde in ’n sektor waar private en institusionele beleggers op ’n tekort aan korttermynverdienste-sigbaarheid fokus.
Op mediumtermyn is inkomstegroei vir plaaslike banke hoogstens gedemp. Terselfdertyd sukkel banke om hul koste in bedwang te hou. Volgens een ontleder het banke die slagoffers van hul eie sukses geword omdat hulle vinnig gegroei het en al hoe meer kliënte na laerkostekanale verskuif het, maar nagelaat het om genoeg aandag aan uitgawes te gee.
“Dis alles goed en wel om goedkoper kanale aan te bied,” sê Chris Steward, ’n ontleder van Investec Asset Management. “As jy vir iemand ’n elektroniese transaksie teen ’n breukdeel van die prys van dieselfde transaksie deur jou taknetwerk aanbied, moet jy ’n ooreenstemmende kostebesparing hê.”
Tracy Brodziak, ’n bankontleder van Omigsa, stem saam dat daar ’n tendens is om kliënte na goedkoper kanale te verskuif en dat banke hul struktuur moet bekyk om maniere te kry om koste te verhaal, insluitend die moont-likheid om die aantal takke te verfyn. Maar dit is ’n politiek netelige kwessie wat banke die hoof moet bied. Sy is egter optimisties dat banke die ergste deel van die slegte-skuldsiklus agter die rug het en dat verbruikers meer begin leen teen groter winsmarges vir die banke.
Maar dit is moeilik om ’n wins te maak. Standard Bank is in die eerste ses maande aangehelp deur ’n ommeswaai in slegte skuld nadat hy 12 maande gelede aggressiewe voorsiening daarvoor gemaak het en daar by Liberty ’n ommeswaai van meer as R1 miljard was – maar sy kernbanksake het met 10% afgeneem. Nedbank se verdienste was stabiel en Absa het ’n marginale toename in verdienste behaal.
Die uitdagings vir SA banke is nie uniek nie. Wêreldwyd het die bankwese oor die afgelope twee dekades verander – soos Niall Fergusson dit in The ascent of money stel: “Voorheen het bankwese gegaan oor verhoudings en die vertroue wat daardeur opgebou is – ná die 1980’s het die bankwese meer en meer oor transaksies gegaan – koop hoog en verkoop laag. Dit gaan alles oor volume, volume, volume. Hoeveel bankkliënte het ’n verhouding met hul takbestuurder? Nie veel nie, lyk dit my.”
Deur kliënte uit die tak weg te neem, het die dinamiek tussen kliënt en bank verander. Sim Tshabalala, uitvoerende hoof van Standard Bank van SA, maan teen te veel klem op die belangrikheid van die veranderinge in die dinamiek.
“Ons hanteer meer kliënte, en dié toename in volume lei tot skaalbesparings, wat meer takpersoneellede beskikbaar stel om verkope en kruisverkope aan kliënte te hanteer,” sê hy.
Histories was die groei in kleinhandelbanke se inkomste uit gelde en kommissie tussen 10% en 15%, maar vandag is dit waarskynlik tussen 4% en 7%, terwyl die meer beperkte prysbepalingsmag en laer volumes inkomstegroei benadeel en ’n trae ekonomie help nie. Nierente-inkomste maak ongeveer die helfte van banke se inkomste uit, en die meeste daarvan kom van gelde en kommissie, wat impliseer dat ongeveer 30% van die inkomste onder druk verkeer.
Michael Jordaan, ENB se uitvoerende hoof, stem in beginsel saam, maar sê die nuwe tegnologie lei daartoe dat banke aansienlik meer kliënte kan hanteer as voorheen.
“Ons bemerk ’n keerpunt in die beweging van duur gewone transaksies na elektroniese kanale,” sê Jordaan. “Ons selfoonbanktransaksievolumes is nou veelvoude van ons tjekvolumes, en daar is meer debietkaarte as kredietkaarte. Ons hou daarvan omdat elektroniese kanale baie beter as fisieke kanale skaleer.”
Koste-tot-inkomste-verhoudings gaan waarskynlik verswak voordat hulle sal verbeter as gevolg van die kleiner opbrengste op kapitaal, swak vraag na krediet, bedrukte transaksievlakke, deurlopende druk op marges en toenemend moeilike plaaslike en internasionale reguleringskwessies wat die koste van administrasie waarskynlik sal verhoog. Absa het byvoorbeeld ’n toename van 46% in kontanthanteringskoste tot R335 miljoen gemeld vir die ses maande tot einde Junie. ’n Deel daarvan is die koste van sekuriteit vir voertuie om kontant na en van banke en korporatiewe kliënte te vervoer, plus die koste daarvan om kontant in veilige depots te hou. En die ergste kom dalk nog wat afnames in verrykingsinkomste betref. Jordaan het verlede week op die sosiale netwerk Twitter ’n koersverlaging in September voorspel as gevolg van teleurstellende BBP-syfers van 3,2%. Nog ’n koersverlaging sal banke op kort termyn negatief raak. Nedbank het in sy jongste resultate gemeld dat elke koersverlaging van 0,50 persentasiepunte lei tot ’n verlies aan rente van ongeveer R600 miljoen per jaar.