Share

TOP200 2010 | Verstaan wat aangaan

accreditation
Ons beklemtoon elke jaar dat dit noodsaaklik is dat lesers tyd daaraan wy om die werkwyse te ondersoek wat McGregor BFA volg om verhoudings en prestasiemaatstawwe te bereken.

Om te weet hoe die aanslag bereken word, kan baie nuttig wees om moontlike wenners uit te wys en - wat dalk nog belangriker is - nie deur die teenstrydighede verwar te word wat onvermydelik met só 'n geweldige navorsingsprojek ontstaan nie.

Gelukkig kan ons na ons artikel van Top200 in 2009 terugkyk en nogal trots sê dat die meeste van die handjie vol maatskappye wat deur die jare volgens verskeie kriteria as gereelde "presteerders" uitgewys is, ondanks 'n taamlik onstuimige jaar vir sake aan ons verwagtinge bly voldoen.

Hier kan ons drie werklik onderskatte aandele noem: OneLogix, Pinnacle Holdings (nie Pinnacle Point nie) en African Media Entertainment (AME), wat - teen druktyd - pas 'n taamlik aantreklike spesiale dividend verklaar het.

Ons is nie so kleinlik dat ons nie sal noem dat ons African Dawn - nou 'n veel betreurde kleinkapitalisasieramp - ook deur die jare as 'n gereelde persteerder uitgewys het nie. Sulke goed gebeur... en dit maak nie saak hoeveel berekeninge die hardwerkende mense by McGregor BFA doen nie, dit kan nie potensiële skendings van korporatiewe bestuur uitwys nie.

Wat hier volg - vir lesers se gerief - is 'n kort beskrywing van die belangrikste verhoudings en prestasiemaatstawwe.

Die MCGREGOR BFA-INDEKS VAN FINANSI?E VERHOUDINGS (IFV) is een van ons nuwer tabelle; dit is in 2008 vir die eerste keer gepubliseer. Die IFV is 'n saamgestelde indeks met geweegde gemiddeldes van vyf belangrike finansiële verhoudings (wat reeds in Top200 gebruik word). Die IFV behoort uiteindelik maatskappyprestasie aan te dui deur sowel finansiële prestasie as finansiële posisie in ag te neem.

Die indeks word oor vyf jaar opgestel, wat lesers in staat stel om 'n maatskappy se prestasie deur die jare te vergelyk, asook 'n maatskappy se prestasie op mediumtermyn teenoor dié van sy mededingers.

Die metode wat gebruik word om die indeks op te stel, is om eers die tellers en dan die noemers bymekaar te tel. Wanneer hy die indeks saamstel, gebruik McGregor BFA elke maatskappy se data vir die vyf laaste jare, met 2004 as basisjaar vir die meeste maatskappye. In gevalle waar 2009 se jaarverslag nog nie beskikbaar was nie, sou 2003 as die basisjaar gebruik word, met 2008 die jongste boekjaar.

Die IFV-tabel gradeer maatskappye op grond van die indeks vir die laaste jaar. Dit maak dit moontlik om individuele maatskappye op grond van die veranderinge in die indeks oor vyf jaar te annualiseer - waar mens moet onthou dat die eerste jaar gelyk is aan 100.

'n Gedetailleerder verduideliking van hoe die IFV bereken word, is beskikbaar in ons verslag by die tabel op bl. 14.

Die interne opbrengskoers (IOK) is - ten minste na die mening van die meeste Finweek-skrywers - steeds die middelpunt van ons opname. Die IOK word wyd beskou as die doeltreffendste manier om die "ware" groei van 'n maatskappy te bepaal. Dié maatstaf sluit in wat ons graag die "verdiende opbrengs" (dividende en ander uitkerings) noem, asook die "papieropbrengs" (die styging in die aandeelprys).

Die werklike koers word deur 'n berekening van die verdiskonteerde kontantvloei bepaal. Vyf jaar gelede se aandeelprys (teen einde Desember 2004) word as kontantuitvloei en al die jaarlikse dividende oor die vyf jaar (sowel kontantdividende as dividendbewyse), asook die aandeelprys teen einde Desember 2009 word as kontantinvloei beskou.

Die IOK word dan bereken deur die verdiskonteerde koers te vind wat die huidige waarde van al die dividende en die aandeelprys teen einde Desember 2009 aan die aandeelprys van vyf jaar gelede gelykstel.

Vanselfsprekend word strukturele veranderinge, soos aandeelverdelings of aandeelkonsolidasies, by die berekening in ag geneem.

