Meer as net ’n paar beleggers beskou platinum al lank as die “verstekopsie” vir ’n belegging in plaaslike mynaandele. Ons stem nie saam nie. Trouens, ons meen selfs dat dit in party gevalle – vir eers – die beste sou wees om dié edelmetaal in die grond te hou.
Die gaan op die oomblik nie goed met die wêreldvraag na platinum en die prys daarvan nie. Met die aandeelpryse van die SA platinumprodusente gaan dit nog slegter. Die meeste is al geruime tyd laer as hul 200-dae- bewegende gemiddeldes. Volgens tegniese ontleders is dit ’n seker teken dat die mark hom in ’n daalfase bevind. Die vroeëre glansbedryf van SA, en ons land se belangrikste verdiener van buitelandse valuta, lyk tans baie dof. Onthou, SA het in werklikheid reeds sy goudbedryf verloor.
Die kern van die onsekerheid oor en verswakking in die platinummark is die motorbedryf. Hy herstruktureer homself om palladium, platinum, diesel of petrol of selfs elektries aangedrewe voertuie soos General Motors se Volt, wat die afgelope jaar motor van die jaar was.
Die eerste grafiek vertel ’n uiters belangrike storie aan beleggers in die aandele van platinumprodusente. Die eerste wawiel in die grafiek toon dat daar tans jaarliks wêreldwyd sowat 77 miljoen voertuie gebou word. Ongeveer 75% van die voertuie is petrolaangedrewe. Ligte voertuie met die-selenjins maak sowat 20% van die totaal uit. Die res is swaar voertuie.
Die tweede wawiel toon dat ligte dieselaangedrewe voertuie verantwoordelik is vir byna 75% van die sowat 3 miljoen onse platinum wat jaarliks deur die motorbedryf gebruik word.
Ligte dieselvoertuie is duidelik die redding, die heil, van die platinumbedryf. Die tweede (staaf-) grafiek toon dat Europa die produksie en gebruik van ligte dieselvoertuie heeltemal oorheers. Trouens, jy het byna ’n vergrootglas nodig om se sien hoe onbelangrik Amerika en ook Japan is in die produksie van ligte dieselaangedrewe voertuie.
Dit gaan op die oomblik glad nie goed in Europa nie, al blom die Duitse ekonomie. Die produksie van ligte dieselaangedrewe voertuie het vanjaar beduidend afgeplat. Voorlopig moet die belegger kyk na die verhaal van 2009, toe daar in Europa – en daarom ook in die wêreld – beduidend minder dieselvoertuie geproduseer is. Dit op sy eie het ’n oorskot van ongeveer ’n miljoen onse platinum veroorsaak. In 2010 het dit verbeter, maar daar word geskat dat die bedryf afstuur op ’n oorskot van byna 2 miljoen onse vir 2011-’12.
Oor die afgelope twee jaar het die Amerikaners ’n nuwe liefdesverhouding met palladium ontwikkel wat net so doeltreffend is soos platinum as katalisator. Japan en die meeste ander motorvervaardigers in die Ooste verkies al lank die goedkoper palladium bo platinum. Dit is basies Europa en sy mikrodiesels wat nou ook so volop in SA raak wat werklik baie platinum gebruik (het) en ons so windgat oor die bedryf laat voel het. Sonder nuwe voorspoed uit Europa lyk die vraag uit hierdie bron maar ’n bietjie skraal.
’n Platinumring, veral as dit nog versier is met ’n mooi diamant, trek veel meer aandag as goud. Vanweë die juwelierseien-skappe van platinum is sy prys baie nou gekoppel aan dié van goud, en dit is nie altyd ’n goeie ding nie. Die voortgesette onsekerheid oor die wêreld se geldstelsel maak dat spekulante die goudprys nou al opgedruk het tot meer as $1 600 per ons, en platinum loop maar saam. Dit maak platinum relatief tot palladium dikwels te duur, en as ’n vervaardiger of gebruiker van platinum eers omgeskakel het na palladium, is ’n aansienlike aanpassing aan die relatiewe pryse nodig om die oorspronklike liefdesverhouding te herstel.