Vir die ou soort beleggers gee ons steeds heelparty tabelle vir die talle variasies van verdienste.

Die netto wins word vir al ons tabelle as die voorbelaste wins toeskryfbaar aan aandeelhouers gedefinieer.

Die uitgestelde belasting en bedrae na reserwes deurgegee word as teruggehoue wins beskou, maar ons laat items soos die beheerkoste wat afgeskryf is en die eksplorasiebesteding uit die definisie van die netto wins weg.

Buitengewone items (met ander woorde eenmalige winste of verliese) word ook uit die voorbelaste wins, die bedryfswins en die ebitda (die verdienste voor rente, belasting, depresiasie en amortisasie) weggelaat. Dit beteken eenvoudig dat lesers die onderliggende fundamentele faktore van 'n onderneming sonder eenmalige afleidings kan nagaan.

Die opname maak egter vir buitengewone items voorsiening deur 'n afsonderlike afdeling aan dié soms fassinerende voorvalle te wy. Weer dink ons dat lesers dalk verbaas sal wees hoeveel maatskappye 'n groot deel van hul wins uit eenmalige gebeure verdien.

VERDIENSTE PER AANDEEL

Terwyl maatskappyontleding die afgelope dekade verander het (waarskynlik deur op die bedryfskontantvloei te fokus), bly die verdienste per aandeel die verstekmaatstaf om 'n maatskappy se prestasie te bepaal en relatiewe waarde te toets. Beleggers moet deesdae 'n hand vol verdiensteverhoudings - wesensverdienste, basiese verdienste, verwaterde verdienste en kernverdienste - in ag neem.

Terwyl die historiese verdienste gebruik word, word aandeelverdelings en aandeelkonsolidasies vir dié berekeninge in ag geneem.

SOLVENSIEVERHOUDINGS

Beleggers betaal deesdae vir groter aandag aan solvensieverhoudings en hou in dié moeilike tye veral maatskappye se skuldvlak dop.

Die wye skuldberekeninge - rentedraende skuld teenoor algehele bates en rentedraende skuld teenoor aandeelhouersbelang - sal waarskynlik vir lesers wys watter maatskappye dalk onder druk verkeer.

Dié verhoudings word vollediger in die betrokke verslag verduidelik.

In dié opname verwys verwysings na die algehele bates na 'n kombinasie van die vaste bates en die bedryfsbates. Voorraad word egter soms van die bedryfsbates uitgesluit.

Beleggings word volgens die markwaarde (as hulle genoteer is) of die direkteurswaardasie (as hulle ongenoteer is) aangeslaan. Vir ander bates (soos vaste eiendom) word die boekwaarde gebruik.

In die opname word die heraanslag van bates en beleggings geïgnoreer as dié ontwikkeling nie by die maatskappy se balansstaat ingesluit is nie.

Wat die bedryfsbates betref, word kontantsaldo's teruggetel wanneer hulle teen bankoortrekkings verreken word. Net só word belasting wat vooruit betaal is, teen die belasting betaalbaar verreken om met 'n netto bedrag te kan werk.

Die beheerkoste en ontasbaarbare bates (klandisiewaarde, patente, lisensies ensovoorts) word uitgesluit, maar tasbare mynboubates word ingesluit.

Wat belangrik is vir dié wat aandele in die bou- en infrastruktuurbedryf beoordeel, is dat as bedrae wat vir 'n kontrak gehef word, meer is as die kontrak waaraan gewerk word, die verskil by teruggehoue inkomste ingesluit word.

As die ingevorde bedrag uit deposito's bestaan, word die verskil by die krediteure ingesluit. Die voorraad word dan aangepas om die gemiddelde waarde te weerspieël.

Die siening van aandelekapitaal (of aandeelhouerswaarde) is dat dit uit gewone aandelekapitaal, kapitaalreserwes en uitkeerbare reserwes bestaan - wat met dieselfde items as die algehele bates aangepas word.

Voorsienings wat by kredietsaldo's ingesluit word - soos vir waarborge, selfversekering en onderhoud - word by langtermyn-lenings of krediteure ingesluit (wanneer die items as korttermyn-voorsiening beskou word).

Uitgestelde belasting vorm deel van die teruggehoue wins.

Omdat die beheerkoste en ontasbare bates nie by die algehele bates ingesluit word nie, word albei items van die aandelekapitaal afgetrek.

Lesers wat op die JSE na aantreklike opbrengskoerse soek, sal weet dat Top200 se dividendtabel die algehele kontantuitkerings en dividendbewyse (papierdividende) tydens 'n boekjaar insluit.

Die opbrengs op bates (oob) en die opbrengs op ekwiteit (ooe) sal ongetwyfeld ook tabelle wees wat baie bekyk word.

Die oob word bepaal deur die wins voor rente en belasting deur die algehele bates te deel. Die ooe toon die netto wins as 'n persentasie van die ekwiteit.

Die rentedekking is die wins (voor rente, huurgelde en buitengewone items) gedeel deur die algehele rente en finansiële huurgeld wat betaal is. Met verwysing na ons vroeëre opmerking dat lesers maatskappye se skuldvlak deeglik sal dophou, is dit vanselfsprekend dat die rentedekking ook 'n tabel kan wees waarna dié keer meer as net vinnig geloer word.

Die voorraadomset toon hoeveel keer die voorraad (dit is die goedere wat te koop aangebied word) deur 'n jaar vervang word. Vir die vuurproefverhouding word die bedryfsbates (dit is bates wat vinnig te gelde gemaak kan word) gedeel deur die bedryfslaste (skuld wat ingevorder kan word) en dit weerspieël uiteindelik net hoe maklik 'n maatskappy sy skuld kan dek.

Die tabel van die markkapitalisasie is gegrond op die markwaarde van al 'n maatskappy se gewone aandele wat ten volle betaal en uitgereik is. Die berekening is vir die laaste verhandelingsdag van 2009 gedoen.

ONTHOU (ASSEBLIEF)

Ons moet daarop wys dat die syfers wat in die tabelle in Top200 getoon word, van die syfers kan verskil wat in maatskappye se jaarverslag verskyn. Dis eenvoudig omdat McGregor BFA sekere van die syfers in 'n jaarverslag aanpas sodat dit sinvol vergelyk kan word.

Die werklike gepubliseerde syfers van die geouditeerde finansiële state is gestandaardiseer volgens vaste standaardiseringsreëls wat McGregor BFA ontwikkel het. McGregor BFA kry dus 'n bietjie (by gebrek aan 'n beter uitdrukking) "digterlike vryheid" om die syfers aan te pas wat in die jaarverslag gepubliseer is.

Dit kan buitensporig lyk, maar McGregor BFA verseker ons dat dit 'n baie noodsaaklike ingryping is, want die rekeningkundige gebruike wat maatskappye toepas, verskil dikwels. Dit maak dit dan byna onmoontlik om aan maatskappye 'n posisie toe te wys deur hul eie jaarverslag te gebruik.

Nog 'n feit wat in gedagte gehou moet word, is dat die maatskappye wat in ons top-200-tabelle verskyn, baie verskil wat hul bedryfsomgewing betref. Die finansiële state van goudmynmaatskappye verskil byvoorbeeld van alle ander maatskappye. Die struktuur wat McGregor BFA op goudmaatskappye toepas, pas effektief die betekenis van en kwalifikasies vir verhoudings aan sodat dit met dié van ander genoteerde maatskappye vergelyk kan word. Die bepaling van sekere verhoudings vir finansiële maatskappye word ook anders gehanteer.

In die algemeen word groot moeite gedoen om te sorg dat maatstawwe vergelyk kan word. Alle verhoudings en monetêre waardes wat winssyfers insluit, word bereken voordat buitengewone items in berekening gebring word. Dié items sluit vanselfsprekend enige wins en verlies op transaksies in die finansiële markte in. Vir finansiële (belegging-) maatskappye word dié transaksies as "die normale gang van sake" verreken, maar by alle ander maatskappye as buitengewoon uitgesluit.

Omdat banke nie werklik (in die streng sin van die woord) 'n "omset" het nie, word die algehele bedrag rente wat ontvang is, saam met kommissieverdienste, valutaruilverdienste en ander verdienste van gelde in die tabelle gebruik.

Marc Hasenfuss

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Rand - Dollar
19.29
-0.7%
Rand - Pound
23.87
-1.1%
Rand - Euro
20.58
-1.2%
Rand - Aus dollar
12.38
-1.1%
Rand - Yen
0.12
-1.2%
Platinum
943.50
+0.0%
Palladium
1,034.50
-0.1%
Gold
2,391.84
+0.0%
Silver
28.68
+0.0%
Brent Crude
87.29
+0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Company Snapshot
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE
Government tenders

Find public sector tender opportunities in South Africa here.

Government tenders
This portal provides access to information on all tenders made by all public sector organisations in all spheres of government.
Browse tenders