’n Beursverhandelde fonds (ETF) is dikwels ’n groot euwel, maar soms ook ’n redding. Die doel van ’n ETF is om dit vir die belegger maklik te maak om in ’n edelmetaal soos goud of platinum te belê. Pleks van om ’n Krugerrand te koop as jy in goud glo, kan ’n belegger byvoorbeeld ewe veilig Absa se ETF met die JSE-kode GLD koop. Absa en sy toesighouer maak seker dat daar te alle tye presies net soveel fisieke goud in veilige bewaring gehou word as die hoeveelheid papier-ETF’s wat hy uitreik. Vir ’n belegger hou dit die voordeel in dat hy nie onnodig goue munte in die huis hoef te laat rondlê nie.
Die huidige markwaarde van die GLD-ETF is reeds meer as R17 miljard. Dit is meer as die markwaarde van al Satrix se ETF’s saam. Dit bevestig net hoe gewild sulke instrumente by beleggers is. Die markwaarde van die goud-ETF GLD wat op Wall Street verhandel, is tans $63 miljard, heelwat minder as die $92 miljard van die Spider. Dít is die ETF op Wall Street se S&P 500, of anders gestel, die aan-delemark se 500 grootste ondernemings gemeet aan markkapitalisasie.
Die afgelope twee jaar reeds moes die onder-skrywers van die verskillende genoteerde palla-dium-ETF’s reeds meer palladium (gemeet in onse) koop as die onderskrywers van platinumfondse. Dit kan ’n hele klomp gevaarklokkies laat lui. Die gesaghebbende GFMS se jongste oorsig oor die mark vir platinum en palladium skets ’n duidelik optimistieser prentjie vir laasgenoemde metaal. Sou die beleggers in die onderskeie ETF’s byvoorbeeld besluit om van platinum na palladium om te skakel of bloot hul nuwe beleggings in platinum verder af te skaal, kan die vraag-en-aanbodvergelyking van platinum verder verswak.
Die totale besit deur die onderskeie ETF’s in platinum en palladium is tans ongeveer 3 500 000 onse elk. Dit is minder as 50% van die jaarlikse produksie, maar die gevaar van selfs ’n klein, nuwe aanbod van 500 000 onse vanuit die bron pleks van die tradisionele oppotting, kan die mark lelik omvergooi.
Die tabel hierby van die beweging in die voorraad platinum en palladium oor die afgelope twee jaar wys dat 2009 se palladiumoorskot van 507 000 onse reeds omgeswaai het na ’n tekort van 784 000 onse in 2010. Die platinumoorskot, wat afgeneem het van 1 157 000 onse in 2009 tot 412 000 in 2010, lyk ’n bietjie onrusbarend. Daar is waarnemers wat meen dat die oorskot vanjaar weer meer as ’n miljoen onse gaan wees. Oorskotte word uiteraard jaarliks oorgedra totdat dit te veel word en dan lyk die vooruitsigte vir die sektor beslis sleg.
Die samestelling en onafhanklikheid van die onderskei platinumprodusente maak dit tans uiters onwaarskynlik dat daar ’n betekenisvolle afname in die produksie sal wees. Leon Esterhuizen van RBC Capital Market het reeds ’n paar weke gelede byna konsternasie veroorsaak met sy opmerking dat die oorwegend bemagtigde platinumprodusente in die oostelike dele van die Bosveld ’n fout gemaak het deur in die afgelope paar jaar so aggressief toe te tree.
Volgens hom maak nie een van die myne tans ’n wins nie, maar hulle kan ook nie juis waag om produksie te staak nie. Vir die grotes, Impala Platinum en Anglo American Platinum, is dit nie maklik om minder te produseer nie. Die kleinste van hul skagte produseer waarskynlik reeds meer as 250 000 onse per jaar. Om so ’n skag te sluit, selfs tydelik, veroorsaak aansienlike ontwrigting en kan arbeidsonrus in die hele mynbougroep skep.
Platinumaandele tans nie ’n goeie belegging nie
Die indeks van platinumaandele op die JSE is tans op 66 000, teenoor byvoorbeeld goud se 2 585 en die banke se 39 283. Net voordat jy begin klippe gooi: In Maart 2007 het die JSE drie nulle afgekap van die platinumindeks omdat dit toe gestyg het tot meer as 100 000 en te groot kon raak vir hul rekenaars. Onlangs is daar ook drie nulle afgesny by die drank- (SABMiller) en media- (Naspers) indekse. Vir die jonger lesers wat nie die ou Rand Daily Mail- indeks waarmee ons in 1960 gewerk het, onthou nie, net dié klein stukkie algemene inligting: Al die indekse op die JSE, behalwe dié wat nou drie nulle verloor het, is iewers vroeg in 1960 gelykgestel aan 100.
Die huidige vlak van byvoorbeeld platinum teruggewerk na 66 000 teenoor goud se 2 585 vertel duidelik dat die aandele van platinumprodusente oor die afgelope 50 jaar (dit is sedert 1960) astronomies beter beleggings was as goud. Dit is steeds baie goed, maar nou begin dit duidelik word dat ’n paar dinge vashaak. Bygaande grafieke van die twee grotes, Anglo American Platinum en Impala Platinum, saam met hul 200-dae- bewegende gemiddeldes, vertel baie duidelik dat sake in die sektor al hier van 2009 af begin skeefloop het. Beleggers sien dit nie altyd gou raak nie, want daar is nog sulke enorme winste op die kooppryse van 10 jaar gelede waarop hulle teer. Dit is waarom dit soms help om net te kyk na die grafieke – hulle vertel gewoonlik ’n lang storie in ’n paar reëltjies.
In tabel 4 en 5 het ons die wel en wee van die huidige groter of sogenaamde senior genoteerde platinummyne op die JSE probeer uitlig. Die eerste tabel toon dat baie van die myne, byvoorbeeld Aquarius en Impala, nog ’n goeie beleggingsaanslag by ontleders kry. Byvoorbeeld: 2,2 op die skaal van 1 = perfekte koopgeleentheid en 5 = verpligte verkoop, is nog glad nie sleg nie. Sien ook verlede week se Finweek, waarin die handige gebruik van die konsensusmenings vir beleggers bespreek word.
Die verhaal in kolom twee en drie van die tabel 5 is egter baie lelik. Die beste opbrengs op eie kapitaal wat die platinummyne tans behaal, is die 11,4% per jaar van Amplats. Dit is nie goed nie en is nie genoeg om langtermyngroei te verseker nie. Verskeie nywerheidsondernemings in SA, veral die kleinhandelaars, behaal 25% of meer.
Die laaste kolom vertel dat die beste dividendopbrengs wat uit platinummyne verdien kan word, maar in die omgewing van 1% per jaar is. Kortom, waarom wil jy in ’n onderneming belê wat ’n opbrengs van net 10% op kapitaal behaal en ten beste ’n dividend van 1% per jaar betaal? Dit is dan mos veel beter om deur ’n ETF, wat ook geen dividend betaal nie, in die onderliggende metaal te belê.
Dink net hoeveel beter jy die afgelope jaar sou gevaar het. Die prys van platinum ry op die rug van goud, en met hom gaan dit op die oomblik glad nie sleg nie.
Tabel 4 vertel egter dat dit die afgelope jaar beroerd gegaan het met die pryse van die platinumaandele. Kyk gerus na daardie daling van 55% in die aandeelprys van Platmin en die 33% van onderskeidelik Aquarius en Lonmin, en sê dankie vir British American Tobacco, waarvan die aandeelprys vanjaar al met 27% gestyg het.
Die pryse van platinumaandele het oor die afgelope vyf dekades ’n wonderlike lopie gehad en baie nuwe miljoenêrs gemaak. Op die oomblik lyk dit egter of die sektor in ’n lelike gat geval het. Pleks dat die bestuur werk maak van probleme soos produktiwiteit en die wenslikheid om hoegenaamd marginale erts te ontgin, lyk dit of hulle eerder begin myn vir verskonings. Die gerieflikste hiervan is dat die rand te sterk is en dat elektrisiteit te duur is. Nes die land se ou goudmyne lyk dit of die platinummyne ook begin sukkel in ’n omgewing waarin die rand nie jaarliks devalueer nie en waar die prys van elektrisiteit markverwant is.
Jammer aan die groenes. Platinum help die lug skoon hou en BAT se sigarette besoedel dit weer. Die groen kleur van BAT se aandele in my portefeulje is egter nou belangriker as die groot rooi kolle van die platinumaandele.